Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch verleng sluitingsdatum vir befondsingsaansoeke tot 30 November 2022
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 07/10/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings (SVBL) het die sluitingsdatum vir 2023 Universiteit Stellenbosch-befondsingsaansoeke tot 30 November 2022 verleng sodat meer studente die geleentheid het om vir finansiële ondersteuning aansoek te doen.

Aansoeke vir US-befondsing het op 1 Julie 2022 geopen en sal nou op 30 November 2022 sluit.

"Deur die sluitingsdatum te verleng, gee ons aan meer studente die geleentheid om aansoek te doen vir befondsing, veral studente uit die kategorie wat as die “vermiste middel" (missing middle) bekend staan (bruto huishoudelike inkomste tussen R350 000 en R600 000 per jaar)," verduidelik SVBL-adjunkdirekteur Gerard Paris.​

US befondsing

'n Beurs kan 'n universiteitsopleiding bekostigbaar maak. Huidige en voornemende voorgraadse studente kwalifiseer vir US finansiële ondersteuning op grond van twee hoofkriteria: finansiële behoefte en akademiese meriete. Studente wat finansiële ondersteuning ontvang, kry dit in direkte verhouding tot die omvang van hul finansiële behoefte ongeag ras en geslag. Finansiële behoefte word bepaal deur die inligting wat die student indien rakende sy of haar finansiële omstandighede en word deur 'n derde party geverifieer.

E-aansoek proses

Die US het 'n nuwe aanlyn-aansoekproses en studentetoegang tot die nuwe veilige, eksterne webwerf word verkry deur hul unieke agt-syfer US# (studentenommer) en wagwoord te gebruik. SVBL beveel sterk aan dat studente eers die hoe-om-aansoek-te-doen instruksies deeglik deurlees en die vereiste ondersteuningsdokumente gereed kry, voordat hulle deur die my.sun-portaal aansoek doen. Die aanlynvorm neem sowat twintig minute om te voltooi.

Alle voornemende en huidige voorgraadse studente word aangemoedig om aansoek te doen – of om heraansoek te doen. Op hierdie manier word hulle geregistreer op die SVBL-databasis vir 2023-befondsingstoekennings en is hulle inligting daar indien hul finansiële omstandighede onverwags sou verander.

Vir enige navrae oor befondsingaansoeke kontak asseblief die US se kliëntediensnommer by 021 808 9111 of besoek https://finaid.sun.ac.za/ 

 

Vir medianavrae

Petro Mostert

petromostert@sun.ac.za