Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-navorsers ontvang ondersteuning van SAMNR-toekennings
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 15/07/2022

Drie navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het ruim toekennings van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) ontvang, wat twee van hulle in staat sal stel om die navorsing vir hulle PhDs vinniger te voltooi, en die derde een om beide haar navorsing te doen en om 'n primêre studieleier vir twee doktorale studente in haar navorsingsveld te word.

Me Sara Pheeha het die Bongani Mayosi National Health Scholars Programme-toekenning ontvang en so ook dr Jane Shaw, en dit sal albei van hulle daartoe in staat stel om die navorsing vir hulle PhDs te doen.

Dr Jacqueline Womersley het 'n SAMNR Vroeë Loopbaan-navorsingstoekenning ontvang, wat haar in staat sal stel om op haar navorsingsprojek in die veld van Biologiese Psigiatrie te fokus.

Me Sara Pheeha

Pheeha het 'n BSc-graad en 'n MSc-graad in Mediese Wetenskappe (Chemiese Patologie), en is 'n PhD-student by die FGGW. Sy is tans ook 'n Mediese Wetenskaplike by die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste by die Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal in Ga-Rankuwa (noordwes van Pretoria), waar sy die HPCSA-geakkrediteerde intern-opleidingsprogram bestuur. Sy gee onderrig, verskaf dienste aan die publiek, en doen ook navorsing vir haar PhD in Epidemiologie.

Haar doktorale navorsing fokus op die derm-mikrobiotaprofiele van mense met tipe 2-diabetes en in gesonde individue sonder diabetes.

Hierdie navorsing is daarop gemik om meer inligting te bekom oor die rol wat die derm-mikrobiota speel in tipe 2-diabetes, en hoe dit verband hou met die immuunstelsel, veral teenliggaam-gemedieerde immuniteit.

Hierdie navorsing is besonder relevant in Suid-Afrika, waar na beraming 4,5 miljoen mense diabetes het, van wie baie ongediagnoseerd is.

Die toekenning wat sy van die Bongani Mayosi National Health Scholarship Programme ontvang het, is geldig vanaf 1 April 2022 tot 31 Maart 2023.

“Ek is baie bly om so 'n toekenning te kon ontvang het, want dit sal my beslis help om my PhD vinniger te kan afhandel, en my dus op hierdie manier help om my grootste loopbaandoelwit tot dusver te bereik," sê Pheeha.

​Dr Jane Shaw

Shaw is 'n spesialis-geneesheer en pulmonoloog met 'n besondere belangstelling in tuberkulose (TB) en ander aansteeklike siektes van die long en pleura.

Sy het in 2008 haar MBChB geslaag aan die Universiteit van Kaapstad, en het daarna haar twee jaar internskap en een jaar gemeenskapsdiens by die Paarl Provinsiale Hospitaal, net buite Kaapstad, voltooi.

Sy het haar spesialisopleiding in pulmonulogie by die US in 2018 voltooi, en het daarna as 'n interne geneeskunde- en pulmonologie-konsultant in die Departement Interne Geneeskunde by die FGGW en die Tygerberg-hospitaal gewerk.

In 2020 het sy begin werk as klinikus in die FGGW se Immunologie Navorsingsgroep, waar sy deelgeneem het aan navorsing oor die gasheer-immuun respons op TB, sowel as proewe wat verband gehou het met TB-behandeling. Sy het ook 'n aktiewe belangstelling in siektes van die pleura, ander granuloom-infeksies van die respiratoriese stelsel, en torakale ultraklank.

As 'n vroeë loopbaan-navorser het sy meer as 30 artikels in eweknie-geëvalueerde joernale gepubliseer, en het sy ook vier hoofstukke in boeke geskryf.

Sy werk tans aan 'n PhD in Molekulêre Biologie by die US en sien pasiënte in beide die private en openbare sektor.

Sedert April 2020 tot April 2022 was sy werksaam as 'n studieklinikus en pulmonoloog in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die FGGW, waar sy prosedures uitgevoer het, toesig gehou het oor die BMNI Navorsingsbrongoskopieteater, die teaterpersoneel,  ook personeel en studente opgelei het, en deelgeneem het aan verskeie navorsingstudies.

