Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gedenkgeleentheid vier Afrikaanse taalvariasie
Outeur: Departement Afrikaans en Nederlands
Gepubliseer: 02/08/2022

“Jou manier van Afrikaans praat, hoewel dit anders mag klink as die manier waarop ander die taal praat, het presies dieselfde reëlmaat en dieselfde orde as Standaardafrikaans." Die woorde deur dr Donovan Lawrence van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) som die pasafgelope Fritz Ponelis-gedenkgeleentheid op.

Dr Lawrence was saam met dr Gerda Odendaal (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) en mnr Marius Swart (Universiteit Stellenbosch) deel van 'n paneel wat op 28 Julie – die tagtigste herdenking van wyle prof Fritz Ponelis se verjaardag – gepraat het oor Ponelis se bydrae tot die studie van Afrikaanse sintaksis, taalgeskiedenis en, veral, taalvariasie.

Die gesprek het gedraai by die sintaktiese ontleding van Afrikaans (wat volgens Swart op struktuurformules in chemie lyk), herstandaardisering en 'n bespreking van hoe baie van Ponelis se boeke en artikels oor Afrikaanse taalkunde teen die grein van die tyd geskryf is, omdat hy oortuig was dat die wetenskaplike beskrywing van Afrikaans ook moet plaasvind vir informele Praatafrikaans en Afrikaanse variëteit moet karteer.

Vir Odendaal gaan die erkenning van taalvariëteite deels oor die erkenning van mense se identiteit en verruim en verryk dit juis 'n taal, eerder as daar iets van die taal weggeneem word. Of, soos Lawrence dit stel, net omdat iemand 'n niestandaard variëteit van Afrikaans gebruik, beteken dit nie dat die variëteit substandaard is nie.

In die gees van Ponelis, wat verskeie seminale studies oor Afrikaans en Afrikaanse taalkunde geskryf het, is die jong navorsers in die gehoor aangemoedig om hulle plaaslike variëteite van Afrikaans op te teken en te bestudeer.