Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​#USVroue: Dr Elmien Sinclair: 'Leierskap is veeleisend, dog baie vervullend'
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 11/08/2022

​Leierskap is veeleisend, veral om te voldoen aan verwagtinge dat leiers al die antwoorde moet hê. Maar leierskap kan baie vervullend wees, veral as leiers aanvaar dat hulle nie al die antwoorde het nie en ander vergesel op die reis om dit te vind. Hierdie wysheid oor leierskap maak deel uit van dr Elmien Sinclair se dagtaak as Hoof van die Eenheid vir Akademiese Voorligting en Ontwikkeling (EAVO).

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe vertel sy ons meer van die leidende rol wat sy speel om alle studente te ondersteun om akademiese en lewensvaardighede te ontwikkel wat hulle sal help om sukses in hul studies en latere loopbane te behaal.

Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch

Ek is Hoof van die Eenheid vir Akademiese Voorligting en Ontwikkeling (EAVO), een van vier eenhede in die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO). Ek is ook ʼn opvoedkundige sielkundige. Ons bied ondersteuning met die ontwikkeling van broodnodige akademiese en lewensvaardighede wat studente in staat stel om sukses te behaal. Ons bied ook loopbaanvoorligting vir geregistreerde studente aan. Die Eenheid het voorts ʼn internskapprogram – wat by die Gesondheidsberoeperaad van Suid-Afrika geregistreer is – vir studente met ʼn Meestersgraad in Opvoedkundige Sielkunde. My rol is om die dienste strategies binne die Universiteitsgemeenskap te posisioneer om optimale toegang te verseker vir alle studente wat ondersteuning nodig het.

Wat geniet jy die meeste van jou rol?

Ek dink dis regtig 'n voorreg om as 'n sielkundige getuie van ander mense se lewensverhale te wees. In my posisie hoor ek talle stories – dié van baie suksesvolle studente én van diegene wat sukkel. Ek het ook die voorreg om te sien hoe jong beroepslui die werkomgewing as sielkundige interns of nuwe heeltydse personeellede betree en in hul nuwe rolle as ondersteuners van die studentegemeenskap ontwikkel en groei. Ek geniet die dinamiese aard van die werk wat ons doen – om met belowende potensiaal te werk en ʼn omgewing te skep waar mense toegelaat kan word om te floreer.

Wat dink jy is die belangrikste leierskapseienskappe om hierdie spesifieke rol te vervul?

Jy moet gemaklik daarmee wees om nie al die antwoorde te hê nie. Elke dag bring nuwe vrae en dit is oukei om nie die een te wees wat daardie vrae moet beantwoord nie. As 'n leier is dit meer waardevol om aan ander mense te kan demonstreer dat jy nie perfek is nie en nie weet nie – vergesel eerder ander in die proses om hulp en antwoorde te soek. Die ander eienskappe wat ek doelbewus ontwikkel, is taaiheid en ratsheid. Ek het vinnig besef dat mens na die beste van jou vermoë kan beplan, maar elke dag bring nuwe uitdagings en 'n mens moet met grasie daarby kan aanpas.

Leierskapsrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveer?

Ek stem saam dat dit veeleisend kan wees, maar dit kan ook baie vervullend wees. Min dinge verskaf my soveel plesier en energie as om sukses en geluk saam met my EAVO-kollegas te vier. Dis belangrik om geleenthede vir personeellede te skep om hul belange uit te brei en te ontwikkel. Ons sukkel soms saam en deel frustrasies, maar ons lag ook dikwels saam. As jou personeel tevrede is, is dit nie moeilik om as 'n span te funksioneer nie. Dan is die omgewing vrugbaar vir nuwe idees, kreatiwiteit en positiewe energie. So 'n omgewing verskaf volhoubare momentum aan ʼn span, selfs in moeilike tye.

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirant-vroueleiers?

Jy moet 'n duidelike prentjie hê van wie jy is en waaraan jy waarde heg, maar jy moet ook oop wees vir verskillende menings en idees. Dit is vir my belangrik om tevrede met my sterk punte en uitdagings te wees. Ek glo respek vorm die ruggraat van suksesvolle leierskap. Mense is uniek en het verskillende omstandighede; daarom moet mens altyd lei ooreenkomstig die beginsel van soveel mense, soveel dinge. Dit is voorts belangrik om aktief geleenthede te soek om jouself as 'n leier te ontwikkel. Leierskap is 'n dinamiese proses en ons bereik nie bestemmings nie. Ons is voortdurend op reis en ons vertrou die spanne wat ons lei om dit die moeite werd en interessant te maak. Soms steek van die spanlede ons op dié reis verby en soms verlaat hulle ons om by ander reise aan te sluit en dit is ook in orde – solank ons die reis geniet vir wat dit werd is.

 

 Fotograaf: Stefan Els