Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale Impak Simposium 2022 - Universiteite gaan oor méér as net onderrig en leer
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 19/09/2022
​Nes ander universiteite wêreldwyd, streef die Universiteit Stellenbosch (US) daarna om sosiale impak deel van sy onderrig- en leeraktiwiteite te maak. Vir dié doel het die US onlangs sy sosiale-impakwerk opnuut in oënskou geneem by sy jaarlikse Sosiale Impak-simposium. Die US se Afdeling Sosiale Impak het die simposium in hibridiese vorm aangebied, en meer as 170 belanghebbendes van die hoëronderwys-, regering- en sakesektor, organisasies sonder winsoogmerk en die burgerlike samelewing het deelgeneem.

“Dit is alles verbind"

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het in sy openingstoespraak beklemtoon hoe belangrik dit is om sosiale impak in die immer veranderende hoëronderwyssektor te herbedink. “Ons moes oor die afgelope twee en 'n half jaar vele aspekte van universiteite se funksionering en bedrywighede herbedink, veral in die leer- en onderrigruimte," het De Villiers gesê. “As ons leer en onderrig kan herbedink en modelle van hibridiese leer kan bespoedig, beteken dit ons kan sosiale impak óók herbedink. Dit is alles verbind."

Hy het ook die volgende te sê gehad oor die verband tussen sosiale impak en die ander werksaamhede van die Universiteit: “Ons bestaan nie vir onsself nie; ons beoefen nie ons wetenskap en navorsing in afsondering of ter wille van onsself nie; ons bedien nie net sekere groepe nie. Ons is 'n openbare universiteit in elke sin van die woord en het 'n impak op die samelewing en op individue se lewens en bestaan."

Die Rektor het voorts die US se visie onderstreep om 'n toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit te wees wat kennis tot diens van die samelewing bevorder. “Om hierdie visie te verwesenlik, implementeer ons onder andere hibridiese leer, entrepreneurskap en innovasie, akademiese vernuwing om aan die vereistes van die wêreldekonomie te voldoen, en ons brei ons hibridiese model uit om nuwe markte deur bykomende leerroetes te ontgin."

Universiteite moet herstel en herbou

In die kritiese diskoers vir die res van die simposium het denkleiers, akademici en beroepslui idees en beste praktyke uitgeruil oor hoe om die samelewing ten goede te verander. Die Suid-Afrikaanse ekonoom en politieke wetenskaplike prof William Gumede, medeprofessor aan die Skool vir Regeerkunde by die Universiteit van die Witwatersrand en uitvoerende voorsitter van die Democracy Works-stigting, het 'n gedagteprikkelende hoofrede gelewer. Hy het nagedink oor sosiale impak in ontwikkelende lande, en universiteite se groter rol om 'n “gebroke samelewing" te herstel.

Volgens Gumede behels sosiale impak onder meer universiteite se taak om demokratiese korporatiewe burgerskap te bevorder, mense sowel binne as buite die instelling te bemagtig, eerlikheid en deernis aan die dag te lê, en 'n sosiale kontrak te bou in die gemeenskappe waar die universiteit funksioneer. In ontwikkelende lande in die besonder behoort sosiale impak volgens hom aandag te skenk aan die bou van korporatiewe welsyn, sosiale geregtigheid, demokrasie, etiek en moraliteit. “Daar is 'n diep morele krisis in die samelewing en in ál die regeringstelsels in die land," het Gumede gesê. “Universiteite het die taak om daardie stelsels te help herbou."

Om die “moraliteitskrisis" in Suid-Afrika te help hanteer, het hy voorgestel dat universiteite klasse aanbied oor etiek, wat verpligtend moet wees vir alle studente. Gumede het boonop aan die hand gedoen dat universiteite mense bystaan om hulle veerkragtigheid in krisistye én hulle entrepreneurskapsvaardighede te bou. “Ons behoort mense op te lei om probleme die hoof te bied, dit te verwelkom én die geleenthede daarin raak te sien," het hy gesê. Hy het simposiumgaste ook aangemoedig om na innoverende maniere te soek om die huidige probleme in die samelewing op te los, en nie net op ou idees terug te val nie.

Tot diens van die samelewing

Dr Leslie van Rooi, senior direkteur van die Afdeling Sosiale Impak, het die verrigtinge afgesluit deur te sê: “Universiteite wêreldwyd beweeg weg van die gedagte om navorsingsintensief te wees bloot ter wille van navorsing. Ons beweeg na universiteite wat inherent tot diens is van die samelewing."

Van Rooi het tot die gevolgtrekking gekom dat 'n instelling sosiale impak in sy hart en siel kan vaslê. “Dit kan gedoen word deur 'n begrip van wat dit beteken om betrokke te wees, wat dit beteken om kennisoordrag toe te laat, wat dit beteken om die samelewing beter te maak, en waarheen dít sal lei. Dalk sal dit ook instellings soos die Universiteit Stellenbosch dwing om nie net oor hulle geskiedenis te besin nie, maar die verlede te erken en toe te laat dat hulle ten diepste verander word."

 

 

 

 

​