Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Somerskool in Duitsland het baie geleenthede gebied, sê student
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 10/08/2022

Sheba Kashiri het nie net 'n hernieude waardering vir haar studies aan die Universiteit Stellenbosch ontwikkel nie, maar ook 'n beter begrip van haar toekomstige loopbaan in haar gekose veld nadat sy onlangs die Kühne Somerskool in Volhoubaarheid in Duitsland bygewoon het.

Dié somerskool, wat by die Kühne Logistieke Universiteit in Hamburg gehou is, het studente met nuwe teoretiese konsepte, vaardighede en hulpmiddels toegerus om die uitwerking van besighede op die omgewing en die samelewing beter te verstaan. Studente wat oor hierdie kennis beskik, is in groot aanvraag by maatskappye en kan magtige aandrywers van volhoubare verandering word.

Studente is aan interaktiewe lesings, gevallestudies, groepwerk en uitstappies blootgestel. Aan die einde van die kursus kon studente onder meer 'n maatskappy se verbintenis tot volhoubaarheid beoordeel, kompromieë tussen 'n maatskappy se onderskeie volhoubaarheidspogings herken en korporatiewe volhoubaarheidspraktyke en -geleenthede in 'n sakeomgewing identifiseer.

Kashiri is tans met haar tweedejaarstudie vir 'n Diploma in Volhoubare Ontwikkeling aan die Skool vir Publieke Leierskap besig. Sy sê vóór die somerskool was sy onseker oor hoe haar toekomstige loopbaan in die volhoubare ontwikkelingsruimte sou lyk nadat sy haar studie voltooi het.

“Ek was een van daardie mense wat bekommerd was oor wat hulle ná hul studies gaan doen. Maar die somerskool het my van al my bedenkinge verlos. Dit het my soveel selfvertroue gegee en my toegelaat om my studies te waardeer. Dis belangrik, want om daarin uit te blink, moet 'n mens passievol daaroor wees. Ek het 'n nuwe energie en waardering vir my studies ontwikkel en ek geniet dit."

Kashiri sê elke dag wat sy by die somerskool deurgebring het, was 'n onvergeetlike ervaring.

“Elke dag was ongelooflik op sy eie manier. Wat egter vir my die meeste uitgestaan het, was toe ons Klimahaus Bremerhaven (Klimaathuis in Afrikaans) besoek het. Dit is 'n museum wat ontwerp is om mense oor verskillende lande se temperature en klimaat in te lig, sodat hulle meer oor klimaatsverandering kan leer. Ons het na agt klimaat- en temperatuurstasies gereis; dit beteken dat ons agt verskillende lande in een gebou bestudeer het."

“Gedurende die eerste dag van die somerskool het ons ook deelgeneem aan 'n kookgeleentheid waar ons ons eie aandete moes kook. Ek is lief vir kook en bak, so om dit op my eerste dag van die somerskool te doen, was wonderlik."

Sy sê die Kühne Somerskool in Volhoubaarheid stel 'n mens ook bloot aan 'n klomp geleenthede.

“Dit stel 'n mens in staat om goeie netwerke te bou, idees te ontwikkel en om bewus te wees van wat in regoor die wêreld gebeur."

Volgens Shaun Dunn, 'n dosent by die Skool vir Publieke Leierskap, bied kursusse soos die Kühne Somerskool in Volhoubaarheid studente die geleentheid om tersiêre opleiding buite Suid-Afrika te ervaar.

“By die Diplomaprogram in Volhoubare Ontwikkeling moedig ons studente aan om kontakte plaaslik, kontinentaal en internasionaal te ontwikkel. Deur sterk Afrika- en internasionale netwerke te ontwikkel, sal hul sosiaal-ekologiese impak op baie plekke in die wêreld gevoel word. Dit stel hulle hopelik in staat om leiers te word wat 'n verskil maak deur met die hart te lei."

Hy het gesê US-studente wat belangstel in kortkursusse wat deur verskeie oorsese universiteite aangebied word, kan deur die Universiteit Stellenbosch se Internasionale Kantoor aansoek doen.

Die drie jaar lange diplomaprogram in Volhoubare Ontwikkeling, wat by die praktiese hub van die Volhoubaarheidsinstituut aangebied word, voorsien studente van teoretiese kennis en praktiese ervaring op die gebied van volhoubare tegnologieë, kompleksiteit en ekologie, sosiale entrepreneurskap, leierskapsontwikkeling, sosiale aktivering, kleinsakebestuursvaardighede, kreatiwiteit en storievertelling.

  • Hooffoto's: Sheba Kashiri besig om aandete voor te berei en by Hamburg-stasie. 

  • Foto regs onder: Sheba Kashiri met ander studente wat die Kühne Somerskool bygewoon het.
Sheba Kashiri with other students.jpg