Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA se kaalvoetkinders dra skoolskoene wat nie behoorlik pas nie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 11/07/2022

Baie kinders in Suid-Afrika loop die risiko om voetafwykings soos hammer-, klou- en inmekaargetrekte tone en uitgroeisel op hul hakke te ontwikkel omdat hulle skoolskoene dra wat nie behoorlik pas nie.

Dít is een van die belangrikste bevindings van 'n nuwe studie by die Universiteit Stellenbosch (US).

“Ons navorsing toon dat kinders wat gereeld kaalvoet loop, skoolskoene dra wat óf te kort, óf te lank óf te nou vir hul voete is. Die gereelde dra van skoolskoene wat nie reg pas, nie kan 'n negatiewe uitwerking op die ontwikkeling van hul voete hê wat tot verskeie voetafwykings en muskuloskeletale (spier-skelet-) probleme soos laerrugpyn kan lei wanneer hulle ouer word," sê Marise Breet en Ranel Venter wat verbonde is aan die US se Departement Sportwetenskap. Hulle wou bepaal of die lengte- en breedtedimensies van voorgeskrewe skoolskoene ooreenstem met die voetdimensies van kinders wat gereeld kaalvoet loop.

Die bevindings van hul studie het onlangs in BMC Pediatrics verskyn.

​Breet en Venter het 698 kinders (431 meisies en 267 seuns) tussen die ouderdom van ses en 16 jaar in landelike en stedelike skole se voete gemeet. Hulle het ook die lengte en breedte van verskillende fabrikate se skoolskoene wat tans in winkels beskikbaar is, gemeet. Die maksimum hak-toon-lengte (HTL) en voetwydte met 'n bykomende 10 mm toon- en breedte-toegewing van elke deelnemer is met die ooreenstemmende skoolskoenlengte en -breedte vergelyk. 

“Ons resultate toon dat wanneer die skoenlengte en maksimum hak-tot-toon-lengte van deelnemers vergelyk word, met die 10 mm-toegewing inaggenome, het 59% van die kinders skoene gedra wat nie die regte lengte is nie. Ten opsigte van die skoenwydte en die bykomende 10 mm-toegewing vir breedte, is 98% van die skoene wat die kinders dra, te nou vir hul voete.

“Gegewe die breedtedimensies van die skoene in ons studie, sal baie Suid-Afrikaanse kinders nie die opsie hê om 'n skoolskoen wat breër is, te dra nie, aangesien dit nie beskikbaar is nie. Kinders wat gereeld kaalvoet loop, het 'n breër voet as dié wat gereeld skoene dra."

Volgens die navorsers is daar verskeie redes vir die voorkoms van skoene wat nie reg pas nie.

“Onlangse navorsing toon dat toon- en breedte-toegewings nie doeltreffend toegepas word nie. Daar word dikwels te veel of te min ruimte vir die tone binne die skoen gelaat om te sorg dat die skoen reg pas. Die aanbevole toontoegewing van 10 mm moet bykomend tot die HTL van die kind bygereken word om te waarborg dat die skoen reg sal pas in die lengte.

“Ons skoenvervaardigers gebruik 'n skoenontwerp wat op die Britse stelsels gegrond is, en gebruik voetlengte as die basiese meting. Volgens hierdie stelsel sal elke toename in voetlengte met 'n gestandaardiseerde toename in voetomtrek ooreenstem wat gegrond is op Europese data.

“Die vervaardiging van kinderskoene word ook dikwels eerder deur modeneigings as deur ortopediese en biomeganiese navorsing oorheers."

Die navorsers voeg by dat die gehalte van inligting wat oor skoene beskikbaar is en die vinnige voetgroei (tot 1,5 cm per jaar) van kinders tussen ses en 14 jaar ook redes kan wees vir die skoene wat nie reg pas nie.

Hulle beveel aan dat skoenvervaardigers die skoenbreedte van skoolskoene vir kinders en adolessente wat gereeld kaalvoet loop, heroorweeg om die lang-termyn negatiewe uitwerking van skoene wat nie reg pas nie, te vermy.

“Skoenontwerpe vir hierdie kinders moet 'n skoen lewer wat die voet behoorlik pas en die natuurlike vorm en afmetings van die kaal voet naboots. Dit sal die gesonde ontwikkeling van die voet aanhelp.

“Ons moet egter daarop wys dat skoenvervaardigers nie altyd oor die regte inligting beskik om 'n standaardvorm uit beskikbare afmetings te ontwerp nie. Hulle fokus dus op skoenlengte as 'n basiese afmeting, sonder om die ander afmetings in ag te neem."

Die navorsers sê hul studie bou voort en brei verder uit op bestaande sienings oor hierdie baie relevante kwessie, aangesien dit die onus op skoenvervaardigers plaas om die basiese afmetings van beskikbare skoene vir kinders wat gereeld kaalvoet loop, te verbeter.

“Die resultate van ons studie kan help om bewustheid te skep oor die huidige wanverhouding tussen hierdie kinders se voete en beskikbare skoolskoene. Dit kan ook skoenvervaardigers help om skoene te maak wat ons Suid-Afrikaanse kinders en adolessente beter sal pas."

  • ​Bron: Breet, MC & Venter, R 2022. Are habitually barefoot children compelled to wear ill‑fitting school shoes? A cross‑sectional study. BMC Pediatrics 22:187: doi.org/10.1186/s12887-022-03263-9