Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groentetuine by skole het impak of leerders en die gemeenskap
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 05/08/2022

Danksy die Jala Peo Voedsel- en Voedingstuingprojek spog elke deelnemende laerskool langs die droë Weskus nou met 'n goedversorgde groentetuin wat leerders se leer oor landbou bevorder en voedsel vir voedingsprogramme by skole en in gemeenskappe produseer.


Hierdie prestasie is vir die aanvanklike 19 deelnemende skole die hoogtepunt van vier jaar se harde werk en samewerking tussen verskeie belanghebbers, insluitende die Universiteit Stellenbosch (US), sê me Sunet Anderson, projekkoördineerder van die Jala Peo Skoolvoedsel- en Voedingstuine by Jet Onderwysdienste, 'n Johannesburgse organisasie wat op die verbetering van onderwys vir die benadeelde Suid-Afrikaanse bevolking fokus.


Die belanghebbers, insluitende die Universiteit, sit vanjaar hul samewerking voort. Hulle het dieselfde visie om groentetuine by benadeelde skole bekend te stel om hongersnood uit te wis en opvoeding te bevorder. “Die belanghebbers wil graag help om hongersnood veral onder kinders uit te wis en wil opvoeding bevorder. Hulle bydraes help om hierdie doelwitte te laat realiseer," sê Anderson.272971172_748111949911713_3876136194055136288_n.jpg


Die US het einde verlede jaar 'n memorandum van verstandhouding met Jet gesluit en daarmee het die Universiteit 'n belangrike rol vervul om 'n kosterekening te skep en die projek se geldsake te bestuur. “Die projek is dus selfonderhoudend en word nou plaaslik bestuur eerder as om geldelik en vir bestuur van 'n sentrale agent afhanklik te wees," verduidelik Anderson.


Ter voortsetting van die samewerking vanjaar, bied die US opleiding in watervriendelike tuinbou en fasiliteer die instelling skakeling met Power Ponics, 'n niewinsgewende maatskappy wat akwaponika by sommige van die skole installeer. Die Universiteit verskaf ook opleidingsmateriaal vir onderwysers wat met die kurrikulum belyn is.


Voedseltuine in geharde, droë omstandighede

Laerskole wat deel is van die projek, is in die harde, droë en onderbediende gebiede naby Vredendal, Bitterfontein, Klawer, Doringbaai en Vanrhynsdorp – almal in die Matzikama munisipale distrik geleë.


In 2018 het 19 skole by die proeffase aangesluit weens hul groot behoefte aan infrastruktuur en opvoedkundige opleiding. Verlede jaar is nog ses skole bygevoeg.


Om aan die projek deel te neem, moes die skole verskeie uitdagings oorkom wat hul tuinmaakplanne teengewerk het. Om oplossings te vind, het hulle daarin geslaag om die omgewings- en weerprobleme te oorkom.


Uiteindelik het al die skole hul doel bereik om goed-onderhoude en produserende tuine te vestig en maak dit nou deel uit van die skole se daaglikse bestuur. “Boonop het hulle ook die tuinprojek by die leerders se skoolkurrikulum ingesluit, het hulle vars produkte aan skoolvoedingsprogramme verskaf en tot die vergroening van die omgewing bygedra," sê Anderson.


Anderson beklemtoon dat al die rolspelers in hierdie sosiale-impakinisiatief waardevolle lesse en beste praktyke oor volhoubare tuinbou in moeilike omstandighede geleer het. Die meeste lesse gaan oor hoe om ongunstige omstandighede soos waterskaarsste, droë, warm weerstoestande, swak grondgehalte, lae menslike kapasiteit, grondpaaie en lang afstande te oorkom.


“Die skole het danksy die befondsing van 'n wye verskeidenheid belanghebbendes, infrastruktuur ontvang om die droë, moeilike klimaatstoestande langs die Weskus beter te hanteer. Dit sluit in skadunetstrukture en tenks vir reënwater.


“Die Departement van Landbou het 'n belangrike rol gespeel om die menslike kapasiteit en vaardighede te verbeter deur tuiniers, onderwysers en gemeenskapslede op te lei in grondvoorbereiding en groenteverbouing.


“Die Departement van Gesondheid se bydrae het die aanbieding van werksessies oor voeding vir leerders, gemeenskapslede en voedselhanteerders in die Nasionale Skoolvoedingsprogram behels, deur die groente uit die skoolvoedseltuine te gebruik om maaltye vir leerders te berei," sê Anderson.


Oor die algemeen fokus hierdie projek op die instandhouding en verdere ontwikkeling van die skooltuine langs die Weskus, die moontlike uitbreiding van die projek na ander Wes-Kaapse skole en die ontginning van meer befondsingsgeleenthede en navorsingsmoontlikhede, sê Anderson. Sygenta het onlangs by die projek aangesluit as 'n belangrike finansiële bydraer.


Die US is daartoe verbind om betrokke te bly by hierdie projek wat so 'n groot impak op die samelewing het. “Ek is passievol oor hierdie projek wat 'n groot invloed op die gemeenskap het," sê mnr Henk Stander van die US se Fakulteit AgriWetenskappe. Stander het 'n opleidingswerksessie oor akwaponika vir van die onderwysers by die skole aangebied.


Impak op skole en die gemeenskap

Een van die deelnemende skole is Steilhoogte Primêr naby Vredendal. Die skool se groentetuin funksioneer ten volle en verskaf groente aan die skool en die gemeenskap. Die tuinprojek by die skool was só suksesvol dat hulle kom uitbrei om 'n kwekery te begin wat saailinge aan ander skole se tuine verskaf. 


Mnr Manus Spamer, Steilhoogte Primêr se prinsipaal, is vol lof vir die projek en al die geleenthede wat dit bied. “Dit is fantasties om in staat gestel te word deur al die deel van kennis, opleiding, befondsing en hulp om groente te kweek," sê hy.


Volgens Spamer leer die kinders nie net hoe om groenteboere te wees nie, maar verskaf die tuin ook broodnodige voedsel. “Ons verskaf vars produkte aan die skoolkombuis en gebruik die tuinafval om ons varkplase te voer of om kompos te maak," sê hy.

Jala Peo Steilhoogte.jpg

Steilhoogte Primêr word nou as 'n gemeenskapsentrum bedryf wat landboupraktyke in die gemeenskap verskaf waar tuinmaak by huise ook aangemoedig word.


Spamer sê die skool het vanjaar moontlikhede begin ondersoek om die landbouaktiwiteite uit te brei om ook verpakking, verkoeling en vervoer van die vars produkte in te sluit.


Die ander laerskole wat by die projek betrokke is, is Vredendal-Noord, Vredendal Secondêr,  Vergenoeg, Naastdrift, Spruitdrift, Booysendal, Steilhoogte, Kleinrivier, Nieuwoudt, Trawal, Maskam, Uitkyk,  Koekenaap, Lutzville,  Ebenhaeser,  Doringbaai, Bitterfontein, Rietpoort en St Boniface. In 2021 het die projek uitgebrei om nog ses skole in te sluit, naamlik Sederberg, Elizabethfontein, Graafwater Primêr en Spesiale Skool, Nuwerus en Nuwefontein. Hierdie skole vorder goed om hul tuine te vestig en dit voortdurend te verbeter.