Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldnatuur-bewaringsdag: Bevorder volhou-baarheid en veerkragtigheid van natuurlike hulpbronne.
Outeur: Ancois de Villiers
Gepubliseer: 28/07/2022

Wêreldnatuurbewaringsdag word jaarliks op 28 Julie gevier word. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf Ancois de Villiers, ʼn PhD-student in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, dat ons die volhoubaarheid en veerkragtigheid van ons natuurlike hulpbronne moet bevorder.

  • ​Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Ancois de Villiers*

Wêreldnatuurbewaringsdag, wat jaarliks op 28 Julie gevier word, is nog 'n geleentheid om bewustheid te skep oor die belangrikheid daarvan om die volhoubaarheid en veerkragtigheid van natuurlike hulpbronne te ondersteun vir ons gemeenskappe om te lewe en te floreer.

Die terme 'volhoubaarheid' en 'veerkragtigheid' het nogal baie gewild geword in besprekings oor omgewingskwessies. Hulle word inderdaad dikwels naby aan mekaar of soms selfs gelykwaardig gebruik. Kundiges het al breedvoerig gepraat en gedebatteer oor en soms selfs die betekenis van volhoubaarheid en veerkragtigheid bevraagteken, asook hoe hulle met mekaar verband hou, en of hulle steeds bruikbaar is en nie maar net leë gonswoorde geword het nie. Dit is belangrik om nie hierdie terme saam te smelt nie, want hulle spreek inderdaad aanvullende maar verskillende benaderings tot die bewaring van natuurlike hulpbronne aan. Dit is van belang omdat dit bepaal wat ons met bewaring wil bereik, hoe ons hierdie doelwitte gaan bereik en hoe ons ons sukses gaan beoordeel.

Volhoubaarheid word algemeen gedefinieer as om aan menslike behoeftes met genoeg ekonomiese, maatskaplike en natuurlike hulpbronne te voldoen sonder om hierdie bronne met die verloop van tyd uit te put. Dit oorweeg nie net hierdie bekommernisse oor nuttigheidswaarde nie, maar ook die rol van mag, billikheid, agentskap en ingesteldhede in besluitneming en die manier waarop instellings natuurlike hulpbronne bestuur. Daarom fokus temas in volhoubaarheidswetenskap op die balans tussen ekonomiese groei en hulpbronbeperkings, asook op sosiale en tegnologiese oorgange om innovasie te bevorder en kwessies oor sosiale ongeregtigheid aan te spreek.

Aan die ander kant verwys veerkragtigheid na 'n stelsel (wat hulpbronne verskaf) se vermoë om terug te bons ná onvoorsiene skokke. Dit het op die ekologiese gebied onstaan met 'n sterk fokus op ekostelsels, maar met die verloop van tyd is sosiale dimensies soos die belangrikheid van leer en innovasie daarby ingesluit.

Hierdie basiese bekendstellings dui reeds op opmerklike verskille tussen volhoubaarheid en veerkragtigheid. As paradigmas beïnvloed hulle ook verskillende benaderings tot beleide en programme.

Ten slotte …

Ondanks die verwarring oor die betekenis van volhoubaarheid en veerkragtigheid, is hulle steeds nuttige terme om ons te help om belangrike maar verskillende aspekte van hoe ons die omgewing bestuur, te onderskei en te verstaan. Duidelikheid oor die verskille en deur met hierdie verskille te werk, kan 'n meer genuanseerde benadering tot die dikwels-morsige uitdagings van bewaring bied. Sonder hierdie duidelikheid en gereelde nadenke oor wat ons (en ander) met hierdie terme bedoel, kan hulle nog verder verflou na blote holrug geryde uitdrukkings. Dit kan die baie ingewikkelder aard van die verhouding tussen ons en die omgewing miskyk.

  • ​Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.

​*Ancois de Villiers is 'n PhD-kandidaat in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch, en in die Departement Kulturele Antropologie en Ontwikkelingsosiologie aan die Leiden-universiteit. Met ondersteuning van die GreenMatter-genootskap en NNS-Nuffic-doktorale beurs ontgin sy die psigososiale dimensies van die transformering van landskappe deur die rehabilitasie/herstel van natuurlike hulpbronne.