Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ontvang multi-institusionele internasionale navorsingstoekenning
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 22/07/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US), tesame met drie ander instellings, het 'n R26 miljoen‑navorsingstoekenning ontvang danksy die unieke navorsing van dr Lizabé Lambrechts, 'n navorser aan die Africa Open Institute (AOI). Die projek, “Decay without mourning: Future thinking heritage practices", word oor die volgende vier jaar bekend gestel. Dr Lambrechts is die navorsingsdirekteur vir die navorsingsprojek en staan ook aan die hoof van 'n niewinsgewende organisasie genaamd Nuuseum.

Lambrechts verduidelik dat haar belangstelling in erfenis en die prosesse van verval begin het in die 10 jaar wat sy aan die Hidden Years Music Archive Project by die AOI, en die argief wat gehou word by die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) in die Afdeling Spesiale Versamelings van die Universiteitsbiblioteek, gewerk het.​

“Dit is die grootste populêre musiekargief by 'n universiteit in Suid-Afrika en dit is 'n waardevolle hulpbron vir navorsing en kreatiewe projekte," sê Lambrechts, wat die argief in 2013 vanaf Johannesburg en Durban na die instelling gebring het.

“Ek het aan die argief gewerk en terwyl ek die materiaal gesorteer het, het ek al hoe meer bewus geraak van die toestand van die materiaal. Die argief is in die verlede erg verwaarloos vanweë die politiek, omdat mense nie geweet het hoe om met die materiaal te werk nie, en as gevolg van die omstandighede waarin dit bewaar is," verduidelik sy.

“In 2015 het ek negatiewe ontdek wat heeltemal geërodeer en met organiese patrone bedek was. Dié het gevorm weens hanteringspraktyke deur amateurs, vingerafdrukke en chemikalieë wat op die negatiewe gelaat is nadat dit ontwikkel is. Dit het die negatiewe weggevreet sodat gewone, alledaagse beelde in estetiese voorwerpe omskep is, regtig pragtig," sê Lambrechts.

As 'n argivaris, wie se hoofdoel dit is om erfenis te bewaar, het Lambrechts oor die waarde of potensiaal van verval in erfenispraktyke begin wonder.

Sy gee toe dat in 'n omgewing waar erfenispraktyke gebou is op die idee dat “ons die verlede vir die toekoms moet bewaar," haar navorsing ietwat ongewoon is. Sy voeg egter by dat niemand in vandag se wêreld weet hoe ons toekoms daar sal uitsien nie.

“Die huidige oomblik word gekenmerk deur verval: uitwissing en klimaatsverandering, ekologiese angs, pandemies en vernietiging. Tegnologie ontwikkel vinniger as dít waarmee die menslike verstand kan tred hou," verduidelik sy.

“Ons vra hoe hierdie aanwesigheid van versnelde verandering en gelyktydige verval deel kan word van erfenisstrategieë, in die teorie en praktyk, wat op 'n onkenbare toekoms gemik is?"

“Veronderstel ons kan erfenis ook in die hede vir die huidige oomblik bewaar? Hoe kan ons erfenis gebruik as iets waardevols vir ons gemeenskappe, iets wat ons kan help om op betekenisvolle en daadwerklike wyse oor kwessies soos klimaatsverandering en ontwikkeling te begin dink?"

Die skep van navorsingsinkubators oor die wêreld heen

Die projek het 'n aantal jare geneem om te ontwikkel en is in 2020 verwerklik met die uitnodiging aan dr Lize-Marie van der Watt en dr Kati Lindström (KTH Royal Institute of Technology, Swede), prof Fernanda Pitta (Universiteit van São Paulo, Brasilië), en dr Bruno Moreschi en dr Naine Terena de Jesus (Pinacoteca de São Paulo, Brasilië),​ en dr Leif Petersen (Sustainable Livelihoods Foundation) om by die projek aan te sluit.

“Hierdie vakkundiges gebruik 'n wye verskeidenheid kundigheid in geografiese gebiede wat dikwels in Engelstalige navorsing afgeskeep word, naamlik Antarktika, Japan, Brasilië en Suid-Afrika, elk met unieke sosio-politieke en ‑omgewingstoestande wat hulle vrugbare terreine maak vir die bestudering van verval, " sê Lambrechts.

