Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sebravis-studie toon nadelige effekte van ivermektiengebruik
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Edna Ellman
Gepubliseer: 06/09/2022

Ivermektien. 'n Woord wat die afgelope paar jaar alte bekend geword het toe die wêreld in die greep van die Covid-19-pandemie was. Skielik is WhatsApp-groepe oorval met menings oor of dit veilig is om vir mense te gebruik en of dit enige voordele inhou vir diegene wat aan Covid-19 ly.

“'n Onrusbarende feit is dat die meeste mense ivermektien sonder toesig van 'n dokter gebruik het en dat hulle 'n formulering gebruik het wat voorberei is vir gebruik in plaasdiere (wat verskillende vermoëns kan hê om die afbreek van die middel te hanteer)," sê professor Carine Smith, hoof van die Sebravis-navorsingseenheid binne die Afdeling Kliniese Farmakologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Smith het die eenheid sowat 18 maande gelede gestig en 'n studie gedoen oor die risiko's van ivermektiengebruik, gegewe die verhoogde voorkoms van ivermektiengebruik tydens die Covid-19-pandemie. Maar hoe kan ʼn sebravis – 'n 5 cm lange tropiese vis inheems aan Suidoos-Asië – help in 'n studie oor ivermektien en mense?

“Hulle is wêreldwyd ongelooflike gewild in navorsing oor geneesmiddelontdekking, sowel as navorsing oor middelveiligheid. Wat die sebravis so 'n wonderlike navorsingsinstrument maak, is dat hulle geneties meer soos mense is as knaagdiere – en gebruik kan word om gedragsdata by fisiologie te pas. Met ander woorde, ons kan spesifieke fisiologiese meganismes ondersoek en dit korreleer met die gedragsuitkoms wat dit sal fasiliteer," sê Smith

Sy verduidelik ivermektien is 'n bekende antiparasitiese middel, maar selfs wanneer dit gebruik word teen die lae dosisse wat aangedui word vir gebruik teen parasiete, word ivermektiengebruik gekoppel aan baie nadelige effekte wat dui op neurologiese risiko, insluitend duiseligheid, hoofpyn, aanvalle en verlies van bewussyn.

“Ons het besluit om verskillende potensiële neurologiese risiko's te ondersoek. Eerstens het ons sebravislarwes (dit is die vroeë lewensvorm van sebravisse net nadat hulle uitgebroei het) behandel met suiwer ivermektien en veeartsenykundige ivermektien – met behulp van 'n spesifieke toets om GABA-funksie te ondersoek, het ons gesien dat beide formulerings gelei het tot aanvalle in sebravis met die hoër dosisse wat as antiviraal voorgehou word.

“Hierdie uitkoms stem ooreen met die nadelige effekte wat deur mense gerapporteer word na die gebruik van ivermektien en dui op 'n direkte effek om GABA te inhibeer. GABA is 'n inhiberende neuro-oordragstof wat die brein beskerm teen eksitotoksisiteit – 'n oorstimulasie van neurone wat uiteindelik lei tot neuronale dood."

Hulle het ook larwes aan afwisselende helder lig of donkerte blootgestel. “Gewoonlik sal hierdie protokol angstige gedrag by die sebravis veroorsaak (hulle toon 'n skrikreaksie op helder lig en vries, en wanneer die lig dan verwyder word, toon hulle verhoogde hiperbeweging, wat geïnterpreteer word as angs en ontsnappingsgedrag. Ons het gevind dat ivermektien-behandelde larwes 'n dowwe reaksie op hierdie protokol getoon het, wat dui op beperkte kognitiewe funksie."

Laastens het hulle die effek van ivermektien ondersoek wanneer die bloedbreinversperring ondig is, want dit gebeur tydens virale infeksie soos Covid-19. Literatuur het getoon dat ivermektien met SARS-virusse die bloedbreinversperring – 'n laag wat ongewenste stowwe van die bloedstroom uit die brein hou – selfs meer deurdringbaar maak, sê Smith.

“Ons data het aangedui dat selfs 'n kortdurige blootstelling aan ivermektien in hierdie toestande langdurige neurokognitiewe beperkings tot gevolg gehad het. Ons navorsing toon dus dat ivermektien – en spesifiek die veeartsenykundige formulering – nie gebruik moet word teen die hoë dosisse wat beskou word as effektief teen virusse nie. Selfs met dosisse wat as anti-parasities aangedui word, moet deegliker ondersoek word, gegewe die simptome wat gerapporteer is en strook met die neurologiese risiko wat ons gedemonstreer het."

Smith sê die navorsing is uniek deurdat dit spesifiek by 'n werklike probleem aansluit. “Ons is verbind tot wetenskap met 'n doel, wat beteken dat ons werk die ondeskundiges moet bevoordeel."

Sy voeg by dat die sebravis eers die afgelope 10 jaar as navorsingsinstrument wêreldwyd en eers onlangs in Suid-Afrika gebruik word. “Ek glo hierdie klein larwes (hulle is net sowat 3-4 mm lank wanneer ons dit gebruik) kan aansienlik bydra tot medisyne-ontwikkeling en navorsing oor geneesmiddelveiligheid."

SAPHRA – die medisynebeheerliggaam in Suid-Afrika – het kort ná die studie die gebruik van ivermektien onder enige toestand verbied. “Ivermektien sal altyd 'n plek hê om parasitiese infeksies by diere te voorkom of te behandel, byvoorbeeld as 'n dip. Dit is belangrik om daarop te let dat die effek van 'n periodieke akute toediening van ivermektien by diere verskil van 'n langtermyn daaglikse/weeklikse dosis ivermektien by mense wat dit as voorkomende behandeling in die konteks van virale infeksie gebruik. Die menslike gebruik van ivermektien, veral as profilaktiese middel, moet dus nie aangemoedig word nie."

 

Onderskrif: Prof Carine Smith in die sebravis-laboratorium.

Foto-erkenning: Damien Schumann