Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Trollie-uitdaging van fakulteite
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 29/08/2022

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe neem aan die universiteitswye trollie-uitdaging deel om geld in te samel en skenkings van nie-bederfbare voedsel, toilet- en sanitêre ware bymekaar te maak vir studente wat dit nodig het.

Die fakulteite se trollie-uitdaging is 'n voortdurende fondsinsamelingsinisiatief om personeel, studente en alumni van alle fakulteite aan te moedig om die Bridge the Gap-fonds te steun. Laasgenoemde is die Universiteit se fonds wat daarop gemik is om die struikelblokke uit die weg te ruim wat Maties daarvan weerhou om graad te kry. Bridge the Gap dien as 'n sambreel waaronder verskeie inisiatiewe soos #Move4Food, die Tygerberg Spensprojek, #EndPeriodPoverty, ens. val.

Met personeel en studente se ondersteuning kan ons US se maatskaplike werkers van genoeg kospakkies, toiletware en noodfondse voorsien om studente in die laaste kwartaal van die jaar en die eerste kwartaal van volgende jaar by te staan. Dit is die spitstye wanneer die nood onder student die grootste is.

EBW sal terselfdertyd met ander fakulteite meeding om te kyk wie die meeste skenkings insamel. As die grootste fakulteit het EBW 'n uitstekende kans om dié uitdaging te wen!

Die Fakulteit beskik oor twee houers vir skenkings: een is in die ingangsportaal van die CGW Schumanngebou geplaas en een is in die Van der Sterrgebou (naby die koffiekiosk langs die bord oor US se visie).

Alle fakulteite se skenkings sal bymekaar gemaak en vergelyk word aan die einde van die 2022-skenkingsdag op 7 Oktober 2022.

Die dekaan, prof Ingrid Woolard, sê: “Ons wil 'n beroep doen op jou om aan hierdie projek deel te neem ter ondersteuning van US-studente wat sukkel, en om te wys dat ons vir hulle omgee."