Daar is 'n bekende verhaal van 'n seun op 'n strand vol uitgespoelde seesterre wat sy bes gedoen het om soveel moontlik daarvan terug te gooi in die see, al het hy goed geweet dis onmoontlik om almal te red. Hy't aangehou omdat hy geweet het hy maak 'n verskil in die lewens van dié wat hy wél teruggooi.
Die Universiteit Stellenbosch (US) se uittredende Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, prof Eugene Cloete, is 'n professionele 'redder van seesterre'. Een vir een. Daarvan getuig die honderde nagraadse studente en akademici wat dié 64-jarige mikrobioloog onder sy vlerk geneem en touwys gemaak het in die fyner kunsies van professionele wetenskap, en wat danksy hom as vakkundiges kon groei.
Trouens, die beginsel van die seesterverhaal is só deel van Cloete se lewensfilosofie dat 'n geraamde seester al 18 jaar lank teen sy kantoormuur hang.
Termyne as akademiese leier
Cloete het einde Julie ná twee suksesvolle vyfjaartermyne as viserektor uitgetree.
“Mens oorleef leierskap op grond van hoe jy jou posisionele leierskap hanteer. Die aangename herinneringe wat kollegas met my uittrede met my gedeel het, wil my laat glo ek't hierin geslaag.
“As jy in 'n leierskapsposisie is, gee jy alle regte en voorregte op. Dis totale onbaatsugtige diens. Ek's nie eens in beheer van my dagboek nie!" lag hy lekker.
Die belang van waardes en die kweek van respek, vertroue en integriteit is vir Cloete ononderhandelbaar.
“Jy sien hoe belangrik respek is wanneer jy met mense werk wat werklik van mekaar verskil. 'n Brug kan geslaan word as mense respek verstaan. Die wêreld is in chaos omdat daar nie respek is nie."
Dan spot hy goedig met homself: “Ja, van my vriende sê dat ek dalk 'n goeie prediker sou uitmaak."
Terugblik
Vir sy laaste Senaat- en Raadsaanbieding het Cloete dieselfde sespunt-PowerPoint-skyfie gebruik as vir sy heel eerste aanbieding in 2012. Hy kon dankbaar terugkyk op hoe die US sedertdien sy kundigheidsbasis, nagraadse studentesukses, navorsingsuitsette, innovasie en navorsingsfinansiering en -infrastruktuur versterk en multidissiplinêre navorsingsprogramme geskep het.
Die Raad het hom met die volgende mosie eenparig vir sy suksesvolle termyne bedank:
“Prof Cloete laat 'n gesonde portefeulje agter en het uitmuntende werk gedoen om 'n voortreflike, toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit te skep, belangrike vennootskappe te bou, en terselfdertyd nagraadse studie verder uit te brei as 'n belangrike volhoubare bousteen om dít alles te onderstut."
Tans is die US die tuiste van ses sentrums van uitnemendheid wat deur die Departement van Wetenskap en Innovasie gefinansier word – meer as by enige ander Suid-Afrikaanse universiteit. Toonaangewende entiteite soos die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, die Skool vir Klimaatstudie, die Fraunhofer-navorsingslaboratorium en die AUDA/NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie is gedurende sy ampstermyn tot stand gebring.
“Alles is saam met baie talentvolle kollegas gedoen. Die beste wat ek kon doen, was om 'n klimaat te skep om op die ses fokusareas uit 2012 te kon fokus, en só die US na nuwe hoogtes te neem," benadruk Cloete.
Hy is dankbaar vir die ondersteuning van die Rektor en vir goeie verhoudinge met die Rektoraat en dekane wat aan hom verslag gedoen het, sowel as mense soos senior direkteure dr Therina Theron (Navorsing en Innovasie) en Ellen Tise (Biblioteek- en Inligtingsdiens).
Hy beklemtoon ook dat die druk wat met die amp gepaardgaan onuithoudbaar sou gewees het sonder die onvoorwaardelike ondersteuning van sy vrou, Heloise, hulle gesin, sowel as sy regter- én linkerhand die afgelope dekade, Inge-Rae Scholtz.
Ander se sukses
“Akademici het baie verskillende uitkyke. Daardie diversiteit is goed en maak van 'n universiteit 'n gesonde plek. As jy ál hierdie verskillende vakgebiede, kulture, talente en geaardhede bymekaarbring rondom 'n probleem, kry jy nuwe oplossings."
Sy “suurtoets" vir of 'n besluit reg is, was altyd hoe dit tot personeel en studente se sukses sou bydra. En of hy bereid sou wees om dit op die Rooiplein te verdedig.
“My werk was ondersteunend: moreel, finansieel, of om geleenthede vir mense te skep. Die lekkerste was waarskynlik om deel te wees van ander se groei en sukses.
“Mense floreer as jy 'n positiewe verwagting aan hulle kommunikeer en hulle dan daarin ondersteun," verduidelik Cloete, wat hou van erkenning gee aan personeel deur byvoorbeeld 'n verjaardagoproep, 'n e-pos om dankie te sê, of toekennings vir toonaangewende of ontluikende navorsers.
Hy geniet die energie verbonde aan die aanbied van gereelde werksessies vir nuwelingnavorsers, en om as mentor vir ontluikende wetenskapsleiers te dien. Hy leer hulle oor die vereistes vir 'n suksesvolle akademiese loopbaan en konsekwente professionaliteit.
Navorser
“Harde werk troef altyd talent, totdat talent begin hard werk," sê Cloete, wat steeds sy eie finansieringsaansoeke opstel.
