Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Willem Boshoff help om kwessies oor mededingingsbeleid en anti-mededinging aan te pak
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 14/10/2022

Prof Willem Boshoff, Mededirekteur van die Sentrum vir Mededingingsreg en Ekonomie in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, het onlangs sy intreerede gelewer met die titel “Nie by die resiesbaan nie: Mededinging en mededingingsbeleid in Suid-Afrika". Boshoff het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy navorsing help om probleme met mededingingsbeleid en anti-mededingingskwessies in Suid-Afrika aan te pak.

Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.

My navorsing fokus op die ekonomiese aspekte van mededinging en mededingingsbeleid. Ek bestudeer die aard van mededinging tussen maatskappye, insluitende hoe om mededinging te meet, asook die impak van die afwesigheid of verswakking van mededinging op pryse en ander markuitkomste.

Ek het by die veld betrokke geraak toe ek as ʼn jong navorser op soek was na besigheidstoepassings van ekonomie. Prof Nicola Theron, tans ereprofessor in die Departement Ekonomie, het my by een van haar konsultasieprojekte betrek en dit het my belangstelling in die veld geprikkel.

Hoe sou jy die toepaslikheid van jou werk beskryf?

Prakties gesproke is dit baie toepaslik en relevant. My navorsing steun swaar op my betrokkenheid by ʼn reeks mededingingsake en ander regulatoriese kwessies in Suid-Afrika en die resultate van my navorsing hou implikasies vir die bestuur van mededingingsbeleid in.

Kan jy ons meer vertel oor die impak van jou navorsing?

Ek het al dikwels staatgemaak op my navorsing in die private sektor, wat gereeld litigasie behels het. Talle van my navorsingstudente, ook etlike PhD-gegradueerdes, het loopbane as mededingingsekonome in Suid-Afrika. My werk is ook in hofsake aangehaal.

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Ek geniet veral die interaksie tussen die akademiese wêreld en die private sektor. Die kruisbestuiwing is in my geval betekenisvol. Ek geniet dit ook baie om die ekonomie te laat “lewe" deur mense te help om moeilike probleme te deurdink.

Die pandemie het die manier verander waarop ons lewe en werk. Wat het jou in hierdie tye gemotiveer gehou?

Ek het ʼn wonderlike vrou as my rots (en nou twee pragtige dogters). Die harde inperkings is aan die begin van die pandemie ingestel voor ons ons kinders gehad het en ek veronderstel ons het dit heel “maklik" gehad. Maar ek het steeds my oefenprogram volgehou en meer tyd aan lees bestee, wat ons opgebeur het. Dit help ook om op een van die mooiste plekke op aarde, Stellenbosch, te bly.

Veretel ons iets opwindends oor jouself wat ander mense nie sal verwag nie.

Ek is ʼn absolute Hellenofiel ('n liefhebber van Griekeland en/of die Griekse kultuur) en was die afgelope 15 jaar al tien keer in Griekeland.

Hoe bestee jy jou vrye tyd weg van lesings en navorsing?

Deesdae veral saam met my gesin (ons het baie jong kinders en ʼn boerboel!) en ons twee stelle ouers. Maar ons hou ook van reis en probeer elke nou en dan vir ʼn naweek wegkom.