Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-student se skepping gekies as een van top drie oplossings vir wêrelduitdagings
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 30/09/2022
ʼn Digitale toepassing wat deur ʼn ingenieurstudent van die Universiteit Stellenbosch (US) ontwerp is en inligting oor waterinstandhoudingstelsels verskaf, het die derde plek behaal op ʼn onlangse internasionale byeenkoms in New York waar meer as 250 jong leiers van 61 lande oplossings vir volhoubare ontwikkeling voorgelê het.

Stanley Chindikani Msiska, ʼn PhD-student aan die US se Fakulteit Ingenieurswese, het trots en opgewonde teruggekeer van Camp 2030 – ʼn projek van Unite 2030, ʼn globale jeuggemeenskap sonder winsbejag wat daarna streef om die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) teen die jaar 2030 te bereik.

Unite 2030 reken jong mense kan daarin slaag om hierdie SDG's te bereik, veral wat die globale uitdagings van armoede, ongelykheid, ongeregtigheid, klimaatsverandering en water en sanitasie betref.

“Ek voel heeltemal oorweldig dat die beoordelaars my innovasie as een van die wenoplossings gekies het. Hierdie is die nuus waarvoor ek baie hard gewerk en gehoop het," het Msiska oor sy prestasie gesê. “Ek dank God selfs meer, want hierdie is die soort sukses wat die lewe gaan verander van miljoene mense wat in wanhoop en lyding leef."

Msiska en Stefani Terblanche, ʼn BA-student in internasionale studies, het die US by hierdie globale geleentheid verteenwoordig. Die afgevaardigdes is in 36 gemengde groepe ingedeel wat op verskillende SDG-uitdagings gefokus het.

Msiska se groep het opgekom met die webwerftoepassing, bekend as Maji, as ʼn oplossing vir die SDG oor water en sanitasie. “Maji" beteken water in Tumbuka, ʼn taal wat in Noord-Malawi gepraat word. Die toepassing maak deel uit van sy nagraadse ingenieurstudies oor bestaande watergehalte-onderhouduitdagings in Malawi, sy geboorteland. Hy is ook ʼn lektor in chemiese ingenieurswese aan die Malawi-Universiteit van Tegnologie en Wetenskappe.

Maji is ʼn digitale platform wat onderhoudsdienste en inligting oor watergehalte in watertoevoerstelsels in veral ontwikkelende lande verskaf. Die proses het begin toe Maji in Lilongwe, die hoofstad van Malawi, in werking gestel is.

Msiska se spanlede was Ashley Wunsch (Kanada), Felipe Contreras (Mexiko), Muskaan Waraich (Kanada) en Inbar Erez (Israel). Die span en Unite 2030 gaan Msiska ondersteun  terwyl die innovasie geïmplementeer word. “Wat my fassineer, is mense en instellings se opgewondenheid oor die innovasie en hul steun vir die inwerkingstelling daarvan," het Msiska gesê.

Hy wou nie veel besonderhede oor Maji se werking uitlap nie, omdat die patent nog nie geregistreer is nie. Hy het wel onthul dat die Maji-webtoepassing op slimfone en rekenaars sal werk – en selfs deur middel van teksboodskappe as internettoegang nie beskikbaar is nie.  

Msiska het gesê die nuwe toepassing sal ook die uitdaging van werkloosheid die hoof bied. “Die digitale platform sal werk skep, omdat gemeenskapslede in diens geneem sal word om data oor water en stelsels in te samel.

“Ek gaan nou aktief by belanghebbers betrokke wees om Maji in werking te stel," het hy bygevoeg dn vra vir nog ondersteuning omdat die implementering baie hulpbronne gaan vereis. 

Terblanche was ook oorstelp oor haar “wonderlike ervaring" by Camp 2030 en haar groep, wat op oplossings vir geslagsgebaseerde geweld en geslagsongelykheid gefokus het.

“Dit was so interessant om op so ʼn groot skaal oor ander kulture en lande te leer en te hoor wat mense binne hul gemeenskappe en die wêreld doen. Ek het ook meer geleer oor die verskillende kwessies waarvoor verskillende mense te staan kom met betrekking tot geslagsgebaseerde diskriminasie in die werkplek, vroue se gesondheidsregte, trans-gesondheidsorgvraagstukke en veel meer," het Terblanche gesê.

Noel Bekkers, Hoof van die Concordia-koshuis waar Msiska woon, het hom met sy prestasie geluk gewens en hom lof toegeswaai vir sy toewyding tot sy PhD-studies en die passie waarmee hy uitdagende take as ʼn akademikus en as ʼn entrepreneur aangryp.  

Bekkers het etlike personeellede bedank vir die moeite wat hulle gedoen het om Msiska en Terblanche in staat te stel om Camp 2030 by te woon – veral Michelle Pietersen, programbestuurder van die Afdeling Maatskaplike Impak, wat die reëlings op die nippertjie getref het.

  • Msiska kan gekontak word by 265884269861 (WhatsApp) of 27633867094 (direkte oproepe) , stanleycmsiska (Instagram), Stanley Chindikani Msiska (Facebook)

Hooffoto: Verskaf


Portretfoto: Stefan Els​

​​