Die Skool vir Klimaatstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US) is skaars 'n jaar oud, maar dit het reeds 'n hele paar groot suksesse behaal. Wat dít selfs méér merkwaardig maak, is dat die entiteit in Junie 2021 tot stand gebring is, toe die pandemie nog wyd ontwrigting veroorsaak het.
“Ons werk volgens 'n breë plan, maar pas maklik aan wanneer geleenthede hulle voordoen," sê prof Guy Midgley, wat in Februarie as waarnemende direkteur van die Skool aangestel is. Hierdie dinamiese benadering werp beslis vrugte af: Die Skool is reeds aktief besig met 'n aantal samewerkende navorsings- en onderrigprojekte, hetsy as leier of deelnemer.
Navorsingsamewerkings
Een voorbeeld is die samewerking met die Suid-Afrikaanse Omgewingswaarnemingsnetwerk en 'n klomp Duitse universiteitsvennote om te meet hoe ekosisteme onder verskeie tipes grondgebruike funksioneer. “Ons stel baie belang in die verwydering en bestuur van koolstofdioksied, so ons wil graag kennis en vermoë bou om koolstofdioksied-uitruiling tussen ekosisteme in die see én op land te meet, te modelleer en te voorspel," sê Midgley. “Ekosisteme absorbeer van nature 60% van alle menslike koolstofdioksiedvrystellings. Dít is 'n afgeskeepte navorsingsgebied in die Suider-Afrikastreek en die Suidelike Yssee, wat albei 'n kernrol in die wêreldwye koolstofsiklus vervul. Ons samewerkingsnetwerk sal die polsslag van hierdie ekosisteme van minuut tot minuut meet." 'n Aantal PhD- en magisterstudente werk reeds aan hierdie projek.
Nóg 'n samewerking wat besig is om vaart te kry is 'n projek om die klimaatsrisiko's vir die hidrologie en biodiversiteit van UNESCO-erfenisterreine in Suider-Afrika te modelleer. Die navorsing word in samewerking met die Universiteit van Cincinnati onderneem en deur UNESCO gefinansier.
Daarbenewens het finansiering vir twee jaar van die Franse ambassade ter ondersteuning van die werk van dr Romain Pirard, 'n senior navorser oor hulpbron-ekonomie, tot 'n aantal navorsingsvoorstelle oor transdissiplinêre benaderings tot omgewingsprobleme gelei. En algaande word samewerkende spanne op die been gebring.
Wêreldwye klimaatsopvoeder
Afgesien van sy navorsingsamewerkings, vervul die Skool ook 'n belangrike rol as klimaatsopvoeder. As een van die 15 lede van die Wêreldwye Universiteitsalliansie oor die Klimaat (GAUC), is die Skool 'n leier in dié organisasie se werk om internasionale klimaat- en klimaatsbeleidsopleiding onder sowat 150 studente op die proef te stel. Die opleiding geskied in die vorm van 'n weeklikse stel lesings vir 'n paar maande in aanloop tot COP27, die Verenigde Nasies se klimaatsveranderingskonferensie, wat in November 2022 in Egipte sal plaasvind. 'n Diverse groep US-studente neem aktief aan die opleiding deel. Bekende GAUC-lede sluit in die Massachusetts Instituut vir Tegnologie en die Londense Skool vir Ekonomie; die US is die enigste Afrikalid.
Op tuisbodem bou die Skool aan 'n Afrikastreeksforum oor klimaatsverandering. Dié liggaam sal klimaatsvennote by die US en hulle eweknieë van oor die hele vasteland byeenbring.
Die Skool sal graag sy onderrigvoetspoor wil uitbrei. “Daar is heel duidelik 'n vraag na verskillende tipes nagraadse studie om in nuwe behoeftes te voorsien. Ons werk ook aan modules vir afstandsonderrig wat internasionaal aangebied sal kan word," sê Midgley. “Daar is 'n groot onderrigleemte op die gebied van klimaatsverandering in Afrika, en ons kan goeie plaaslike inhoud en insig bied."
Behendige leierskap
Die Skool vind duidelik baat by Midgley se leierskap. Die A-gegradeerde navorser het 31 jaar lank vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut op wetenskap- en beleidsgebied gewerk voordat hy in 2014 'n pos as professor in die US se Departement Plant- en Dierkunde aanvaar het. Boonop is hy ook tans die waarnemende voorsitter van die Universiteit se Sentrum vir Indringerbiologie (S×I×B), wat heelwat tot die Klimaatskool se snelle sukses bygedra het. “Dit was gewoon sinvol om te kyk hoe die bestaande personeel, fasiliteite en wetenskapsnetwerk van die S×I×B stukrag aan die Skool kon gee," sê Midgley.
Ook die US Waterinstituut se werk sluit by die Skool s'n aan. “Die Waterinstituut se nadoktorale genote ontwikkel hidrologiese modelle wat dit al hoe beter regkry om klimaatscenario's in hidrologiese scenario's om te skakel," verduidelik Midgley. “Dié modelle is veel nuttiger as gewone klimaatscenario's om die impak en risiko's vir verskeie sektore te bepaal."
Sinergie die sleutel tot sukses
In die toekoms wil die Skool gebruik maak van wat Midgley Suid-Afrika se “transformasie-agente" noem om die nodige klimaatskundigheid te bou. “Ons wil met die Nasionale Navorsingstigting, die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidnavorsing en andere saamwerk om 'n behoorlik getransformeerde groep nagraadse studente en beroepslui te ontwikkel wat die tipe kennis en leiding sal kan voorsien wat die streek sal vereis. Dis belangrik vir die ontwikkeling van volhoubare beleid."
Midgley is opgewonde oor die potensiaal van die Skool vir Klimaatstudie. “Die Skool is 'n nuwe struktuur by die US," sê hy. “Bestaande strukture kan nie doen wat die Skool ten opsigte van transdissiplinêre samewerking probeer doen, en dít oor iets so ingewikkeld en kompleks soos klimaatsverandering nie. Met die aanvanklike ontwrigting van die pandemie, is ons nou maar eers ses of sewe maande voluit aan die gang, maar 'n mens kan reeds die voordele van sinergie begin sien."
Om die belang van sinergie in die stryd teen klimaatsverandering te benadruk, voeg hy by: “Klimaatsverandering het 'n wye uitwerking – op energievoorsiening, grondgebruik, gewasverbouing, voedselsekerheid, stedelike ontwerp, behuisingsontwerp, watersekerheid, watergehalte. Die lys is nimmereindigend. As jy, as 'n universiteit, studente wil oplewer wat hierdie kwessies die hoof kan bied, gaan jy sukkel om dit binne die bestaande struktuur van gespesialiseerde fakulteits- en departementele silo's te doen. Daarom sal ons die bestaande klimaatskundigheid in ál hierdie silo's bymekaarbring en konsolideer."
*Afrika Streeksforum oor klimaatsverandering
Die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Klimaatstudies bied in samewerking met die Globale Alliansie vir Universiteite oor Klimaat (GAUK) die eerste Afrika Streeksforum (ASF) oor klimaatsverandering aan. Die forum vind van 5 tot 9 September plaas. Die hibridiese sessies sal op voedsel- en watersekerheid, ramprisikovermindering, volhoubare en betroubare energie en die impak van klimaatsverandering op mense en besighede in Afrika fokus. Bykomende sessies sal oor jeugbetrokkenheid en klimaataksie en -beleid handel.
Belangstellendes kan hul voorneme om die streeksforum by te woon, registreer deur op die skakel te klik.