Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Heuningbye kan nuttige bestuiwers vir bloubessies wees
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 22/09/2022

Heuningbye blyk om nogal nuttige bestuiwers van bloubessies te wees, aangesien hulle help om die vrugteoes en -gehalte te verbeter. Dít is volgens 'n nuwe studie by die Universiteit Stellenbosch (US). 

Die studie, getiteld 'Assessing the effectiveness of honey bee pollinators for cultivated blueberries in South Africa' (Assessering van die doeltreffendheid van heuningbye as bestuiwers vir die verbouing van bloubessies), is deur Keanu Martin, Bruce Anderson, Corneile Minnaar en Marinus de Jager van die US se Plant- en Dierkunde onderneem. Dit het onlangs in die aanlyn weergawe van die South African Journal of Botany verskyn.

“Ons het bevind heuningbye is gewoonlik baie voordelig en kan betroubare bestuiwers van bloubessies wees, selfs in gebiede waar daar nie natuurlike bloubessiebestuiwers soos hommelbye is nie. Heuningbye verhoog vrugteproduksie en -gehalte, terwyl die vrugte ook gouer ryp word in vergelyking met wanneer daar geen bestuiwers is nie," sê die navorsers.

Hulle het die studie gedoen om die uitwerking van heuningbybestuiwing te bepaal op die vrugteoeste van vyf bloubessievariëteite wat kommersieel in Suid-Afrika verbou word, naamlik Emerald, Eureka, Snowchaser, Suziblue en Twilight. Hulle het vir elke variëteit die volgende bereken: 1) die voordeel van die bye – 'n vergelyking van vrugteoeste ná blootstelling aan heuningbye en vrugteoeste nadat die bye weggeneem is – en 2) die bestuiwingstekort – die verskil in oesopbrengste tussen oeste waar handbestuiwing gebruik is (die oordrag van stuifmeel van manlike bloubessie-helmknoppe na die vroulike stempel vir maksimum oespotensiaal) en oeste nadat die plante aan die bye blootgestel is.  

Die navorsers het op 'n stuk grond op 'n boubessieplaas in die Wes-Kaap heuningbykorwe teen 15 korwe per hektaar geplaas. Dit val binne die bestek van korfdigtheid op kommersiële bloubessieplase. Hier het hulle op vrugte gefokus wat verbou is wanneer blomme met sakke toegemaak is en nie deur heuningbye bestuif kon word nie, vrugte wat verbou is wanneer blomme oop was vir heuningbybestuiwing, en vrugte wat deur handbestuiwing verbou is. Die navorsers wys daarop dat in die nagenoeg 280 ure wat hulle op die stuk grond deurgebring het, hulle net heuningbye gesien het wat die blomme as bestuiwers besoek het.

Die navorsers het ná hierdie bestuiwingsbehandelings die ontwikkeling van die bloubessies van bestuiwing tot oestyd bestudeer om te bepaal of hulle gereed was om gepluk te word. Wanneer die hele bessie eenvormig donkerblou verkleur het, is dit is as gereed vir pluk beskou. Die bessies is dan gepluk waarna die navorsers hulle geweeg, hul deursnee gemeet en die ontwikkelingstydperk bepaal het.

Hulle het ook die aangepaste vrugtemassa bereken deur die vrugtemassa en persentasie vrugte per behandeling saam te voeg. Volgens die navorsers is die aangepaste vrugtemassa 'n goeie aanduider van gerealiseerde oes aangesien boere nie bloubessies gewoonlik uitdun nie. Daarom sal die aangepaste vrugtemassa waarskynlik met die metings van tradisionele oesopbrengste (byvoorbeeld totale massa per 100 blommetjies) korreleer.

Verbeterde oesopbrengste

Hulle sê hulle studie het getoon dat heuningbye die gereedheid (om gepluk te word), grootte en massa van bloubessievrugte van verskeie variëteit verhoog het in vergelyking met vrugte wat in die afwesigheid van bestuiwers verbou is. Dit wil voorkom asof blootstelling aan heuningbye ook die rypwordtyd van vrugte in al die variëteite verkort het.

“Bestuiwing deur heuningbye kan baie indrukwekkende oeste vir Emerald-, Snowchaser-, Twilight- en Ventura-variëteite lewer, maar dit wil voorkom asof blootstelling aan heuningbye 'n kleiner uitwerking op die vrugteproduksie van die Eureka- en Suziblue-variëteite gehad het."

Volgens die navorsers kan dit gebeur wanneer 'n variëteit self kan reproduseer en nie enige soort stimulasie nodig het om stuifmeel van die helmknoppe na die stempels oor te dra nie, of indien heuningbye groot hoeveelhede stuifmeel van dieselfde variëteite deponeer.

Hulle wys daarop dat handbestuiwing die beste vrugtegehalte lewer, aangesien die stuifmeelafsetting verhoog en hoog kruisbare variëteite gekruising kan word.

“Die teenwoordigheid van die heuningby het die massa en deursnee van die vrugte met onderskeidelik 30% en 13% verhoog. Heuningbye het ook die aangepaste vrugtemassa aansienlik met 62% verhoog, in vergelyking met vrugte wat verbou is wanneer die bloubessieblomme toegemaak was. In teenstelling daarmee het handbestuiwing die aangepaste vrugtemassa met 26% verhoog in vergelyking met vrugte wat van bestuiwing deur heuningbye verbou is.

“Bestuiwing deur heuningbye het die rypwordtydperk van bloubessies met 'n week verminder, in vergelyking met vrugte wat in die afwesigheid van bestuiwers (blomme wat toegemaak is) verbou is. Handbestuiwing het ook die rypwordtydperk met 'n verdere twee weke verminder, in vergelyking met vrugte wat danksy bestuiwing deur heuningbye verbou is."

Die navorsers wys verder daarop dat hoewel bestuiwing deur heuningbye deurlopend verbeterde oesopbrengste gelewer het, die omvang van hierdie verbetering (die voordeel van bye) van die verskillende variëteite afgehang het. Net so het die bestuiwingstekort ook aansienlik tussen verskillende variëteite verskil en terwyl dit gelyk het asof sommige variëteite volgens hulle volle potensiaal gelewer het, het ander ver onder hul maksimum potensiaal gelewer wanneer hulle deur heuningbye bestuif is.

Hulle voeg by dat hoewel heuningbye nuttige bestuiwers van bloubessies is in gebiede waar natuurlike bestuiwers van bloubessies afwesig is, is dit belangrik om variëteite van bloubessies te kies wat goed sal vaar met heuningbye as hul primêre bestuiwer.

“Verdere navorsing is nodig om te bepaal watter variëteite van bloubessies die beste sal vaar in toestande waar kommersiële bestuiwing deur heuningbye toegepas word, wat maak variëteite 'n sukses of nie, watter variëteite kan doeltreffend deur heuningbye bestuif word, en watter variëteite benodig ander doeltreffende metodes om vrugtegehalte te verbeter.

“Dit is belangrik om die voordele van heuningbye vir verskillende variëteite van bloubessies te kwantifiseer sodat objektiewe besluite oor die waargeneemde behoeftes vir die invoer van nuwe bestuiwers geneem kan word. Dit kan ons dalk in staat stel om intelligenter met variëteite te boer wat beter vaar met bestuiwing deur heuningbye."

  • Bron: Martin, K; Anderson, B; Minnaar, C; & De Jager, M 2022. Assessing the effectiveness of honey bee pollinators for cultivated blueberries in South Africa. South African Journal of Botany 150: 113-119: doi.org/10.1016/j.sajb.2022.06.055.​