Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USVroue: Nokwanda Siyengo – “Vroue is die steunpilare van die samelewing"
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 22/08/2022

Nokwanda Siyengo is die bestuurder van die Universiteit Stellenbosch (US) se SciMathUS-universiteitsvoorbereidingsprogram, wat studente 'n tweede kans bied om vir hulle voorkeurstudieprogramme te kwalifiseer en in te skryf. Selfs na 15 jaar in dié pos bly dit vir haar 'n bron van vreugde om te sien hoe eens wanhopige leerders die geleentheid aangryp om universiteit toe te gaan en uiteindelik gradueer.

As deel van die US se Vrouemaandvieringe, vertel Nokwanda ons meer van haar werk en die leierseienskappe wat dit vereis.

Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch.

Ek is die komponenthoof van universiteitsvoorbereidingsprogramme in die US se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) in die Fakulteit Opvoedkunde. In dié hoedanigheid bestuur ek al die afgelope 15 jaar die SciMathUS-program.

SciMathUS bied 'n tweede geleentheid aan studente wat graag hulle matriekpunte in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe of Rekeningkunde wil verbeter. Met beter punte staan die studente 'n beter kans om vir hoogs mededingende programme op die WTIW-vakgebiede (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) gekeur te word. Die program dra ook tot die US se diversiteitsprofiel by deur vir opvoedkundig benadeelde studente voorsiening te maak.

Ek is trots daarop dat SciMathUS-studente hulle al as dokters, ingenieurs, rekenmeesters, dosente, onderwysers en nog vele meer bekwaam het. Die SciMathUS-ervaring het hulle opvoedkundige sukses ontsluit.

Met die program het ons ook vlot samewerking tussen verskillende US-omgewings. Almal werk saam om te sorg dat SciMathUS-studente maklik en met selfvertroue hulle weg deur die US-landskap kan baan.

Wat geniet jy die meeste van jou rol?

Ek put soveel vreugde uit my werk, want dit skep nimmereindige geleenthede vir jongmense. Wanneer studente hulle by die program aansluit, is daar 'n oorweldigende gevoel van mislukking, want hulle is nie gekeur vir die programme wat hulle graag ná graad 12 wou volg nie. Dít gee my dan 'n geleentheid om hulle anders oor hulle akademiese prestasie te laat dink. In die meeste gevalle besef hulle uiteindelik dat hulle potensiaal nog ontsluit moet word en dat hulle beter as in graad 12 kan vaar.

Ek geniet dit om te sien hoe studente groei en hulle verborge akademiese talente ontwikkel. Ons bied studente van oor die hele land 'n ruimte waarin hulle aangemoedig word om vrae te vra en te glo in hulle eie vermoë om met oplossings vorendag te kom. Ons interaktiewe onderrig- en leermetode is gegrond op die teorie van konstruktivisme, wat kortom daaroor gaan dat niemand kennis kan verwerf deur dit passief waar te neem nie. Jy moet aktief aan jou eie leer deelneem.

Boonop geniet ek die kameraderie met personeellede wat bereid is om 'n verskil in ander se lewens te maak deur hulle kennis in te span om studente touwys te maak in vakke wat gewoonlik as abstrak en moeilik beskou word.

Wat is volgens jou die belangrikste leierseienskappe wat jou werk vereis?

Vir hierdie werk het 'n mens 'n breë kennis van die onderwyssektor nodig. Jy moet die voortdurende veranderinge in die onderwys kan verstaan, nie net nasionaal nie, maar ook internasionaal. Jy moet kan begryp hoe die departemente van Basiese Onderwys sowel as Hoër Onderwys en Opleiding tot studente se sukses wil bydra. Ek dink ook jy moet passievol wees oor onderwys as 'n grondliggende bron van kennis. Boonop moet jy weet hoe om studente met positiewe denke te motiveer, en jy moet kan leer en bereid wees om te verander.

Leiersrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveerd?

My eie lewensreis motiveer my. Ek was 'n eerstegenerasiestudent en moes 'n klomp uitdagings te bowe kom om verder te studeer. Ek is passievol oor sosiale geregtigheid en glo steeds dat onderwys van die allergrootste belang is om die gees te bevry. Ek word gemotiveer deur die energie van die jeug, wat oneindige moontlikhede raaksien en hard werk om hulle drome te verwesenlik. In my werk kan jy ook nie anders as om 'n lewenslange leerder te wees nie.

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirantvroueleiers?

Vroue in leiersposte bring nie net hulle kwalifikasies na die pos nie. Hulle bring ook die karakter, wysheid en lewensvaardighede wat hulle op hulle lewensreis opgedoen het. Ek sou jong aspirantvroueleiers aanraai om nie bang te wees om te wys hoe sterk hulle is nie. Vroulikheid word dikwels met swakheid verbind en tog is ons die steunpilare van die samelewing.

Motiveer jouself voortdurend; min mense sien regtig jou moeite raak. Stel jou eie doelwitte en streef dit een vir een na. Wees gaaf met jouself en gun jouself tyd om gedurende jou leierskapsreis dinge te oordink, nuwe strategieë te beraam, en te besin.

Laastens, onthou altyd jou span; onthou dat jy saam met ander mense werk. Ek sê dít, want ek self staan op die skouers van 'n besonder passievolle span. Ons werk baie goed saam en vul mekaar aan in alles wat ons doen.

 Fotograaf: Stefan Els