Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hibridiese ADA-winterskool lui terugkeer na kontakaanbod in
Outeur: SU International
Gepubliseer: 04/09/2022


Om uitnemendheid in doktorale onderrig in Afrika te versterk, bied die Afrika Doktorale Akademie (ADA) van die Universiteit Stellenbosch (US) seisoenale doktorale skole en maandelikse webinare aan. Weens die pandemie moes alle aktiwiteite sedert die winterskool van 2020 na die kuberruimte verskuif. Noudat die wêreld egter stadigaan van die Covid-19-krisis begin herstel, het die winterskool van 2022 in hibridiese vorm plaasgevind.

Die geleentheid, wat van 29 Junie tot 15 Julie 2022 plaasgevind het, het uit 12 kursusse met meer as 120 deelnemers bestaan. Sewentien het ingeskryf vir die kontakkursus “Inleiding tot SPSS", wat die US se dr Cindy Steenekamp van 4 tot 8 Julie aangebied het. Deelnemers het waardevolle inligting ontvang oor die gebruik van die sagteware SPSS (“Statistical Package for the Social Sciences") om hulle navorsingsdata te ontleed. Die kursusinhoud is goed ontvang, soos die volgende deelnemerkommentaar toon:

“Hierdie ADA-kursus het my belangstelling in statistiese dataontleding geprikkel. Dit het my ook geleer hoe om die vrae in my navorsingsvraelys behoorlik te struktureer. Ek kan eerlikwaar sê dat ek nou baie meer ingelig is."

“Die kursuservaring was fantasties! Die oefeninge en opdragte was gepas en het my 'n goeie begrip van dataontleding met SPSS gegee."

Vir die oorblywende 11 kursusse van die skool het deelnemers aanlyn ingeskakel. Hierdie kursusse het oor onderwerpe soos navorsingsmetodologie, dataontleding, skryf en publikasie sowel as projekbestuursvaardighede gehandel.Picture1.jpg

Formaatverandering vir ADA-skool: 'n Collage van aanlyn en kontakdeelnemers aan die ADA-winterskool van 2022.

Hoewel die aanlyn ADA-skole uiters suksesvol was, sien deelnemers, organiseerders én aanbieders ewe veel uit na die ADA-somerskool in Januarie 2023 wat hopelik ten volle in kontakvorm aangebied sal word. Dít sal deelnemers weer die persoonlike interaksie en fisiese ervaring van die prentjiemooi Stellenboschstreek bied waarvoor die ADA-skole vóór Covid bekend was.