Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SOL Seminaar: Die insluiting van algemener geesteswetenskaplike en letterekonsepte by die biomediese wetenskapkurrikulum
Outeur: Division for Learning and Teaching Enhancement
Gepubliseer: 31/08/2022

Onderwerp: Die insluiting van algemener geesteswetenskaplike en letterekonsepte by die biomediese wetenskapkurrikulum

Aanbieder: Prof Faadiel Essop

“Hoe kan wetenskaplikes in hulle opleiding beter toegerus word om in 'n postwaarheidswêreld te funksioneer?"

Bogenoemde navorsingsvraag was die kern van 'n aanbieding op 8 September deur prof Faadiel Essop (Afdeling Geneeskundige Fisiologie, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en TAU-genoot) in die derde Leer- en Onderrigverrykingseminaar van 2022. 

Vir sy TAU- (“Teaching Advancement at Universities"-)genootskapsprojek het prof Essop 'n studie onderneem oor wetenskaplikes se geneigdheid om hulle dissiplines as 'neutraal' en gedekontekstualiseer te beskou. Hierdie 'wetenskaplike elitisme' kan wetenskaplikes van sosiopolitieke en historiese kontekste afsny, onder meer van dringende hedendaagse kwessies soos billikheid, herstel, dekolonisasie en die onreg van die apartheidsverlede.

Met die Covid-19-pandemie moes wetenskaplikes noodgedwonge toenemend in die openbare domein beweeg, waar hulle dikwels op bisarre bewerings/samesweringsteorieë moes reageer en die wetenskap op sigself moes verdedig. Sulke reaksies vereis egter 'n diepe, kritiese insig in die aard van die wetenskaplike proses (swakpunte, sterkpunte, filosofieë en sosiokultureel-politieke kontekste) en die wetenskaplike strewe na samehangende waarhede. Daarom moet wetenskaplikes beter toegerus word om in die 'postwaarheidswêreld' te funksioneer ('n omgewing waar objektiewe feite minder gewig dra in openbare meningsvorming as emosie en persoonlike oortuigings). 

Die doel van prof Essop se projek was om 'n nuwe honneursmodule in Geneeskundige Fisiologie te ontwikkel wat 'n gepaste pedagogiese raamwerk voorsien om algemener geesteswetenskaplike en letterekonsepte by die biomediese wetenskapkurrikulum in te sluit. Prof Essop wou ook bepaal hoe studente die module ervaar en watter impak dit kan hê. Die hipotese was dat hierdie interdissiplinêre module 'n transformerende onderrig- en leerervaring sal help skep en afgeronde gegradueerdes (met sterker graduandi-eienskappe) sal oplewer wat beter toegerus en opgelei is om van ons hedendaagse samelewingsuitdagings die hoof te bied.

Om die module te ontwikkel, het prof Essop met vier teoretiese konstrukte gewerk:

  • Oordenking in leer (Boud et al., 1985)
  • Outentieke (egte) leer (Rule, 2006)
  • Die kompleksiteit van die wetenskaplike proses (Matthews, 2012)
  • Menslike kompleksiteit in leer (Nussbaum, 2006).

Die ontwerpgebaseerde navorsingsbenadering wat prof Essop gevolg het, het daarop berus dat die nuwe module die beste geïmplementeer sou kon word en die grootste sukses sou behaal in leeromgewings waar:

1. sinvolle, praktiese probleme vir onderrig en leer gekies word;

2. boeiende diskoers in die klas gebruik word deur vir oop gesprek en uiteenlopende sienings voorsiening te maak;

3. 'n holistiese en kritiese begrip van die wetenskaplike proses bevorder word (wat aspekte van geskiedenis en filosofie insluit); 

4. selfbesinning deur studente aangemoedig word om kennisbou en -bevestiging te ondersteun en hulle empatiese vermoëns en begrip van sosiale geregtigheid te versterk; en

5. oop selfbesinningstake in samehang met outentieke assesserings gebruik word. 

Die nuwe module, “Kenmerke van die Wetenskap", is vroeër vanjaar van stapel gestuur en op die proef gestel. Dit moes in hierdie geval aanlyn aangebied word. Omdat die module egter 'n pedagogie van ongemak gebruik wat studente van 'n veilige na 'n waagmoedige klaskamerruimte verskuif, behoort dit volgens prof Essop verkieslik slegs in kontakvorm aangebied te word. 

'n Opname na afloop van die module toon 'n positiewe uitwerking op studente se bewustheid van sosiale geregtigheid en rassevooroordeel in die wetenskap, die waarde van oop gesprek oor hierdie kwessies, die kernrol van leer om die ontwikkeling van kritiese wetenskaplike vaardighede oordenkend te benader, en die waarde van interdissiplinêre samewerking (die module het ook die departemente Visuele Kunste en Joernalistiek betrek). Een student het opgemerk: “Die module was nuttig en het my heelwat stof tot nadenke gebied. Dit het my in staat gestel om my empatie met die menslike toestand te herevalueer, om die belang van samewerking en eerlikheid op wetenskaplike gebied te verstaan, en om te onthou om deur die hele wetenskaplike proses eties neutraal te bly." Vir 'n ander student was dit “iets heeltemal nuut om geleer te word dat wetenskaplike denke verder strek as die blote lineêre versameling van feite of inligting, maar ook kritiese en filosofiese denke oor verskeie onderwerpe kan behels". 

Studente se prestasie in die assesserings het die inherente voordele van die nuwe module bevestig.

Hoewel die opname en assesseringsresultate die korttermynimpak van die module getoon het, sal die langtermynimpak eers duidelik word indien daar tred gehou word met die studentekohort om te bepaal of hulle uiteindelik agente vir verandering in die samelewing word. Interdissiplinêre samewerking moet ook voortgesit word om dissiplinêre silo's af te breek.

'n Aangepaste weergawe van die module sal in 2023 aangebied word. Prof Essop verwag dat tot soveel as 50 studente die module aanstaande jaar sal voltooi, vergeleke met 16 vanjaar.