Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Corné Coetzee ontwikkel sagteware vir beter hantering van korrelagtige materiale in myn- en landbousektore
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 22/08/2022

Prof Corné Coetzee van die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch het onlangs sy professorale intreerede, getiteld 'Modellering van korrelagtige materiale: onderbroke en deurlopende benaderings' (Modelling of granular materials: Discrete and continuum approaches), gelewer. Hy het aan die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking vertel hoe die sagteware wat hy ontwikkel, gebruik word om die hantering van korrelagtige materiale in die myn- en landbousektore te verbeter.

Vertel ons meer oor jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke vakgebied belangstel.

My familie het in my kinderdae 'n konstruksiemaatskappy met groot grondverskuiwingstoerusting besit. Dit het my belangstelling in die meganiese aspek daarvan geprikkel. Ek het dus ná skool besluit om meganiese ingenieurswese te studeer. Ek was tot laat in my voorgraadse studie nog onseker oor wat ek wou doen nadat ek my graad voltooi het. My navorsingsprojek in my finale jaar het oor die verbetering van ons begrip van die gedrag en vloei van korrelagtige materiale (deeltjies) gehandel. Dit was iets wat nou verwant was aan die grondverskuiwingsaktiwiteite wat ek dikwels as kind gade geslaan het. Toe ek met my projek begin, het ek my liefde vir navorsing ontdek en ek het nie gehuiwer om my meesters- en doktorsgraad oor dieselfde onderwerp te doen nie.

Deesdae fokus my navorsing op die ontwikkeling van numeriese instrumente (rekenaarsagteware) wat die gedrag van korrelagtige materiale kan modelleer en voorspel vir aanwendings in geotegniese ingenieurswese en stortmaat-soliede hantering.  

Beskryf die toepaslikheid van jou werk, veral in ons Suid-Afrikaanse konteks.

Die sagteware-instrumente wat ons ontwikkel, word in die ontwerpfase gebruik om verbeterde stortmaat-toerusting te ontwerp, asook om probleme op te los in bestaande toerusting waarvan die werkverrigting nie na wense is nie. Dit word hoofsaaklik in die myn- en landbousektore – wat belangrike rolspelers in die Suid-Afrikaanse ekonomie en voedselsekerheid is – gebruik. Die meeste materiale in hierdie sektore is in massa-soliede vorm, met ander woorde in korrelvorm. Voorbeelde sluit vervoerbandtoerusting en vervoerband-oorplasingstortgeute in, asook alle toerusting wat vir die hantering, berging, vervoer en verwerking van gemynde erts en landbouprodukte soos mielies en graan gebruik word.

Vertel ons meer oor die impak van jou navorsing.

Verbeterde toerustingontwerp beteken toerusting wat energiedoeltreffender is, minder vermorsing en besoedeling en hoër produktiwiteit.

Vertel ons watter aspekte van jou werk jy die meeste geniet.

Ek geniet veral die uitdaging van probleemoplossing, die onbekende, om te gaan waar niemand nog vantevore was nie – dit voel soos 'n ontdekkingsreis. Iemand het een keer gesê, “alle modelle is verkeerd, maar sommige is nuttig". Ons modelle is gegrond op natuurlike verskynsels deur waarneming en meting. Daarom leer ons met elke nuwe ontdekking – selfs al is dit klein – 'n bietjie meer en kan ons ons modelle stelselmatig verbeter.

Die pandemie het ons werk- en leefwyse verander. Hoe het jy gemotiveerd gebly gedurende hierdie tyd?

Die pandemie het geen noemenswaardige uitwerking op my werk of lewe gehad nie. Ek het geweet dinge sal weer in 'n stadium na normaal terugkeer, daarom het ek eenvoudig net voortgegaan met my akademiese aktiwiteite.

Vertel ons wat jy in jou vrye tyd doen wanneer jy nie met lesings en navorsing besig is nie.

Ek is baie lief vir bergfietsry, en met die pragtige Stellenbosse roetes hier rondom ons, doen ek my bes om heel jaar deur twee of drie maal per week te gaan fietsry. Dit hou my fiks en help ook om my kop skoon te maak sonder enige onderbrekings. Ons gaan kamp ook graag vir vakansie in ons buurlande, veral in Namibië en Botswana.