Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mandela-daglesing - Sentreringsmag: Vroue wat slagofferskap te bowe kom
Outeur: Awethu Fatyela
Gepubliseer: 27/07/2022

Die Transformasiekantoor, saam met die Studenteraad en Matie Gemeenskapsdiens (MGD) in die Afdeling vir Sosiale Impak het die Mandela-daglesing met die tema, “Centering Agency: Womxn Transcending Victimhood" (Sentreringsmag: Vroue wat slagofferskap te bowe kom), aangebied.

Vanjaar se globale tema vir Mandela-dag is “Doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy ookal is". In haar verwelkomingstoespraak noem die Transformasiekantoor se programkoördineerder, Shanté Neff, dat, ingevolge hierdie tema, dit noodsaaklik is om lig te werp op diegene wat dikwels die mees gemarginaliseerde mense in die samelewing is – vroue. “Ons is meer as net slagoffers, slagoffers van misdaad, van gendergebaseerde geweld, van ongelykheid , van genderrolle en stereotipes. Dit is belangrik (omdat) ons moet wegbeweeg van ʼn narratief wat op vroue se identeit as slagoffers fokus, om die ruimte te skep waarbinne hulle as iets anders ook beskou kan word," volgens Neff. 

Die Transformasiekantoor se kommunikasiebeampte, Awethu Fatyela, volg ʼn kulturele benadering tot die bekendstelling van die hoofspreker deur van ukumthutha (stamnaamlofsange) gebruik te maak, waardeur sy voorgeslagte en stamboom erken word, voordat sy kwalifikasies genoem word. “In [die] Afrikakultuur erken ons eers iemand se stamboom wanneer die persoon bekendgestel word – omdat ons verstaan dat ons is as gevolg van diegene wat ons voorafgegaan het," sê Fatyela. 

Die hoofspreker, mnr Landa Mabenge, PhD-kandidaat aan die Universiteit van Kaapstad, opvoedkundige en skrywer van Becoming Him– A Trans Memoir of Triumph, begin sy toespraak deur te meld dat, ingevolge vanjaar se tema vir Mandela-dag, almal daarna moet streef om die narratief van slagofferskap waarby talle vroue regoor die wêreld verwikkel is, te herverbeel en dit na een van outonome vasberadenheid moet alchemiseer. 

Mabenge meld dat ons met geboorte verbind word tot rigiede praktyke, norme en oortuigings wat gegrond is in die onmiddellike ontneming van persoonlike mag. Dat gedwonge assimilasie van ʼn narratief wat die evolusie van die lewe voorskryf – heeltemal voortydig – daardeur groei. Hy deel ook die sleutelterme in die omskrywing van persoonlike mag – onafhanklikheid, bekwaamheid, krag, hulpbronne en potensiaal. 

In ʼn kragtige ontleding van die reise van vyf vroue – Koningin Nandi (moeder van Shaka Zulu ka Senzangakhona), Tarana Burke, Bobbi Gibb, Major Griffin-Gracey en Caster Semenya – lig Mabenge die uitdagings waardeur hierdie vroue in die gesig gestaar is, uit en vertel hoe hulle teen die grein van geweld en slagofferskap gegaan het deur die mag in hulle lewens, gemeenskappe en die breër samelewing te hersentreer. 

“Wat hierdie vroue in gemeen het – die opneem van die 'nat' weg van alchemie en die terugeis van ʼn veranderingsmag gedurende ʼn era waar dit nie gewild was nie – (met) geen gedeelde praktyke onder hulle nie; net die draad van menslikheid, wat ʼn algehele vryheid van verskillende domineringstelsels mandateer in die soeke na die transmutasie van slagofferskap na vasberadenheid," sê Mabenge

Ter slotte noem hy dat ons, as die bewaarders van ons toekoms, die geleentheid gegun is om beter te weet en beter te doen, ongeag ons onderskeie verledes, ons sosiale konstrukte en waar ons vandaan kom. 

“Ons staan almal onder die verpligting om die narratief te herkonfigureer en die beginsels van nat alchemie toe te pas, deur vroue, ongeag ras, gender, identiteit en seksualiteit, toe te laat om hulle op gelyke voet te laat geld, as outonome wesens wat met daardie reg gebore is," sê Mabenge.