Omdat hy so aartsnuuskierig is oor die natuur het hy die afgelope dekade aanhou navorsing doen – en sodoende 'n verdere 12 nagraadse studente begelei en nóg vier patente en 70 publikasies op sy kerfstok bygevoeg.
Juis omdat dié genoot van die Amerikaanse Akademie vir Mikrobiologie, die Internasionale Watervereniging, die Waterinstituut van Suider-Afrika en die Royal Society of South Africa nooit sy eie aktiewe navorsing gestaak het nie, was sy aanspraak dat hy wetenskaplikes se uitdagings verstaan geloofwaardig.
“Ander ouens het stokperdjies. Ek lees 'n artikel of skryf 'n boek. Dis nie vir my werk nie."
Vroeë loopbaan
Dié plaasseun van Lady Grey se soeke na oplossings vir wêreldprobleme het by sy pa, Dan, begin.
“Ou seun, mense gaan altyd water en kos nodig hê. Studeer en werk in daardie veld," was sy bondige loopbaanraad.
Cloete het dié fokus deur die jare met sy eie sogenaamde WEALTH-navorsingsfilosofie uitgebou: Die W staan vir water, die E vir energy, education, employment en equity, die A vir agriculture en access, die L vir leadership en land, die T vir technology en transformation, en die H vir health, housing, hope en happiness.
Dié voltydse planmaker en deeltydse konsultant vir internasionale maatskappye het onder meer 'n tegniek ontwikkel om bakterieë wat roes in industriële koeltorings veroorsaak met elektrochemies geaktiveerde water te verwyder. Coca-Cola gebruik steeds die tegnologie in hulle fabrieke.
Hy was ook die eerste navorser wat uitgevind het dat sekere bakterieë op alge teer, wat kan keer dat slym-alge in varswater- en ander stelsels opbou.
Sy formele navorsingspad het met 'n BSc-graad (in 1979) en 'n meestersgraad in Plantkunde (1981) aan die Universiteit van die Vrystaat begin. Op die jong ouderdom van 26 het hy in 1984 sy DSc in Mikrobiologie (Watersuiwering) aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf nadat hy voltyds vir die chemiese maatskappy AECI gewerk het. Hy het twee jaar later die UP se jongste medeprofessor tot in daardie stadium geword.
Cloete het in 2009 sy pos as hoof van UP se Departement Mikrobiologie en Plantbiologie en voorsitter van die Skool vir Biologie vir die amp van dekaan van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe verruil.
Sy patente die afgelope aantal jaar sluit in funksionele nanovesels in miniwatersuiweringsfilters, en sonpanele om geoeste reënwater te pasteuriseer. Hy is die uitvinder van die gepatenteerde Rotoscope, wat die opbou van biovliese of slym in water en ander nat omgewings intyds moniteer om skade aan industriële waterstelsels te voorkom. Cloete het onlangs ook 'n PhD-student gehelp om 'n bioreaktor te ontwikkel om wynkelderafvoerwater te behandel. Sy patente is in verskeie fases van kommersialisering.
Sy werk het al lof ingeoes van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf), die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mikrobiologie en die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NSTF).
Volgende dekade
In die jare wat voorlê, beplan hy om voort te bou op sy nasionale én internasionale netwerke, en steeds as voorsitter te dien van die praktykgemeenskap vir entrepreneursgesinde universiteite van EDHE, 'n program vir entrepreneurskapsontwikkeling in die hoër onderwys.
“Ek retire nie. Ek rewire net. Aftrede bestaan in elk geval nie in my woordeskat nie.
“Ek reken die grootste impak van my loopbaan sal oor die volgende vyf tot tien jaar kom, as die Here my spaar."
Hy wil graag die patente waarby hy betrokke was, help implementeer en lisensieer, en ook teruggee aan die skole en navorsingsentiteite wat die afgelope tyd by die US opgerig is.
“Die streek se universiteite moet beter saamwerk, byvoorbeeld aan navorsing oor klimaatsake, datawetenskap, water en hernubare energie. Ek wil 'n katalisator wees om groepe bymekaar te kry en om sodoende kundigheid beskikbaar te stel vir die regering," sê Cloete, wat al in die direksies van ASSAf, die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR), die Waternavorsingskommissie en die Kankervereniging van Suid-Afrika gedien het.
Hy beywer hom ook vir 'n nasionale erkenningsdiploma, wat studente formeel erkenning sal gee vir krediete wat hulle op universiteit behaal al verlaat hulle die stelsel ná twee of drie sogenaamde onsuksesvolle jare.
“Dit sal die belastingbetaler baie geld spaar, studente meer geskik maak vir indiensneming, en keer dat hulle hulleself vir die res van hulle lewens as mislukkings sien.
“Ek is gelowig. Daarom is ek nie bang vir die toekoms nie. Ek glo al hóé lank in 'n God wat ek nie kan sien nie. Maar as ek na my lewe kyk, dan sien ek wat ek glo."
Hy wys na die 110 meesterstesisse en doktorale proefskrifte wat hy in 'n glaskas in sy kantoor bewaar.
“Dis monumente daardie. In my jonger dae het ek nie besef hoeveel betekenis studieleiding aan my loopbaan sou gee nie. As ek terugkyk, is dit belangriker as my 165-plus publikasies, ses boeke en nege patente. Met elkeen van daardie studente het ek 'n intellektuele pad geloop. Agt is nou professore, en baie is maatskappydirekteure. Almal is nog vriende."
Elkeen 'n seester.