Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-somerskool vier 20 jaar
Outeur: SU International
Gepubliseer: 05/07/2022

Wat twee dekades gelede begin het as 'n geleentheid vir Amerikaanse studente om deur 'n drie tot vier weke lange akademiese program blootstelling aan Suid-Afrika te ontvang, het ontwikkel in 'n vlagskipgeleentheid op Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal se jaarkalender. Die US-somerskool (vir diegene in die noordelike halfrond; 'winterskool' vir hulle eweknieë in die suide) bestaan deesdae uit 17 verskillende kursusse en maak voorsiening vir 'n veel wyer gehoor.

Die somer-/winterskool vind elke jaar in Junie en Julie plaas, en vanjaar se aflewering is in volle gang. Die kursusaanbod dek die terreine van filosofie, ingenieurswese, plantkunde, politieke wetenskap, ekonomie, letterkunde, kuns en media, geskiedenis, MIV/vigs, internasionale betrekkinge, Chinese studie, meertaligheid, taalwetenskap, bemarking, globale diensleer, openbare gesondheid, en sake in Suider-Afrika.

Buiten dat internasionale studente 'n gevoel vir ons dorp, streek en land kry terwyl hulle wêreldklaslesings bywoon, bied die geleentheid ook ons eie US-studente 'n transformerende ervaring deur met die internasionale gaste te skakel. In dié opsig strook die skool met die institusionele doelwit van omvattende internasionalisering, wat internasionalisering tuis insluit.

“Ons het in 2001 met een kursusaanbod begin," sê Werner de Wit, US Internasionaal se bestuurder van Kortprogramme, Somerskole en Geaffilieerdes. “Die skool het oor die jare gegroei, en afgevaardigdes kom nou selfs van lande soos China, Singapoer en Egipte. Trouens, ons het in 2019, net voor Covid-19, verteenwoordigers van meer as 45 nasionaliteite in ons 17 kursusse gehad.

“Ons probeer die kursusse elke jaar vernuwe om by te bly met nuwe ontwikkelings," voeg Werner by. “Ons verander namate tye verander, so die program ontwikkel eintlik saam met die samelewing en die wêreld om te sorg dat ons akademiese aanbod relevant bly." 

In pas met die US se holistiese benadering tot onderrig en leer, kombineer die gebalanseerde akademiese program van die somerskool teorie en praktyk op 'n organiese manier. Die skool sluit boonop 'n sosiale program in wat ontwerp is om die akademiese program te ondersteun en ons internasionale gaste aan die kulturele diversiteit van Stellenbosch en die Wes-Kaap bekend te stel.

Vir verdere inligting oor die skool, gaan na https://www0.sun.ac.za/summerschools/ipsu/programme-2/.