Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Onderrigtoekennings 2022
Outeur: Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 11/08/2022

Aansoeke word tans ingewag vir die Universiteit Stellenbosch (US) Onderrigtoekennings 2022. 

Die Onderrigtoekennings erken en beloon uitstaande onderrig aan die US. Alle akademiese personeel wat onderrig gee, kan vir hierdie toekennings in aanmerking kom. 

Akademici kan om ʼn individuele toekenning of ʼn samewerkende toekenning aansoek doen: 

1.       Individuele toekennings
Die individuele toekennings word in twee kategorieë aangebied, naamlik Vakkundige Opvoeder (“Scholarly Teacher") en Toonaangewende Onderwysvakkundige (“Leaderly Teaching Scholar").

Volgens die Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) ontwikkel die onderrigrol “van nadenkende praktisyns[1] tot vakkundige opvoeders, wat dan onderwyssvakkundiges[2] en uiteindelik toonaangewende onderwyssvakkundiges word": 

1.1  Die toekenning vir Vakkundige Opvoeder (voorheen bekend as Ontluikende Dosent) is bedoel vir akademici wat in hulle onderrig as nadenkende praktisyns optree en ook:

    • uit opvoedkundige literatuur put om oor hulle onderrigpraktyk en professionele groei na te dink, en
    • verder as persoonlike besinning na waarneming en portuurbeoordeling van hulle onderrig beweeg.
      (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5) 
  1. 2 Die toeke​nning vir Toonaangewende Onderwysvakkundige (voorheen bekend as Uitgelese Dosent) is bedoel vir akademici wat in hulle onderrig as onderwysvakkundiges optree en ook:
    • deur publikasie tot bestaande onderrig- en leerkennis bydra, en
    • institusionele, nasionale en internasionale leierskap op die gebied van onderrigpraktyk bied.
      (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5) 

2.       Samewerkende toekenning
Die Onderrigsamewerkingtoekenning is bedoel vir 'n groep van twee of meer akademici uit dieselfde departement of verskillende departemente/fakulteite wat vir 'n deurlopende tydperk saamgewerk het om 'n module, program of ander onderrigverwante projek soos kurrikulumvernuwing te ontwerp, ontwikkel en aan te bied. Ten tyde van die aansoek moet die module/program/projek reeds vir minstens twee jaar in die implementeringsfase wees. 

Ooreenkomstig die Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) word die onderrigportefeulje as hoofinstrument gebruik om uitnemende onderrig in aldrie kategorieë te beoordeel. Adviseurs van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) bied bystand met portefeulje-ontwikkeling in fakulteite.

Benoemdes word aanvanklik deur middel van ʼn interne fakulteitsproses gekies. Suksesvolle aansoeke word daarna by die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL), by kcattell@sun.ac.za, ingedien. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Oktober 2022. Ná beoordeling deur ʼn institusionele keuringskomitee sal die suksesvolle kandidate in die vierde kwartaal van hul toekennings in kennis gestel word. Hulle sal hul toekennings by ʼn plegtigheid aan die einde van daardie kwartaal ontvang.

Vir navrae, kom gerus in aanraking met dr. Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za.


[1] “Nadenkende praktisyns besin doelbewus en krities oor hulle onderrigpraktyk, en hersien en dokumenteer hulle professionele groei stelselmatig" (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5).

[2] Onderwysvakkundiges is vakkundige opvoeders wat hul onderrigpraktyk navors en hul professionele groei dokumenteer “met die oog daarop om hulle bevindinge in die openbaar te publiseer en tot bestaande onderrig- en leerkennis by te dra" (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5).