Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe studie help ons om perinatale selfdood in Suid-Afrika te verstaan
Outeur: Jason Bantjes & Kerry-Ann Louw
Gepubliseer: 25/08/2022

Moederselfdoodkoerse in Suid-Afrika kan moontlik verminder word deur praktiese sorg en materiële hulp vir kindersorg en armoedeverligting aan perinatale ma's te bied, asook strategieë om die pa's te betrek en om die jong ma's te help om terug te gaan skool toe. Só skryf prof Jason Bantjes (Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad / Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing) en dr Kerry-Ann Louw (Departement Psigiatrie) in ʼn onlangse meningsartikel vir Daily Maverick.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Jason Bantjes en Kerry-Ann Louw*

Moedersterftes het die afgelope 80 jaar in die meeste wêrelddele geleidelik afgeneem, veral weens geneeskundige vooruitgang in swangerskapsorg, die gebruik van antibiotika, veiliger bloedoortappings, die bestuur van hipertensie en die wettiging van die beëindiging van swangerskappe. Maar moedersterftes weens trauma en beserings soos selfdood is steeds 'n openbaregesondheidsprobleem. Hoewel swangerskap oor die algemeen as beskermend teenoor die uitvoer van selfdood in hoëinkomstelande beskou word, is daar bewyse dat daar 'n toenemende risiko van selfdood onder swanger vroue is wat in moeilike omstandighede in lae- en middelinkomstelande – insluitende Suid-Afrika – woon. 'n Studie onder swanger vroue in 'n Kaapstadse gemeenskap met gebrekkige hulpbronne het bevind dat tot soveel as 18% van die vroue die vorige maand aan selfdood gedink het, terwyl 6% probeer het om selfdood te pleeg.

Net soos met selfdoodgedrag in ander lewenstadiums, hou perinatale selfdood soms met geestesgesondheidsprobleme soos depressie, middelgebruik en psigotiese siektes verband. Maar kontekstuele faktore asook vroue se ondervinding van swangerskap en hul verwagtings van moederskap speel ook 'n kragtige rol in moederselfdood. 'n Studie deur navorsers van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR), die Departement Psigiatrie by die Universiteit Stellenbosch (US) en die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing wat onlangs verskyn het, vestig die aandag op die konteks waarin perinatale selfdoodgedrag in Suid-Afrika voorkom.

Navorsers van die SAMNR en US het onderhoude met alle pasiënte gevoer wat in 'n tydperk van tien maande by die Groote Schuur-hospitaal opgeneem is ná n selfdoodpoging wat medies ernstig van aard was. Die navorsers wou by die pasiënte weet wat bygedra het tot hul begeerte om te sterf en watter ondersteuning hulle nodig het om toekomstige selfdoodgedrag te voorkom ná ontslag uit die hospitaal. Daar was talle jong vroue wat swanger was of onlangs geboorte geskenk het in die groep pasiënte. Dit was duidelik uit hierdie vroue se verhale dat hulle hul swangerskap as 'n fundamentele breekpunt in die struktuur van hul alledaagse lewe ervaar het wat die manier waarop hulle hulleself verstaan en hul lewenspad gesien het, versteur het. Hierdie soort breekpunte word biografiese ontwrigtings genoem omdat hulle die stories verander wat ons gebruik om sin te maak van onsself en ons plek in die wêreld.

Daar was vyf duidelike voorbeelde van biografiese ontwrigtings in die verhale van die vroue wat selfdood probeer pleeg het. Eerstens het sommige gesê hul swangerskap het hul skoolopleiding  onderbreek en het dus die toekoms wat hulle in die vooruitsig gestel het, uitgevee.

Tweedens het sommige vroue die trauma daarvan beskryf om 'n kind vir aanneming op te gee of om die swangerskap te beëindig.

Derdens het al die vroue beskryf hoe hul swangerskap 'n verlies aan onafhanklikheid, agentskap en ruimte vir hulleself veroorsaak het.

Vierdens het die vroue onder kritiek en veroordeling deurgeloop weens hul onbeplande swangerskappe.

Vyfdens het die vroue verduidelik hoe moeilik dit is om die oorgang na 'n nuwe rol as versorger en na die nuwe identiteit as 'n ma te maak.

Ten slotte …

Die vroue in hierdie studie het nie net psigoterapie nodig nie, maar hul stories herinner ons ook daaraan dat moederselfdoodkoerse in die land moontlik verminder kan word deur praktiese sorg en materiële hulp vir kindersorg en armoedeverligting aan perinatale ma's te bied, asook strategieë om die pa's te betrek en om die jong ma's te help om terug te gaan skool toe.

Dit is veral belangrik dat die nuwe studie oor swanger vroue met selfdoodneigings aan die hand doen dat een manier om selfdood te verstaan, is om dit as 'n reaksie op verwarrende biografiese ontwrigtings te sien wat as onherstelbaar en ongelyk aan jou sin van self en die toekoms wat jy vir jouself in die vooruitsig gestel het, ervaar word. Selfdoodgedrag kan 'n manier wees om beheer en eienaarskap oor jou lewe te herstel of om 'n identiteit of toekoms wat op jou afgedwing word, te vernietig.

  • Selfdood kan voorkom word en hulp is beskikbaar. Enigeen wat selfdoodgedagtes ondervind, moet met iemand praat wat hulle vertrou, of hul dokter raadpleeg, of 'n 24-uur-hulplyn soos die Suid-Afrikaanse Angs- en Depressiegroep  (0800 567 567) of LifeLIne (0861 322 322) te skakel. Reik uit, vra vir hulp, bly in aanraking.

Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.

*Prof Jason Bantjes is 'n hoofspesialiswetenskaplike in die Navorsingseenheid oor Alkohol, Tabak en ander Middels by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Hy beklee ook 'n buitengewone pos as medeprofessor by die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing by die Universiteit Stellenbosch (US). Dr Kerry-Ann Louw is verbonde aan die Departement Psigiatrie by die US en staan aan die hoof van die Kliniese eenheid vir Volwasse Psigiatriese Dienste by die Tygerberg-hospitaal.