Die projek bring 'n diverse groep vakkundige‑praktisyns bymekaar wat argiewe en museums, erfenispraktyke, landskappe, inheemse kennis, voedselerfenis, omgewingsgeskiedenis en natuurbewaring bestudeer. Ons glo dat hierdie veelvlakkige begrip van erfenis tot 'n meer robuuste en generatiewe begrip van verval in 'n geglobaliseerde, dog ook gelokaliseerde wêreld sal lei."​

Team pic SA 0322.jpgFoto: Dr Lizabé Lambrechts (tweede van regs), 'n navorser aan die Africa Open Institute (AOI), is deel van 'n internasionale projek genaamd “Decay without mourning: Future thinking heritage practices".​​ Met haar is (van links) dr Kati Lindström, navorser in die Afdeling vir die Geskiedenis van Wetenskap, Tegnologie, en Omgewing by die KTH Royal Institute of Technology in Stockholm, Swede; dr Naine Terena de Jesus, Na-doktorale Navorsingsgenoot by Pinacoteca de São Paulo Brasilië; dr Lize-Marie Hansen van der Watt, navorser aan die Afdeling vir die Geskiedenis van Wetenskap, Tegnologie, en Omgewing by die KTH Royal Institute of Technology; Dr Leif Petersen, Mededirekteur van die Sustainable Livelihoods Foundation in Suid-Afrika; Dr Bruno Moreschi, navorser aan die Pinacoteca de São Paulo in Brazil, Dr Lambrechts; and Ms Fernanda de Castro Daniel, Translator: English/Portugese. Voor (sittend) van links is prof Fernanda Pita, medeprofessor en kurator van die Museu de Arte Contemporânea da Universidade de São Paulo, Brasilië​, en mnr Nevile van Schalkwyk, Bossiedokter en plaaslike kennisvennooot. (Foto voorsien) 

“Ons het drie navorsingspanne saamgestel om as inkubators vir die teoretiese en praktiese kwessies van die projek te funksioneer. Hierdie spanne is in Suid-Afrika, Brasilië en Swede gebaseer.​

“Deur hierdie inkubators wil ons prosesse van verval bekyk, asook hoe dit in verskillende omgewings afspeel."

Insig in hoe verskillende lande verval ervaar

Lambrechts verduidelik dat die projek ook daartoe bydra dat insig bekom word in hoe verval in verskillende wêrelddele ervaar word.

“Verval in Antarktika, byvoorbeeld, het verval natuurlik te doen met klimaatsverandering, maar dit wek ook kommer oor menslike puin soos weerstasies wat tans in verskillende toestande van 'tydelike verval' bewaar word."

“Bewaarde verval" vorm die grondslag vir die navorsing in Japan, byvoorbeeld deur kintsugi, of die praktyk om gebreekte keramiek met goudstof te herstel – wat slegs vir bepaalde erfenisvoorwerpe gereserveer word – toe te pas op nywerheidserfenisterreine van groot fabrieke of myne waar die landskap vernietig is. Die vrae wat ons gaan vra is: Moet dit ook herstel word? En hoe? En in watter toestand?

In Brasilië, verduidelik Lambrechts, word verval hanteer as 'n oproep tot aksie, veral vir die inheemse gemeenskappe wat die vernietiging en besoedeling van hul natuurlike habitatte en die verlies van hul kultuur in die gesig staar, wat nie belangrik geag word vir bewaring nie.

“Vele inheemse gemeenskappe poog om hul eie kultuur te bewaar, maar doen dit steeds deur Westerse tegnologieë en strukture te gebruik. Die Brasiliërs werk saam met die plaaslike gemeenskappe om webgebaseerde gereedskap en ontologieë te ontwikkel wat verteenwoordigend is van hulle insig en perspektiewe."

Die Suid-Afrikaanse span werk op twee terreine, naamlik die Hidden Years Music Archive en die gemeenskap van die Kaapse Bossiedokters, om mededingende waardekonstrukte te bestudeer wat erfenisbewaring beïnvloed. Dít terwyl die “bossiedokters" – met verwysing na die inheemse genesers en hulle aanspraak op Khoisan-afkoms – wat as deel van hul kulturele praktyk plante met medisinale eienskappe versamel, daarvoor gearresteer en gekriminaliseer word wanneer hulle dit in die beskermde natuurreservate doen.

