Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs ’n trilaterale PASD-ontwikkelingsprogram aangebied.
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 11/10/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs 'n trilaterale PASD-ontwikkelingsprogram aangebied. Die geleentheid, die eerste van sy soort, het aandag geskenk aan die beroepsontwikkeling en voortgesette onderrig van professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel, die aanleer van nuwe vaardighede, sowel as internasionale blootstelling.Die program is 'n gesamentlike inisiatief van die Universiteit Stellenbosch (US), Northwestern-universiteit (Verenigde State) en die Universiteit van Hamburg (Duitsland).

Die tema van die vier dae lange program (4-7 Oktober 2022) was “Inklusiewe internasionale vaardighede", en deelnemers het oor die onderwerpe van interkulturele vaardighede en insluiting gesels. Bestepraktykvoorbeelde van die Universiteit Stellenbosch is boonop in die loop van die geleentheid aangebied en bespreek. Deelnemers het bestaan uit personeellede uit die fakulteits- en sentrale administratiewe kantore van die drie vennootinstellings wat daagliks oor kultuurgrense heen moet werk.

 Robert Kotze, senior direkteur van US Internasionaal, het 'n aanbieding gelewer oor wat dit verg om 'n internasionaliseringspraktisyn te wees. Hy het drie kenmerke uitgelig wat hy reken praktisyns nodig het.

 “Die eerste is die veelvuldige of verskillende rolle wat jy in jou pos moet vervul. Daar is 'n rol vir elke tipe situasie. Die tweede is die waarde wat jy in die werkplek skep: Wat baat dit mense om met jou saam te werk? Wat doen jy anders as ander? Wat kan jy doen om ander te help presteer? Waarom kom mense na jóú toe vir hulp? En, belangriker nog, hoe stel mense jou aan ander voor? Dít verklap dikwels baie oor hoe ander jou bydrae in die werkplek beskou. Die derde kenmerk is die hoeveelheid empatie wat jy toon. Diegene met empatie het deernis met ander en besondere insig in die menslike natuur, wat hulle in staat stel om 'n emosionele band met ander te hê. Die vermoë om empatie te toon stel jou in staat om uitsonderlike diens te lewer en opreg op ander te reageer."

 Kotze het ook die volgende oor die rol van die internasionaliseringspraktisyn te sê gehad.

 “Jy moet verstaan wat internasionalisering van die hoër onderwys beteken. Jy moet hetsy jou eie idee hê of die universiteit se siening onderskryf. En dan moet jy ook vra waarom ons moet internasionaliseer. Waarom moet ons, in hierdie kantoor, ook daartoe bydra? Daarbenewens moet jy die universiteit se groter visie en missie in gedagte hou, want internasionalisering kan nie daarvan geskei word nie. Laastens moet jy vra hoe jy 'n ingesteldheid by die universiteit kan help bou wat mense voortdurend aan internasionalisering laat dink."

 Werner de Wit, programbestuurder van Korttermynmobiliteit by US Internasionaal, het 'n werksessie oor interkulturele vaardighede aangebied waarin hy onder meer die definisies van kultuur, die ysbergteorie, die rol van kultuur, die model van kulturele dimensie sowel as kulturele identiteite bespreek het.

 Die sessie het deelnemers toegerus om kultuur binne konteks te verstaan, hulle eie kulturele waardes te ontdek, en te begryp hoe kultuur hulle identiteite vorm.

 Die US-deelnemer Yeki Mosomothane, 'n koördineerder van multikulturele skakeling in die Sentrum vir Studentestrukture en -gemeenskappe, werk daagliks met studente, personeellede en kulturele vaardighede, en wou dus graag die program bywoon.

 “Vir my was dit 'n geleentheid om met kollegas van die US te skakel, maar ook om nuwe bande en netwerke met kollegas van ander wêrelddele te bou en uit te vind hoe húlle kwessies van interkulturele vaardighede, sosiale geregtigheid en insluiting hanteer.

 “Nou is ek oorgehaal om te verken hoe ek, as 'n verteenwoordiger van die Sentrum vir Studentestrukture en -gemeenskappe, 'n internasionaliseringsambassadeur kan word, hoe ek kan sorg dat studente hulleself as internasionaliseringsagente beskou, en hoe ons internasionalisering doelbewus kan bevorder."

 Janka Pieper is senior direkteur van Kommunikasie en Interkulturele Leer in die Kantoor vir Internasionale Betrekkinge aan Northwestern-universiteit. Haar werk behels onder meer om werksessies te reël vir personeellede, internasionale studente en navorsingsgenote wat met oorsese kollegas saamwerk, om kultuurverskille in hulle eie werkplek, maar ook in die wêreldwye universiteitswerkplek te hanteer.

Sy sê die program het haar eerstehandse ervaring van die kultuurverskille in Suid-Afrika én groter insig in ander mense se sienings van internasionalisering gebied.

 “Wat internasionalisering betref, is dit baie belangrik om bewus te wees van kultuurverskille, en om dit beter te verstaan. Ek wou ook graag uitvind of ons, as 'n trilaterale vennootskap, op 'n manier kan saamwerk aan 'n projek oor interkulturele vaardighede. Ek glo as ons elkeen verskillende sienings uit ons eie kulture na 'n tipe gemeenskaplike omgewing bring, kan 'n mens veel meer daaruit leer."

 Op haar beurt wou Tanja Bleck, 'n bibliotekaris by die Universiteit van Hamburg, graag aan die geleentheid deelneem om nie net meer oor internasionalisering te leer nie, maar ook oor diversiteit en insluiting by die US.

 “Dít is 'n gebied waarin ek heelwat belang stel, so ek wou weet wat Stellenbosch doen en dit met ons aktiwiteite by Hamburg vergelyk. Iets wat my veral getref het, is dat almal met wie ek gesels het besonder passievol is oor wat hulle doen, ongeag op watter terrein hulle werk, en dit het my werklik geïnspireer."

 Die volgende twee aflewerings van die trilaterale PASD-ontwikkelingsprogram sal deur onderskeidelik Northwestern-universiteit (2023) en die Universiteit van Hamburg (2024) aangebied word.