Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesondheidsorg in Suid-Afrika sal baat vind by tegnologie
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 10/10/2022

Suid-Afrika was stadig om van tegnologie gebruik te maak om met mediese sorg te help – tot nadeel van die pasiënt.

Dit is volgens dr Nadiya Ahmed, ʼn algemene chirurg en intensiewe sorg-spesialis aan die Tygerberg-hospitaal (TBH) en die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Sy het ʼn spiespunt-lesing gelewer, met die titel 'Robodoc – neem die intensiewe sorgeenheid na jou toe', by die FGGW se 66ste Akademiese Jaardag.

Dit is noodsaaklik dat die regering ondersteuning bied met die gebruik van tegnologie vir mediese sorg, maar dit is ongelukkig nie die geval in Suid-Afrika nie, het Ahmed gesê. Sy is betrokke by verskeie opvoedkundige aktiwiteite by die TBH en FGGW.

“Daar is ʼn algemene gebrek in ondersteuning van die regering asook private gesondheidsorginstansies, en ons was stadig om van tegnologie gebruik te maak," het Ahmed gesê, maar sy het ook bygevoeg dat die Covid-19-pandemie ons geleer het om die gebruik van tegnologie in ons werk aan te neem.

Sy het die strak realiteite van gesondheidsorg in Suid-Afrika uitgewys, en genoem dat sowat 48 miljoen Suid-Afrikaners afhanklik is van die openbare gesondheidsorgsektor – maar hulle het net toegang tot 396 akute hospitale. “Slegs 91 van hierdie hospitale kan enige vorm van kritieke sorg lewer, soos intensiewe sorgeenheid (ISE) of hoë-sorg beddens."

Sy het bygevoeg dat daar slegs sowat 90 praktiserende intensiewe sorg-spesialiste in Suid-Afrika is. Daar is ook baie ongelykheid in die toegang tot sorg, en die meer stedelike provinsies het heelwat meer ISE beddens.

“Ons weet dat die sorg wat binne die eerste agt uur van ʼn kritieke toestand toegedien word al die verskil maak."

As pasiënte noodsorg benodig en na die ISE moet gaan, moet noodeenheid-dokters (wat moontlik nie die nodige ervaring het nie) na die pasiënte omsien. Hierdie dokters sal daarby baat om deur middel van tegnologie met meer ervare dokters te kan konsulteer, het sy gesê.

Volgens Ahmed was die gebruik van tegnologie in geneeskunde in Suid-Afrika baie swak voor 2020. Vroeg in die 2000s het die Nasionale Gesondheidsdepartement ʼn mandaat daargestel wat te kenne gee aan die behoefte vir telegeneeskunde, en ʼn 10-jaar lange proef gedoen het in primêre- en voorgeboorte sorg, maar nie veel het daarvan gekom nie, het sy gesê.

“Ander instansies het ook besluit om tele-opvoeding te implementeer en ʼn proefprojek was vroeg in 2000 in KwaZulu-Natal van stapel gestuur – dit het belowend gelyk totdat daar kwessies ontstaan het. Ander inisiatiewe sluit ʼn toepassing in wat deur US-graduandi ontwikkel is, EM Guidance, wat gehelp het met die sortering en bestuur van pasiënte, en dosering in die noodeenheid. Later het die Vula-toepassing baie tyd bespaar vir oftalmologie-pasiënte wat behandeling op primêre gesondheidsorgvlak kon ontvang in plaas daarvan om oorgeplaas te word na tersiêre vlak vir ʼn diagnose wat plaaslik behandel kon word."

Sedertdien word die Vula-toepassing gebruik om vyfde jaar mediese studente by te staan wat by hospitale op die periferie werk, en hulle in staat stel om met spesialis-mentors by die TBH te skakel. “Dit het ʼn heel nuwe koppelvlak vir gedesentraliseerde onderrig daargestel, veral met die groot hoeveelheid mediese studente wat nou deurkom."

Volgens Ahmed het meer en meer verenigings met broodnodige nasionale onderrigprogramme begin soos wat hulle meer selfvertroue bou met virtuele skakeling. “Ek help met kritieke sorg-opleiding by die Universiteit van die Vrystaat aangesien hulle tans nie ʼn intensiewe sorg-spesialis het nie."

Die Suid-Afrikaanse Kolleges van Geneeskunde – die nasionale liggaam wat alle eksamens oorsien – het ook begin om virtuele eksamens aan te bied.

“Maar dit help geensins die noodeenheid-dokter wat vir iemand wag om die foon te antwoord nie. Baie van ons noodeenheid-dokters is eintlik nuut gekwalifiseerde junior dokters of interns wat aan die diepkant ingegooi word, en hulle het nie die vertroue in hulle vaardighede om te besluit wie kritieke sorg benodig, en wie nie.

“Ons het hulle gevra wat hulle dink van telegeneeskunde intervensies, en hulle response wat oorweldigend positief, met baie wat sê dat hulle telegeneeskunde intervensies benodig met intensiewe sorg-spesialiste – vir beide sortering en ventilasie – asook met mediese etiekkenners om belangrike besluite te kan maak."

Die dryfveer agter die gebruik van meer tegnologie in geneeskunde is dat “ons die meeste uit ons werksmag wil kry. Ons wil daardie een intensiewe sorgspesialis by soveel hospitale as moontlik kry, en dit is nie altyd fisiese moontlik nie. Die idee is dat telegeneeskunde ons daarmee moet help."

Ahmed sluit af: “Ons moet die regering en die private sektor vra om die infrastruktuur vir tegnologie daar te stel om spoedig die gesondheidsorg in ons land te verbeter, liewer as om te wag vir groot hoeveelhede dokters om hier aan te kom of opgelei te word."


Onderskrif: Dr Nadiya Ahmed