Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
KI in gesondheidsorg moet menslike welstand en veiligheid bevorder
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/09/2022

Ons weet daar is ʼn rol vir kunsmatige intelligensie (KI) in openbare gesondheidskrisisse en in noodsituasies. Ons moet die sleutelkwessies oorweeg, die nodige regsraamwerke ontwikkel en seker maak daar is voldoende interaksie met die publiek sodat mense die impak van KI in gesondheidsorg kan verstaan.

Hierdie siening is onlangs deur prof Keymanthri Moodley van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg van die Universiteit Stellenbosch (US) in ʼn lesing by die Stellenbosch Forum geopper. Die tema van dié lesing, die vyfde in die 2022-reeks, was “Digitisering van gesondheidsorg: aanpassing by verandering".

Die Stellenbosch Forum-lesingreeks is in 1990 begin en bied gereeld aan US-personeellede en -studente, asook aan lede van die publiek, die geleentheid om meer te leer oor die navorsing van wêreldgehalte wat by die US gedoen word. Die lesings word op ʼn toeganklike en verstaanbare wyse aangebied en bied aan akademici én nie-akademici ʼn platform vir kritiese debat oor dissiplinêre grense heen.

Moodley het in haar lesing gesê KI het die ingebruikneming van tegnologie in gesondheidsorg versnel. Sy het na robotika, siftingsalgoritmes, sensors, draagbare diagnostiese toestelle, kletsbotte, virtuele realiteit en hologramme verwys as voorbeelde van hoe KI die verhouding tussen dokter en pasiënt betree het.

“Ons is gedurende die Covid-19 pandemie meer van die deurslaggewende rol van KI in gesondheidsorg bewus gemaak. Een van die uitdagings was die verdeling van beperkte hulpbronne toe verpleegkundiges en dokters gesukkel het om pasiënte toegang tot die nodige sorg te ontsê – veral toe almal wat tot intensiewesorgeenhede toegelaat is, ʼn ventilator of kritiekesorg nodig gehad het.

“Mense het siftingsalgoritmes begin ontwikkel wat op masjienleer gegrond was om daardie siftingsbesluite vir gesondheidsorgwerkers te help neem. In sommige omgewings is gevind die siftingsalgoritmes kon pasiënte net so goed soos ʼn professionele siftingspan keur."

Volgens Moodley bly hierdie kwessie uiters omstrede omdat ons weet dat hoogs objektiewe wetenskaplike faktore nie altyd gebruik kan word nie. “Ofskoon algoritmes ʼn aansienlike voordeel tydens sifting bied, is dit nie altyd onfeilbaar nie."

Nog ʼn toestel wat gedurende die pandemie gebruik is, was die pols-oksimeter. Volgens Moodley is probleme ongelukkig ook met hierdie toestel ondervind. 

“Die oksimeter se ontwerp was op die insameling van groot hoeveelhede data gegrond. Dit het gelyk of dit op die een of ander manier rasse- en etniese vooroordeel opgebou het wat betref die suurstofvlak wat by mense met ligter en donkerder velle waargeneem is.

“Gegrond op die wetenskap wat gebruik is om die oksimeter te ontwikkel en die data wat by hierdie stelsel ingevoer is, het menige toestel die suurstofvlak van mense van kleur onderskat. Die meter het ʼn hoër suurstofvlak gemeet by mense van kleur met ʼn laer suurstorvlak wat behandeling nodig gehad het. Dit was in sommige opsigte misleidend en kon meegebring het dat van die pasiënte nie betyds behandeling ooreenkomstig hul behoeftes gekry het nie."

Moodley het daarop gewys dat alles rakende dataversameling en navorsing in gesondheidsorg met presisiegeneeskunde verband hou. Dit is ʼn belangrike benadering tot die behandeling en voorkoming van siektes omdat dit op individue fokus – hul genetiese samestelling, omgewing en lewenstyl – en ten doel het om behandeling vir elke individu pas te maak. In hierdie vorm van geneeskunde is alle vorme van dataversameling en KI belangrik.

Moodley het die noodsaak vir die beskerming van data benadruk en gesê omvattende etiese gesprekke vind oor die deel en kommersialisering van data, eienaarskap en toestemming plaas.  

“KI moet menslike welstand en veiligheid bevorder en in die openbare belang wees. Daar moet deursigtigheid wees en dokters moet die gebruik van KI aan pasiënte kan verduidelik. Ons moet KI bevorder wat verantwoordelik, inklusief, regverdig en volhoubaar is," het Moodley afgesluit.

  • Foto: ʼn Voorbeeld van ʼn pols-oksimeter wat tydens die pandemie gebruik is. Fotograaf: Syed Ali by Unsplash.