Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Staff and honours students from Afrikaans & Dutch | Personeel en honneursstudente van Afrikaans & Nederlands
Winterkoue en witwarm taalnavorsing
Outeur: Departement Afrikaans en Nederlands
Gepubliseer: 02/08/2022

​Honneursstudente in die Departement Afrikaans en Nederlands het 'n mini-kongres bygewoon waar vele navorsingsvelde betrek is en 'n hele paar navorsingsloopbane begin het.

Die Departement Afrikaans en Nederlands se 19 honneursstudente het Maandag 1 Augustus tydens 'n mini-kongres by Stias voordragte gedoen van hulle vordering met hulle groot navorsingswerkstukke.

Diskoersanalise, leksikografie, letterkunde, redigering, taaltegnologie, taalverwerwing, tolking en vertaling het almal deur die loop van die dag aan bod gekom. Onderwerpe het 'n kritiese ondersoek na die bruikbaarheid van 'n werkboek vir Afrikaans eerste addisionele taal, 'n skisoanalitiese beskouing van Marlene van Niekerk se Kaar (2013), 'n ondersoek na hervertaling in Frans, 'n vergelykende ondersoek na die akkuraatheid van YouTube se selfgegenereerde onderskrifte, en die toepassing en evaluering van riglyne vir praktiese akademiese redigering ingesluit.

Twee van die aanbieders, wat albei in die onderwys werk, het via Teams uit Makhanda by die verrigtinge aangesluit.

Die navorsing wat die studente vir hulle honneurswerkstukke doen, vorm dikwels 'n voorstudie vir latere MA- en PhD-navorsing. En vir heelparty van die huidige honneursklas is Maandag se mini-kongres maar net die eerste van vele suksesvolle navorsingsvoordragte.