Die ontvangs van die toekenning van die Bongani Mayosi National Health Scholars-program het haar daartoe in staat gestel om vir 90 persent van haar tyd op haar PhD te fokus.

Haar PhD-navorsing is gefokus daarop om die impak van die onlangse SARS-CoV-2-infeksie op die gasheer se immuunrespons op Mycobacterium tuberculosis te ondersoek, wat sy hoop sal bydra tot die beter begrip van die impak van die Covid-19-pandemie op die bestaande TB-pandemie.

"Hierdie toekenning sal my in staat stel om te fokus op die bereiking van die navorsingsdoelwitte van my PhD-projek, sonder om te bekommer daaroor of ek ook my gesin terselfdertyd kan onderhou," sê Shaw.

Dr Jacqueline Womersley

Womersley is 'n senior navorsingswetenskaplike in die Departement Psigiatrie aan die US en 'n lid van die Mediese Navorsingsraad/Universiteit Stellenbosch se eenheid wat navorsing doen oor die genomika van breinversteurings. Sy het 'n SAMNR Vroeë Loopbaan-navorsingstoekenning ontvang.

Sy het 'n uitgebreide agtergrond in basiese neurowetenskapnavorsing, en het haar PhD in fisiologie verwerf by die Universiteit van Kaapstad, en daarna nadoktorale genootskappe in sellulêre en molekulêre farmakologie (Mediese Universiteit van Suid-Carolina) en psigiatriese genetika (US) voltooi.

Sy het 'n Y1-gradering van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting ontvang. Haar navorsing het tot op hede gefokus op die biologiese meganismes wat iemand se risiko verhoog om psigiatriese versteurings te ontwikkel, met 'n spesifieke fokus op die invloed van geen-omgewing-interaksies op gedrag en geestesgesondheid.

Sy is 'n lid van die neuropsigiatriese genetika-navorsingsgroep, en werk saam met personeel en nagraadse studente aan projekte wat strek oor 'n wye reeks onderwerpe, insluitende kindertrauma, MIV, posttraumatiese stresversteuring, fetale alkohol-spektrumversteuring, angs, depressie en dwelmgebruik.

Die SAMNR Vroeë Loopbaan-navorsingstoekenning is toegeken vir die projek, “Epigenetiese en biologiese verouderingsprofiele van neuropsigologiese funksie in Suid-Afrikaanse vroue met MIV".

"Hierdie toekenning sal my daartoe in staat stel om die resultate van 'n voortgaande studie, wat in die Departement Psigiatrie gedoen is, oor biologiese endofenotipes van MIV in Suid-Afrikaanse vroue te benut. Die volledige multivlak datastel sal neuropsigologiese, kliniese, genomiese en neuro-beeldings-maatreëls insluit om voorsiening te maak vir gedetailleerde meganistiese insig in kognitiewe agteruitgang en depressie, twee algemene komorbiditeite van MIV-infeksie," verduidelik Womersley.

Sy sien hierdie befondsing as 'n belangrike stap om haarself as 'n onafhanklike navorser op die gebied van biologiese psigiatrie te vestig. Die befondsing sal haar ook in staat stel om as primêre studieleier op te tree vir twee PhD-projekte, en ook om verder aandag te skenk aan 'n beplande navorsingsprojek in samewerking met dr Scott Letendre, 'n kenner op die gebied van aansteeklike siektes van die Universiteit van Kalifornië San Diego se Sentrum vir VIGS Navorsing. Hy ondersoek tans die impak van MIV op breingesondheid.

"Ek het 'n passie vir neurowetenskap vandat ek as 'n voorgraadse student daarmee kennis gemaak het, en is besonder dankbaar dat hierdie toekenning my in staat sal stel om voort te gaan met navorsing in hierdie fassinerende veld, en ook vir hierdie geleentheid om my vaardighede te deel met nagraadse studente wat sal werk op die projek," sluit sy af.


Onderskrif: Dr Jane Shaw, me Sara Pheeha en dr Jacqueline Womersley.