Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing met impak ten toon gestel by FGGW se 66ste Akademiese Jaardag
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 01/09/2022

Klimaatsverandering is tans die grootste bedreiging vir die mensdom en globale gesondheid. Dit raak die hele wêreld en dit het geen respek vir grense nie. Die Amerikaanse Centres for Disease Control and Prevention (CDC) het gewaarsku dat die aantal pandemies besig is om toe te neem, en dat daar meer  as 10 000 virusse is, buiten SARS-CoV-2, waaraan die mensdom nog nie blootgestel is nie. Hierdie strak feite behoort te dien as ʼn dringende ontnugtering vir die wêreld om iets te doen om klimaatsverandering die hoof te bied.

Dit was die somber waarskuwing van dr Patrice Matchaba, President van die Novartis US-stigting en die wêreldbekende leier in globale gesondheid, tydens sy toespraak as gasspreker by die 66ste Akademiese Jaardag van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch.

In sy toespraak, met die titel ʼn Nuwe Dringendheid en Perspektief oor Globale- en Menslike Gesondheid, het Matchaba die top tien bedreigings vir globale gesondheid wat in 2019 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie geïdentifiseer is aangehaal. Dit is lugbesoedeling en klimaatsverandering; nie-oordraagbare siektes; globale griep-pandemies; broos en kwesbare omgewings; antimikrobiese weerstandigheid; Ebola en ander hoogs bedreigende patogene; swak primêre gesondheidsorg; inentingsweifeling; denguekoors; en MIV.

“As jy na hierdie top tien bedreigings kyk is dit almal verwant en die sentrale tema is klimaatsverandering," het hy gesê. “Dit hou als verband met hoe ons die omgewing verwoes het en dit impak wat dit het op die mensdom."

Matchaba is in Zimbabwe gebore en het ʼn suksesvolle verloskunde en ginekologie-praktyk bedryf in Suid-Afrika en het ook vir die Mediese Navorsingsraad in Kaapstad gewerk voordat hy 22 jaar gelede by Novartis Globaal aangesluit het. Tans is hy die Novartis US se hoof van Korporatiewe Verantwoordelikheid.

Hy het foto's van reg oor die wêreld gebruik om die verskriklike uitwerking van klimaatsverandering uit te beeld. Dit het ingesluit ʼn foto van ʼn groot hoop Amerikaanse buffel-skedels wat wag om opgemaal te word vir kunsmis, om “die totale verwoesting van ʼn pragtige dier en spesie" te demonstreer; ʼn foto van die Groot Koraalrif in Australië wat die verwoesting van biodiversiteit “wat so fundamenteel is vir oseaan-lewe" uitbeeld; ʼn foto van ʼn droë Hydepark in Londen wat onlangs geneem is om “ʼn droogte wat ons onsself nooit sou kon indink" wys; en ʼn foto van ʼn opgedroogde Rynrivier wat in Switserland begin en 80 persent van goedere en dienste in Europa vervoer.

Hy het ʼn foto gewys van ʼn orkaan in Amerika – “ons sien meer en meer hewige orkane in Amerika omdat die Atlantiese Oseaan besig is om te verwarm." En hy het ook ʼn foto gewys van toue mense wat in lyn staan vir water in Kaapstad tydens die stad se noue ontkoming met Dag-zero in 2018: “As dit kan Kaapstad kan gebeur, kan dit enige plek in die wêreld gebeur."

“Dus as jy my vra wat die nommer-een bedreiging vir globale gesondheid en die mensdom is, is dit klimaatsverandering. En in al julle navorsingsvelde kan julle iets daaraan doen," het hy vir die stampvol gehoor gesê.

Matchaba het die gehoor ook verwys na ʼn artikel in die joernaal Nature wat verduidelik hoe klimaatsverandering die risiko vir virale oordrag tussen spesies verhoog. Ander joernale het ook al verslag gedoen oor die gevare wat klimaatsverandering vir globale gesondheid inhou.

Hy het ʼn beroep gedoen vir meer navorsing en innovasie oor die impak van klimaatsverandering. Globale leierskap en nuwe wetenskap is nodig om klimaatsverandering aan te pak en om voor te berei vir toekomstige pandemies, en om te fokus daarop om koolstof vas te vang en ʼn groenekonomie te ontwikkel, het hy benadruk. Dit is ook lewensbelangrik om alles in ons vermoë te doen om die biodiversiteit van plante en diere te beskerm.

“Julle het die talent om dit te doen. Julle het dit tydens Covid-19 bewys," het hy aan die FGGW-navorsers en -klinici gesê, en bygevoeg dat dit baie positief is dat die universiteit opleiding bied aan wetenskaplikes van reg oor Afrika vir pandemie gereedheid.

In sy openingsrede van die FGGW se 66ste Akademiese Jaardag het prof Nico Gey van Pittius, die FGGW se Vise-dekaan: Navorsing en Internasionalisasie, gesê dat die fakulteit se navorsingsonderneming nog nooit in die fakulteit se geskiedenis sterker was as nou nie. Hy het statistieke gedeel wat wys hoe in die afgelope 10 jaar die fakulteit se navorsingsuitsette met 150 persent gegroei het; doktorale-inskrywing met 130 persent toegeneem het; PhD-toekennings met meer as 200 persent toegeneem het; en dat daar ʼn toename van 560 persent was in na-doktorale genootskappe.

Die FGGW-dekaan, prof Elmi Muller, het ook klem gelê op die baie suksesse wat die fakulteit tot dusver gelewer het, insluitend uitnemendheid in leer en onderrig, navorsing, en baie belangrik die groot stappe wat dit al gemaak het in diversiteit en transformasie. “Maar ons wil voortdurend groei en bou en uitbrei," het sy gesê, en ʼn aantal idees gedeel oor hoe om die fakulteit na die volgende vlak te neem.

 

Onderskrif: Dr Patrice Matchaba.