Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties en Veldskoen Shoes span saam om studente te help
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 08/09/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) het vandeesweek hulle samewerking aangekondig met gevierde plaaslike skoenmaatskappy, Veldskoen Shoes, wat ook die plakkie-handelsmerk, Plakkie, vervaardig. Die opbrengs uit verkope van die nuwe skoen, by name Maties X Veldskoen, sal aan die Universiteit se Jaarfonds, Bridge the Gap, geskenk word. 

Bridge the Gap is daarop gemik om die hindernisse wat Maties daarvan weerhou om ʼn betekenisvolle studente-ervaring te hê en daardie gesogte graad te ontvang, uit die weg te ruim. Die Universiteit werf fondse vir verskeie inisiatiewe onder die sambreel van Bridge the Gap. Dit sluit in #Move4Food, die Tygerberg Pantry-projek, #Action4Inclusion, #GradMe, #Zim4Zim, End Period Poverty, #MatiesHaveDrive en Caught in the Middle.

Alumni wat ʼn paar handgemaakte Maties X Veldskoene met maroen sole en Maties Plakkies in die ikoniese maroen koop, kan trots wees op die feit dat 5% van die totale verkope geskenk sal word aan die Universiteit se langdurige inisiatief, wat voedselsekerheid en finansiële hulp bied aan studente wat andersins nie in die posisie sou wees om hulle studies af te handel nie. Hierdie nuwe medewerking sal die Maties van die verlede in staat stel om vandag positief tot die volgende geslag Maties by te dra.

Die koördineerder van Bridge the Gap, Viwe Benxa, sê: "Ons is werklik opgewonde oor hierdie nuwe vennootskap met Veldskoen en Plakkie. Ons studente sal geweldig baie daarby baat en dit sal tot verdere sukses en die vooruitstrewendheid van ons studentegemeenskap bydra."

Die Maties X Veldskoen en Plakkie sal amptelik tydens die 2022 Alumni Tuiskomsnaweekvieringe gedurende die Matie Soirée by die Alumni-klubhuis in Die Stal bekendgestel word.

Met ongeveer twee duisend alumni wat na Stellenbosch terugkeer vir hulle jaarlikse Tuiskomsvieringe, is die sentiment van gemeenskaplike trots en solidariteit selfs sterker as gewoonlik. Die bekende slagspreuk 'Altyd ʼn Matie' was nog nooit meer waar nie.

Die Direkteur van Groot en Transformerende Skenkings aan die US, Pieter Swart, voeg by: “Die Universiteit Stellenbosch is opgewonde oor ons vennootskap met Veldskoen/Plakkie, ʼn waarlik Suid-Afrikaanse produk. Ons glo dat ons deur hierdie onderneming nie slegs die US-handelsmerk op unieke wyse sal laat groei nie, maar ook beduidend deur Bridge the Gap tot ons behoeftige studentgemeenskap sal bydra."

Veldskoen se voortgesette missie om Suid-Afrika via veelvuldige sektore te ondersteun, op te hef en te verdedig, word aangedryf deur hulle doelwit om ʼn inklusiewe toekoms vir almal moontlik te maak, wat die bemagtiging van toekomstige geslagte Maties en die positiewe impak deur die Bridge the Gap-inisiatief insluit. 

Veldskoen Shoes se medestigter en trotse Matie, Ross Zondagh, sê “As ʼn alumnus is die geleentheid om betekenisvol te kan bydra, ʼn voorreg. Omdat ons weet wat Bridge the Gap doen, weet ons dat hierdie onderneming ʼn positiewe invloed sal hê op studente wat hulp benodig."

Die Maties Veldskoen en Maties Plakkie

Veldskoen het die US se kenmerkende kleur en die naam 'Die Matie aangegryp – bynaam vir studente van die Universiteit Stellenbosch wat afkomstig is van die Afrikaanse omgangstaal maat (vriend), wat oorspronklik deur die studente van die Universiteit van Kaapstad se voorloper, die Suid-Afrikaanse Kollege, gebruik is. 'Die Matie' is in die Veldskoen Heritage-reeks geïntegreer met die bypassende kleur sole en veters. Die skoene is beskikbaar teen R1 199 met die handelsmerk van die US op, of daarsonder teen R1 099. Die spesiaal ontwerpte Maties Plakkie verkoop vir R280 en sal van 9 September af op kampus by die Matie Shop en ook by veldskoen.com beskikbaar wees. 

Veldskoen Shoes

Veldskoen Shoes is ʼn skoeisel- en klerasiemaatskappy wat Suid-Afrika voorstaan. Sedert die aanvang daarvan in 2016, het Veldskoen gegroei van ʼn klein beginnermaatskappy tot ʼn wêreldwye handelsmerk wat in meer as 30 lande verkoop word.

​Kleinhandelpryse:

  • Maties X Veldskoen sonder handelsmerk – R1 099
  • Maties X Veldskoen met handelsmerk – R1 199
  • Maties Plakkies mans en vroue – R280
  • ​Spotless Maties skoonmaakstel – R269