Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spyse vir die siel aan tafel in Jamestown
Outeur: Tendani Tshauambea en Adam Narain
Gepubliseer: 27/08/2022

'n Groep nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs met inwoners van Jamestown in Stellenbosch oor aandete in gesprek getree as deel van 'n samewerkingsinisiatief deur die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG) en die Senior Leef-omgewings kluster, in wat bekend staan as die 'In Conversation'-gespreksreeks. Jamestown is een van die vele dorpies wat op die geografiese randjie van sentrale Stellenbosch geleë is.

Die gespreksreeks is 'n konsep deur die Multikulturele Onderrigportefeulje van die SSG en groeperings binne die US.

Die doel van hierdie aandetes is om aan studente 'n beter begrip te gee oor die geskiedenis van Stellenbosch en die aangrensende gemeenskappe, en om groter wisselwerking tussen die studente en die gemeenskappe te bewerkstellig. Die toenemende interaksie sal (hopelik) die uitdagings én die geleenthede onderstreep ten opsigte van 'n meer geïntegreerde Stellenbosch-gemeenskap.

Die hart van hierdie inisiatief is die belangrike rol wat kos kan speel as 'n “voertuig vir maatskaplike verandering", aangesien dit mense bymekaar bring op 'n manier wat min ander dinge kan, sê Anim Steel, direkteur van National Programs by die Food Project in Boston, VSA. 

Sosio-ekonomiese verandering was 'n herhalende tema tydens die aand. Gedurende elk van die etes word 'n gasspreker vanuit die gemeenskap geïdentifiseer en genooi om te praat oor 'n spesifieke onderwerp wat betrekking het op daardie gemeenskap. Vir die Jamestown-ete was die spreker Dale Simons, 'n entrepreneur en direkteur van MiDO Technologies, 'n kleinsakeonderneming gebaseer in die gemeenskap. MiDO verskaf “gemeenskapsgefokusde IT-oplossings" aan opvoedkundige instellings en openbare weldaadsorganisasies.

Simons het spesifiek gefokus op hoe die maatskappy “sosiale impak bevorder" deur die “digitale skeidsmuur" af te breek, en meer te deel oor die model wat MiDO Technologies gebou het om daardie gaping te oorbrug tussen jonk en oud, plaaslik en wêreldwyd, gedagte en aksie,  deur digitale vaardighede. Hy het 'n praktiese oefening gedoen waar studente deel van 'n span moes vorm en 'n fiktiewe probleem rondom die oorbrugging van hierdie digitale skeidsmuur moes oplos.

Simons se trots in sy gemeenskap en die duidelikheid oor die toekoms van Jamestown was 'n sentiment wat beaam is deur die res van die Jamestowners, wat almal baie gewillig was om hul gemeenskap se metamorfose van plaas tot dorpie tot die dorp wat dit tans is, te bespreek.

Die aanwesige studente het ook hul waardering vir die geleentheid om aan die gemeenskap se stories en ervarings blootgestel te word, uitgespreek, en dat hulle met ope arms deur die Jamestowners verwelkom is. Dit, sê hulle, het vir hulle 'n hele nuwe perspektief van Jamestown gegee, veral aangesien die gemeenskap as 'n tipe “menslike biblioteek" kon dien waar hulle 'n skatkis van kennis kon optel en bande kon smee met die gemeenskap deur kos vir die siel, liggaam en gees.