Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Trollie-uitdaging 2022: Aandag alle fakulteite!
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 02/09/2022

Die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge doen 'n beroep op alle fakulteite van die Universiteit Stellenbosch om deel te neem aan sy jaarlikse universiteitswye trollie-uitdaging. Dié inisiatief poog om geld in te samel en skenkings van nie-bederfbare voedsel, toilet- en sanitêre ware bymekaar te maak vir studente wat dit nodig het.

Tot dusver het agt fakulteite gereageer op die uitdaging wat deel sal vorm van die Afdeling se Kampus Skenkingsdagaktiwiteite wat vanaf 6 tot 7 Oktober plaasvind. Kampus Skenkingsdag is daarop gemik om fondse in te samel en bewustheid te skep vir die Bridge the Gap (BTG) fondsinsamelingsveldtog en sy verskillende inisiatiewe. BTG nooi alumni, die studentegemeenskap, personeel, ouers en vriende van die Universiteit om US-studente te ondersteun om die finansiële struikelblokke te oorkom wat hul verhoed om 'n betekenisvolle studente-ervaring te geniet en daardie gesogte graad te behaal.

Die trollie-uitdaging is tydens verlede jaar se Skenkingsdag van stapel gestuur toe die Dekane van AgriWetenskappe en Ingenieurswese, proffs Danie Brink en Wik us van Niekerk, fondse ingesamel het vir die Tygerberg Pantry-projek, een van BTG se inisiatiewe. Die Tygerberg Pantry-projek is gestig as gevolg van die oorweldigende behoefte aan voedsel en toiletware onder studente op die Tygerbergkampus.

Viwe Benxa, BTG-ambassadeur en Alumni-deelnamekoördineerder van die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, het gesê: “Ek is seker hierdie uitdaging sal die vrygewigheid en toewyding van elkeen van ons fakulteite ten toon stel, asook die sorg en ondersteuning wat ons het vir studente wat dit nie so breed het nie. Dit is 'n onbaatsugtige manier vir fakulteite om meer betrokke te raak by die ontwikkeling van studente."

Hy het bygevoeg: “Ons wil graag kompetisie onder die fakulteite aanmoedig, en ons hoop personeel, studente en alumni sal teruggee op enige manier wat hulle kan."

Fakulteite wat bereid is om by die trollie-uitdaging betrokke te raak, sal voorsien word van twee bokse waarin skenkers spensitems soos noedels, koffie, meel (mieliepap), olie, grondboontjiebotter, rys en blikkieskos kan plaas. Hulle kan ook toiletware soos sanitêre doekies, skeermesse, toiletpapier en tandepasta skenk. Finansiële skenkings kan via die Kampus Skenkingsdag-platform, https://www.givengain.com/cc/bridge-the-gap/, gemaak word.

Volgens Benxa het fakulteite tot die einde van Skenkersdag (7 Oktober, 2022) om skenkings te maak. Dit sal dan gebruik word om nie net die Tygerberg Pantry-projek te ondersteun nie, maar ook die #Move4Food, en End Period Poverty-projekte onder BTG.

“Met julle hulp wil ons ons maatskaplike werkers toerus met genoeg kospakkies, toiletware en noodfondse om ons studente gedurende spitstye van nood – die laaste kwartaal van 2022 en die eerste kwartaal van 2023 – by te staan," het Benxa gesê.

Vanjaar se Kampus Skenkingsdag sal as 'n hibriede funksie aangebied word. Die plaaslike US-gemeenskap en alumni van regoor die wêreld word aangemoedig om dit by te woon. Dit sal aktiwiteite soos 'n spinathon, 'n fliekmarathon, atletiek en tafeltennis insluit.

Daar is vyf ander inisiatiewe wat ook onder die BTG-sambreel geskep is en sluit in: #Action4Inclusion wat poog om studente te steun wat weens uitstaande studiegeld nie vir die volgende akademiese jaar kan registreer nie; #GradMe wat studente help met uitstaande studiegeld wanneer hulle afstudeer; #Zim4Zim wat verseker dat studente finansiële ondersteuning kry om van studieskuld ontslae te raak; Caught in the Middle wat studente help wat nie vir gratis hoëronderwysbeurse kwalifiseer nie; en #MatiesHaveDrive wat met verskeie ondernemings saamwerk om gedeeltelik befondsde bestuurdersopleiding te voorsien aan studente wat 'n bestuurderslisensie benodig vir werk.