“Die natuur word ten koste van kultuur bewaar, en die vraag is hoe ons op hierdie oomblik oor erfenis dink, op só 'n manier dat dit nie net die gemeenskap dien nie, maar ook die omgewing beskerm," verduidelik Lambrechts.

Daarteenoor word kultuur in die musiekargief afdoende erken as die objek of raamwerk vir bewaring. Maar verval het “aspekte van die argief tot iets anders en unieks herdefinieer, so ons vra of dit 'n kreatiewe deel van die bewaringsonderneming kan wees?"

“Ons toets ons idees deur kuratoriale intervensies; optredes en uitstallingskepping; alternatiewe strategieë vir argief- en museumskepping, versameling en bewaring, inligtingsverwerking en ‑verspreiding; en openbare betrokkenheid by voortdurende bewarings‑ en erfenisdebatte."

Vele van hierdie geleenthede is oop vir die publiek.

As deel van die projek maak elke span 'n dokumentêre film waarin hul navorsing en die prosesse wat hulle gevolg het, vasgelê word.

“Dit is vir ons belangrik om ons belanghebbendes by hierdie navorsing te betrek, en dat die publiek kan sien en ervaar wat ons doen. Die punt is dus om nie alleen akademiese uitkomste te skep nie."

Belanghebbendes en gemeenskappe word deur middel van digitale storievertelmetodologieëby die projek betrek.

“Dit behels dat gemeenskapslede self hul eie stories verfilm en vertel, en self die redigering doen. Dit is dus hoofsaaklik hulle storie, hoe hulle dit wil vertel, en hoe hulle dit wil deel," verduidelik Lambrechts. Hierdie films word vir die duur van die projek by openbare geleenthede vertoon.

Erfenis gebeur nie in 'n borrel nie

Sover dit gaan oor wat hulle hoop om te vind maan Lambrechts dat dit nog te vroeg is om te sê en dat sy nog nie in hierdie stadium “weet wat dit vir die veld beteken nie." Wat egter duidelik is, is dat vakkundiges en praktisyns toenemend “aan erfenispraktyke begin dink as iets wat nie in 'n borrel gebeur nie."

“Erfenis is gekoppel aan die omgewing, dit is deel van ekosisteme, dit is deel van tyd, deel van veranderende kulture en samelewings, en dit is deel van sikliese prosesse, dit staan nie los daarvan nie.

“In die argief is dit byna asof ons tyd wil laat stilstaan, ons wil nie hê dinge moet verval nie, ons wil hê hierdie materiaal moet oorspronklik en perfek wees, nes dit was, sodat dit vir ewig kan hou, maar niks hou vir ewig nie. Selfs wanneer ek iets digitaliseer om dit te bewaar, moet ek daaraan raak, ek moet dit skoonmaak, daarmee werk en dit op 'n masjien sit, en al daardie dinge dra tot die verval van die werklike voorwerp by. As verval so inherent is aan wat ons in die argief doen, hoe gaan dit ons praktyke raak wanneer ons ook hierdie prosesse bestudeer en begryp?"

Terwyl sy oor die volgende vier jaar nadink, is Lambrecht se opgewondenheid duidelik.

“Ons het 'n unieke geleentheid en 'n wonderlike span om erfenis mee saam te studeer, 'n veld wat ons almal na aan die hart lê. Die projek is in die ontwerpstadium opgestel om daardie individue en gemeenskappe in te sluit wat die meeste deur ons navorsing geraak word, en ons hoop dat ons deur ons gesamentlike pogings nuwe waardekonstrukte kan lewer wat die dominante paradigmas rondom erfenispraktyke en bewaring kan hervorm."

Die projek word deur die Riksbankens Jubileumsfond (Swede), die Volkswagen-stigting (Duitsland), die Wallenberg-stigting, en die Compagnia di San Paolo (Italië) befonds.

​​Foto: 'n Voorbeeld van die negatiewe wat dr Lizabé Lambrechts, 'n navorser aan die Africa Open Institute (AOI)​, na verwys in haar navorsingsprojek, “Decay without mourning: Future thinking heritage practices". (Foto voorsien)