Die Eenheid vir Gestremdhede aan die Universiteit Stellenbosch (US) het sedert sy totstandkoming in Januarie 2007 al vele verbeteringe op kampus teweeggebring. Eenheidshoof dr Marcia Lyner-Cleophas was van die begin af daar en is tereg trots op hulle prestasies die afgelope 15 jaar.
“Die Eenheid vir Gestremdhede het ontstaan omdat al hoe meer studente met gestremdhede by die US ingeskryf het," onthou Lyner-Cleophas, 'n opvoedkundige sielkundige. “Toe ons begin het, was daar minder as 'n honderd studente met die een of ander gestremdheid. Nou het ons meer as 600 studente met een of meer gestremdhede. Aangesien soveel studente 'n positiewe ervaring by die US het, het die woord vinnig versprei dat ons, as kampus, al hoe meer inklusief is ten opsigte van 'n verskeidenheid gestremdhede."
Die Eenheid vir Gestremdhede is een van vier eenhede in die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) en maak deel uit van die Afdeling Studentesake. “Ons kerntaak is studentesteun," verduidelik Lyner-Cleophas. “Ons is daar om studente te ondersteun met watter gestremdheid hulle ook al het of dalk ontwikkel."
UOL en opleiding
Steun word in verskillende vorme voorsien, veral deur dienslewering aan studente, onder meer om hulle met toets- of eksamenvergunnings by te staan. Dít strook met die konsep van universele ontwerp vir leer (UOL) in die Universiteit se Beleid oor Gestremdheidstoegang, wat die US in 2018 aanvaar het, sê Lyner-Cleophas. “UOL gaan daaroor om die kurrikulum, assesserings en onderrig so te ontwerp dat dit buigsaam en inklusief is om studente se verskillende leerstyle in ag te neem.
“Ons wil voortaan meer klem plaas op die vordering wat ons gedurende Covid-19 gemaak het, en die tipe moontlikhede wat ons in daardie tyd ondersoek het. UOL kan voortbou op daardie buigsaamheid sodat dit die norm word. Ons moet voortdurend hierdie buigsame moontlikhede saam met ons studente verken."
Opleiding is 'n verdere belangrike deel van die Eenheid vir Gestremdhede se werk. Dít sluit in die voorsiening van pasgemaakte opleiding in antwoord op versoeke van die Studenteraad en enige US-departement, sowel as gestremdheidsensitisering vir studenteleiers. Die Eenheid bied ook 'n vyf weke lange geakkrediteerde kursus oor gestremdheidsleierskap vir studente aan.
En hoewel hulle hoofsaaklik op studente konsentreer, neem die Eenheid boonop deel aan Menslike Hulpbronne se Siyakhula-opleidingsprogram vir alle personeel. (Sowat 30 huidige US-personeellede het gestremdhede verklaar.)
Toeganklike formate en fasiliteite
Daarbenewens voorsien die Eenheid vir Gestremdhede die nodige hulpbronne om leermateriaal toeganklik te maak vir studente, sê Lyner-Cleophas. “Ons het mense wat teksomskakeling doen indien studente materiaal in Braille of grootdruk óf digitale skanderings van boeke nodig het."
Die Eenheid skenk ook aandag aan die Universiteit se infrastruktuur en werk met rolspelers soos Fasiliteitsbestuur saam om voortdurend te bepaal hoe areas toegankliker gemaak kan word. “Namate nuwe geboue op kampus opgerig word, is toeganklikheid 'n al hoe groter oorweging. Ons streef na inklusiewe ruimtes wat met nasionale bouregulasies strook en toeganklikheid en universele ontwerp teweegbring."
Almal se verantwoordelikheid
Nogtans beklemtoon Lyner-Cleophas dat gestremdheidsinsluiting álmal aangaan. “Die Eenheid vir Gestremdhede is nie in beheer van alles wat met gestremdheid te doen het nie," sê sy. “Op beleidsvlak moet ons in gedagte hou dat gestremdheid nie net oor studente gaan nie; dit gaan oor almal. Dít beteken almal moet verantwoordelikheid vir gestremdheidsinsluiting aanvaar – nie net die Eenheid vir Gestremdhede nie."
Terselfdertyd verstaan sy dat nie almal hulle dalk ewe maklik met persone met gestremdhede vereenselwig nie. “Indien jy nie gestremdheid intiem ervaar, soos in jou huis of buurt nie, is dit baie moeilik om jou voor te stel hoe dit moet wees om 'n gestremdheid te hê. Ek skat dít is die geval vir alle identiteite. As jy nie in daardie ruimte is nie, kan jy jou nie regtig volkome daarmee vereenselwig nie.
“Nietemin werk ons uit die oogpunt van menseregte, so ons glo almal is geregtig op waardigheid en respek. Dít is die tipe omgewing en ingesteldheid wat ons moet skep," sê sy.
Vir dié doel het Lyner-Cleophas kwartaallikse vergaderings met proff Nico Koopman (Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel) en Deresh Ramjugernath (Viserektor: Leer en Onderrig). “Die vergaderings gee ons kans om dinge konstruktief te bespreek," sê sy. “Sodoende bly hulle op hoogte van sake, en ek kry geleentheid om belangrike kwessies onder hulle aandag te bring."
Ook ywerige navorsers
Lyner-Cleophas is voorts betrokke by die netwerk AfriNEAD, 'n vlagskipprojek van die US se Sentrum vir Gestremdheid- en Rehabilitasiestudies wat navorsingsbewyse oor gestremdheid in aksie wil omskakel. “Die Eenheid vir Gestremdhede gaan baie nadenkend te werk," verduidelik sy. “Ons beskou onsself onder andere as navorsers. Ons is voortdurend op soek na maniere om onsself – ons werk, ons praktyke, ons bydraes en ons interaksies – te verbeter."
Daarom sluit hulle toekomsplanne in om die Universiteit se Beleid oor Gestremdheidstoegang te hersien en te versterk, en om nouer met akademiese personeel saam te werk. “As jy aan die Eenheid as 'n sentrale punt vir oorlegpleging en skakeling dink, het ons aansienlik vordering gemaak," sê sy. “Ons het ons samewerkingsbande verstewig en ons behoorlik gevestig as 'n steundiens wat daar is om almal op kampus so ver moontlik by te staan."