Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sportwetenskap dosent oorwin berge (en vrese) om maandstonde armoede te help veg
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 21/07/2022

Na ʼn stryd met Covid-19 was die sportwetenskap-dosent, dr Shaundré Jacobs, vasberade om die moordende 13 Pieke Uitdaging aan te pak om haar fiksheidvlakke weer te herlaai. Boonop het sy besluit om ʼn nog ʼn oogmerk met hardlooptog te bereik – om geld in te samel om maandstonde armoede te bekamp.

Die 13 Pieke Uitdaging is ʼn epiese bergavontuur waarby mens die kruine bereik van 13 pieke op Tafelberg in die Kaapse Skiereiland, en dit begin en eindig op Seinheuwel. 

Duisende Suid-Afrikaanse vroue, insluitende studente, word geraak deur maandstonde armoede, wat voorkom weens ʼn tekort aan toegang tot sanitêre produkte. Dit het ʼn groot impak op hulle menswaardigheid, opvoeding en werk.

Jacobs, ʼn dosent in ondermeer toegepaste kinesiologie en koördineerder van die Prestasiesport-honneursprogram, is ʼn toegewyde hardloper en is deel van die Stellies Shake Out hardloopgroep.

Aan die begin van die jaar het sy Covid-19 opgedoen, en ʼn paar weke later het sy waterpokkies gehad.

“Ek was die hele Januarie lank siek gewees – nie net fisies nie, maar ook geestelik," het sy gesê.

“Ek het besluit dat sodra ek beter was, ek weer wou fiks word en dan die 13 Pieke Uitdaging doen. Toe ek beter begin gevoel het, het ek dokter toe gegaan om die groen-lig te kry om weer te kon begin oefen."

Volgens Jacobs is die voltooiing van die 13 Pieke Uitdaging ʼn ereteken van 'hardnekkigheid' in die berghardloop-gemeenskap.

“Terwyl ek besig was met my beplanning het ek besluit dat ek dit nie net vir die uitdaging wil daarvan wil doen nie. Deur my persoonlike Instagram-rekening het ek mede berghardlopers gewerf om die uitdaging saam met my te doen.

“Ek het al gehoor van die 'Bridge the Gap' -inisiatief by die Universiteit Stellenbosch, en een van die kwessies wat dit aanspreek is maandstonde armoede. Ek het my hardloop maats gevra wat hulle dink, en almal het eenstemmig besluit op die bekamping van maandstonde armoede.

“As ʼn vrou weet ek hoeveel sanitêre produkte kos en dat baie studente nie toegang het tot sanitêre doekies nie. Dit was ʼn groot motivering om die 13 Pieke Uitdaging te gebruik om bewustheid te skep van die probleem van maandstonde armoede, en om mense te kry om die saak te ondersteun."

​Jacobs en ander groeplede het ʼn GivenGain-blad geskep met die volgende skakel: 13 Peaks Trail runners is raising money for Stellenbosch University - South Africa | GivenGain

Die uitdaging is oor drie dae (11, 18 en 25 Junie) aangepak en 18 mense het daarmee begin. In totaal het hulle 111km gehardloop met ʼn klim van 6667m, die 13 pieke is bereik in 22 uur en 23 minute wat oor drie dae afgelê is. Party mense het die eerste dag gehardloop, party die eerste en die tweede dag, en op die einde het tien mense klaar gemaak – Jacobs en nege ander hardlopers.

“Ons doelwit was om R15,000 in te samel en ons het net meer as dit bereik," het sy gesê, en bygevoeg dat die skenkingsblad steeds oop is.

“Dit was fisies én geestelik moeilik," het Jacobs gesê. “Eerstens moes ek my vrees vir hoogtes oorkom. Op sekere gedeeltes van die 13 Pieke Uitdaging is daar loodregte afgronde. Ek moes nie net daar opgaan nie, ek moes ook weer afkom. Dus het ek nie net die berge oorwin nie, maar ook my vrees vir hoogtes."

Op die eerste dag het hulle begin by Seinheuwel en vandaar Leeukop, Maclearsbaken, Grootkop, Judaspiek en Klein Leeukop gedoen. “In totaal 34 km!". Op die tweede dag het hulle Suntherpiek, Chapmanspiek, Noordhoekpiek en Muizenbergpiek gedoen – in geheel 25 km. En op die derde dag, Constantiabergpiek, Klaasenkop-piek, Duiwelspiek en dan terug tot by Seinheuwel – in geheel 40 km, en ook die moeilikste dag.

Jacobs het gesê dat sy graag outomatiese verkoopmasjiene op die Stellenbosch-kampus wil inrig wat sanitêre doekies en tampons in het waar jong vroue dit kan kry as hulle dit nodig het.

“Ons moet bewus wees van ons eie konteks. Ons woon in ʼn land waar 50 persent van die bevolking onder die broodlyn lewe," het sy gesê. “As ek kan, wil ek graag op my eie manier terug gee aan diegene wat minder bevoorreg is, deur my hardloop of my werk.

“My mantra is die aanhaling deur Mahatma Gandhi: 'Wees self die verandering wat jy in die wêreld wil sien'."