Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS se merkwaardige vroue
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 03/08/2022

Ter viering van Vrouemaand het die Universiteit Stellenbosch se SciMathUS-universiteitsvoorbereidingsprogram die kollig laat val op vier merkwaardige vroue wat deel vorm van die SciMathUS-onderrig- en ondersteuningsspan. Dié vroue deel hoe die program nie net die lewens van hul studente onherroeplik verander nie, maar ook hul eie lewens en hoe hulle die wêreld beskou.

​Die SciMathUS-program gee hoërskoolleerders wat reeds graad 12 geslaag het, maar nie vir hoëronderwyskeuring kwalifiseer nie, 'n tweede kans om hul nasionale senior sertifikaat resultate in wiskunde, fisiese wetenskappe en rekeningkunde te verbeter. Dit stel hulle dan in staat om weer vir universiteitsprogramme aansoek te doen.


Dr Elza Lourens (Fasiliteerder Fisiese Wetenskappe)

“Soms dink ek ek leer meer by my studente as wat hulle by my leer," sê Elza, wat al sedert SciMathUS se ontstaan in 2001 deel van dié program is. 

Sy verduidelik: “Ek het by hulle geleer hoe om die ontberinge wat die lewe na jou toe gooi, te hanteer. Om die vasberadenheid en werksetiek te ervaar wat hulle gedurende die jaar wys en ontwikkel, ten spyte van die uitdagings wat baie in die gesig staar - soos 'n gebrek aan voedselsekerheid en ondersteuning - en die manier waarop hulle dit hanteer, is regtig inspirerend. Ek leer elke dag by hulle en dit is so lonend! Ek leer ook baie oor die verskillende kulture wat elkeen van hulle verteenwoordig. Ek glo as jy ander mense en hul kulture leer ken, jy hulle beter sal verstaan en lief hê."

​Sy sê selfs haar man en kinders is beïnvloed deur hierdie studente se vasberadenheid om teenspoed te oorkom. “My kinders is bevoorreg, maar gelukkig kon ek hulle blootstel aan wat hierdie studente deurmaak en wat dit beteken om niks te hê nie en om steeds hard te werk en iets van jou lewe te maak. Dit het ons heel anders oor diversiteit en die kulture van die mense in Suid-Afrika laat dink."

 

Elsje Beyers (Fasiliteerder: Rekenaargeletterdheid en studenteondersteuning)

Elsje verwys na haarself as “die skakel wat die studente op die pad na 'n beter lewe plaas". En met 18 jaar se ondervinding van studente bystaan met onder meer, loopbaanvoorligting en universiteitsaansoeke, is dié skakel uiters belangrik.

“Ek streef altyd daarna om die studente voor te berei vir wat hulle in die toekoms in die gesig sal staar omdat hulle soveel struikelblokke het om te oorkom. Dit is 'n kultuurskok vir enige student wanneer hulle na die Universiteit Stellenbosch kom, en nog meer so vir minderbevoorregte studente van veral die platteland. Dit is vir my belangrik om dié studente te help om op kampus in te pas en hulle te lei om ingeligte keuses te maak."

Dié ma van vier sê die uithouvermoë wat hierdie studente aan die dag lê, is inspirerend. “Ek het 'n seun met spesiale behoeftes wat baie energie van my verg. Maar daardie energie word aangevul wanneer ek met die SciMathUS-studente werk. Wanneer ek die kampus verlaat om huis toe te gaan, is ek opgewonde en vol energie omdat my rol so lonend is. Hulle help my om 'n beter ma te wees."

 

Dr Janina Theron (Fasiliteerder: Taal- en Denkvaardighede)

Ná agt jaar in die SciMathUs-program word Janina nog steeds deur dieselfde passie gemotiveer – liefde.

“Ek is mal oor onderwys gee. Ek is 'n bietjie van 'n entertainer, so net om voor 'n klas te staan, maak my gelukkig. Dit is meer as om net 'n vak te onderrig, dit is 'n reis wat jy onderneem met studente wat jy leer ken en lief kry. My studente, veral dié uit agtergeblewe gemeenskappe, is dikwels die laaste hoop vir hulle en hul gesinne om die siklus van armoede te breek. Die stres en spanning wat dit op hulle plaas, is groot. Daarom probeer ek altyd beklemtoon hoe belangrik dit is om mekaar en jouself lief te hê. Ek begin dikwels my klas met 'n meditasie of ons neem 'n oomblik om te besin waaroor ons dankbaar is. Ek probeer om 'n liefdevolle en veilige ruimte te skep waarin hulle gemaklik kan voel."

 

Noni Kulati (Koshuishoof by Boland Kollege)

Met 106 studente in haar sorg, is dit geen wonder dat Noni as 'n moederfiguur onder haar kudde beskou word nie.

“Ja, ek is soos 'n ma vir hulle," sê sy. “Die studente kom meestal uit landelike gebiede en townships en sommige van hulle was nog nooit eens weg van die huis af nie. Dit kan dus soms moeilik wees om by so 'n kultureel diverse omgewing soos die Universiteit Stellenbosch aan te pas. My rol is om hulle te lei, hul moraal 'n hupstoot te gee en om hulle tuis te laat voel."

In haar vier jaar as koshuishoof het sy omtrent alles gesien. Sy sê studente probeer soms hul streke uithaal, veral wanneer dit kom by die nakoming van aandkloktyd. ​“Maar hulle weet daar is sekere dinge wat ek nie oor die hoof sien nie. Ek is vriendelik, maar as jy met my lol is daar probleme. Ek skroom nie om hulle vas te vat nie," sê sy.

Foto: 
Van links na regs: Nokwanda Siyengo, SciMathUS se programbestuurder, Elza Lourens, Noni Kulati, Janina Theron en Elsje Beyers.