Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gebrek aan fondse kniehalter dienste aan mense met psigososiale gestremdhede
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 20/09/2022

Geestesgesondheidsorg vir mense met psigososiale gestremdhede was nog altyd ondergeprioritiseer. Daar was wêreldwyd 'n verskuiwing van institusionalisering as die vernaamste reaksie op psigososiale gestremdheid na gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorg. In Suid-Afrika bly mense met psigososiale gestremdhede steeds agter weens 'n gebrek aan befondsing en 'n gebrek aan toepaslike en akkurate data oor die voorkoms van hierdie soort gestremdhede, asook neigings in die gebruik van versorgingsdienste vir geestesgesondheid. Hierdie tekortkomings het verreikende gevolge, waarvan die voortslepende Life Esidimeni-ondersoek 'n bewys is.

“Hoewel ons wetgewende en beleidsraamwerk waarvolgens gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorg vir volwassenes met psigososiale gestremdhede bestuur word, grootliks met die toepaslike grondwetlike en internasionale norms en pligte ooreenstem, laat die inwerkingstelling daarvan veel te wense oor. Dit is hoofsaaklik weens groot leemtes in die stelsel," sê Marietjie Booyens, 'n konsultant by die Universiteit Stellenbosch (US) Regskliniek. Booyens het onlangs haar meestersgraad in die regte aan die US behaal onder die supervisie van prof Sandy Liebenberg, bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in menseregtereg.

Booyens het as deel van haar studie Artikel 27 van die Grondwet ontleed wat elkeen se reg tot toegang tot gesondheidsorgdienste erken. Sy het ook beleidsdokumente en wetgewing rakende geestesgesondheidsorg, asook internasionale menseregte-instrument wat op die normatiewe standaarde van beskikbaarheid, toeganklikheid, aanvaarbaarheid en gehalte vir gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorg fokus, bestudeer. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het mense met psigososiale gestremdede 'n geestesgesondheidsdiagnose ontvang en het hulle negatiewe sosiale faktore soos stigma, diskriminasie en uitsluiting beleef.

Booyens sê haar studie toon geestesgesondheidsorg is steeds onderbefonds, terwyl daar ook 'n gebrek aan belegging in gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorg is, en daar bestaan sigbare ongelykhede in die toekenning van hulpbronne tussen provinsies, tussen landelike en stedelike gebiede en tussen die openbare en private gesondheidsorgsektore.

“Weens hierdie swak toekenning van hulpbronne het mense met psigososiale gestremdhede nie toegang tot geriewe, goedere en dienste wat hulle so dringend nodig het nie.

“Moniterings- en inligtingstelsels is ook ondoeltreffend, beskerming vir die gehalte en aanvaarbaarheid van sorg ontbreek, en daar is onvoldoende samesprekings met mense met psigososiale gestremdhede en hulle verteenwoordigende organisasies wanneer beleide gemaak word en die implementering daarvan geëvalueer word.

“Daar is ook 'n gebrek aan duidelikheid oor die toepaslike standaarde vir gehalte, etiese sorg en swak funksionerende oorsigbestuur- en verantwoordbaarheidsmeganismes."

Booyens voeg by dat die skaars hulpbronne wat vir geestesgesondheidsorg beskikbaar is, is steeds in psigiatriese inrigtings gekonsentreer en selfs waar geld vir geïnstitusionaliseerde sorg verminder is, is daardie geld nie vir gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorg geoormerk nie.

Sy sê hierdie ernstige ondertoekenning van hulpbronne sal waarskynlik nie aangespreek word tensy ons moniterings- en inligtingstelsels verbeter nie.

“Indien toepaslike en akkurate data nie gereeld ingesamel en betroubaar verwerk word nie, kan ons nie verseker dat genoeg hulpbronne toegeken word nie, kan ons nie die kwesbaarste groepe vir dringende intervensie teiken nie, en kan ons nie bepaal of verdere hervorming nodig is om aan die geestesgesondheidsbehoeftes van persone met psigososiale gestremdhede te voldoen nie.

“Die regering moet in verbeterde moniterings- en inligtingstelsels belê sodat akkurate, toepaslike en hoë-gehalte data ingesamel kan word om die gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorgstelsel te verbeter."

Booyens benadruk dat mense met psigososiale gestremdhede wat in landelike gebiede woon, dieselfde toegang tot die nodige hulpbronne moet hê as hul eweknieë in stedelike gebiede.

“Ons moet ongelykhede in die verspreiding van infrastruktuur en menslike hulpbronne aanspreek en duidelike en meetbare nasionale, provinsiale en plaaslike teikens stel vir verbeterde toegang tot gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorggoedere, -geriewe en -dienste. Ons het ook spesiale maatreëls en nog meer hulpbronne nodig om die gehalte, aanvaarbaarheid en beskikbaarheid van gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorg in landelike gebiede te verbeter.

“'n Duidelike en omvattende stel standaarde vir die verskaffing van gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorg by alle toepaslike fasiliteite moet ontwikkel en konsekwent geïmplementeer word.

“Mense met psigososiale gestremdhede en hul verteenwoordigende organisasies moet by die besluitnemingsprosesse, die ontwikkeling van gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorgprogramme, asook by die monitering van sulke programme ingesluit word wanneer dit in werking gestel word."

Volgens Booyens moet gemeenskapsgebaseerde geestesgesondheidsorg 'n regtegebaseerde benadering volg om die gesondheid van mense met psigososiale gestremdhede te verbeter en om hulle te bemagtig om hul eie doelwitte na te strewe.

“Ons kan nie psigososiale gestremdheid net as 'n geïsoleerde hoekie van 'gesondheidsorg' beskou nie."

  • ​Foto deur Melanie Wasser by Unsplash.