Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rekeningkunde-skryfskool bevorder samewerking tussen US en UK
Outeur: Juan Ontong & George Nel
Gepubliseer: 25/08/2022

Dosente van die Skool vir Rekeningkunde by die Universiteit Stellenbosch (US) en die Kollege vir Rekeningkunde by die Universiteit van Kaapstad (UK) het onlangs 'n driedaagse skryfskool by die Mont Fleur-konferensiesentrum naby Stellenbosch bygewoon. Dit was die tweede gesamentlike skryfskool, wat nou 'n jaarlikse instelling geword het.

Die doel van dié skryfgeleentheid was om navorsingsamewerking tussen US en UK te bevorder, terwyl deelnemers tyd aan hul eie navorsingsprojekte bestee. Prof Ruth Albertyn van die Departement Kurrikulumstudie by US het as skryfkonsultant en fasiliteerder opgetree.

Dr George Nel, adjunkdirekteur van navorsing by die Skool vir Rekeningkunde, het opgemerk: “Skryfskole is besonder nuttig, want dit skep 'n atmosfeer van vertroue en veiligheid wat skryfwerk oor navorsing bevorder".

Deelnemers het saamgestem dat hul begrip van hul navorsingsvelde deur kruisbestuiwing verryk is, dat hul interaksie met ander akademici navorsing geïnspireer en met motivering gehelp het, en dat beide die insette en die terugvoer van die fasiliteerder tot die navorsingsproses bygedra het.

Een van die deelnemers se kommentaar was: “Die skryfskool het my die geleentheid gegee om idees met kollegas uit te ruil wat dieselfde ingesteldheid as ek het." 'n Ander deelnemer het gesê: “Samewerking met ander navorsers is oneindig waardevol vir 'n akademiese vakkundige. Skryfskole dien nie net as 'n geleentheid om agterstallige navorsing in te haal nie, maar ook as 'n netwerkgeleentheid vir interaksie met gerespekteerde navorsingsleiers in hul studievelde."

  • Foto (verskaf): Deelnemers het die tyd by die skryfskool benut om aan artikels en navorsingsvoorstelle te werk, en om navorsingsidees met mekaar uit te ruil. Sodoende is 'n atmosfeer geskep wat gunstig is vir toekomstige navorsingsamewerking en kwaliteitnavorsing.​