Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bouwerk aan ultramoderne Horti Demo-sentrum vorder fluks
Outeur: Carolize Jansen: FreshPlaza
Gepubliseer: 04/07/2022

​Studente by die Universiteit Stellenbosch sal binnekort toegang hê tot 'n ultramoderne Horti Demo-sentrum. Dié sentrum is tans in aanbou by die Universiteit se Welgevallen-proefplaas.

Die hoeksteen vir die Horti Demo-sentrum, wat 3 000 m2 beslaan en ses meter hoog is, is in Mei vanjaar gelê met die simboliese oorhandiging van 'n tamatieplant en die seremoniële knip van die lint deur mnr Guido Landheer, direkteur-generaal van die Nederlandse ministerie van landbou, saam met proff Nick Kotze en Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, van die US.

'n Konsortium bestaande uit ses Nederlandse maatskappye (Delphy, Koppert, Rijk Zwaan, De Ridder, ControlUnion en Swenson), 'n Suid-Afrikaanse maatskappy (Greener Solutions) en die US het meer as 900 000 euro's (sowat R16 miljoen) ontvang om hierdie vertoonkas van die beste en modernste hedendaagse Nederlandse tuinboukundige tegnologie te bou. Die vennote deel die koste in die ooreenkoms, met die Nederlandse regering wat die helfte van die geld verskaf, terwyl die ander lede die res bydra.  

Prof Nick Kotze, bekleër van die WinField United Suid-Afrikaanse leerstoel in plantegesondheid in die Departement Agronomie by die US, sê die beplande Horti Demo-sentrum sal baie meer gevorderd wees as die Universiteit se huidige hortologie-geriewe vir kweekhuisbestuur en groenteproduksie.

Beginsels van sirkulasie

Die Horti Demo-sentrum volg die beginsels van sirkulasie: hersirkulasie van water (dit sal hoofsaaklik reënwater gebruik) en voedingstowwe binne-in die stelsel, wat volgens hom tot 'n besparing van 30% in albei sal lei en verder ook die risiko van omgewingsbesmetting sal uitskakel. Binne-in sal plaagdruk en die gepaardgaande gebruik van chemiese plaagdoders dramaties verminder word deur die inseksifdraad by al die openinge.

“Dit sal voor- én veral nagraadse studente in 'n ander liga plaas deur met internasionale tegnologie te werk. Ek sê altyd vir my studente toekomstige bedryfskundiges moet uit ons geledere kom, en jy kan nie regtig 'n kundige word sonder toegang tot toepaslike eerstewêreldse tegnologie nie."

'Ek is seker ons kan maklik produksie verdubbel'
Terwyl Kotze baie opgewonde is oor die invloed wat die sentrum op die gehalte van hul onderrig sal hê, is die projek ook bestem om verder as die kampus te strek deur 'n plek te word waar boere binne die ten-volle geoutomatiseerde en klimaatbeheerde kweekhuis opgelei kan word.

“Ons wil graag vir veral nuwe of kleinboere die heel beste produksietegniese wat tans in die wêreld beskikbaar is, wys. Ek is doodseker ons kan maklik die gemiddelde produksie van kleinboere verdubbel. Ons het vir ons die teiken gestel om hul produksie te verdubbel en ek dink ons dit bereik"

Hy voeg by dat dit ook 'n uitstekende leergeleentheid vir die lede van die konsortium sal wees om te sien hoe die tegnologie in die kweekhuis onder Suid-Afrikaanse omstandighede vaar waar die fokus baie meer op verkoeling as op verhitting is as wat in 'n Nederlandse kweekhuis die geval sal wees."

Moontlike terrein vir onafhanklike proewe
Die kommersiële groentebedryf van Suid-Afrika wat tradisioneel taamlik gefragmenteerd is, kan ook verwag om by die sentrum baat te vind, byvoorbeeld deur onafhanklike groente proewe wat die US namens kommersiële saadmaatskappye sal uitvoer om plaaslike en onpartydige inligting oor groentevariëteite te genereer.

“Ons kan baie waarde tot die plaaslike groentebedryf toevoeg," sê Kotze, “en ons sal die onafhanklikheid van ons proewe kan waarborg."

Hy noem verder dat 'n hegte werksverhouding tussen akademici en die kommersiële bedryf 'n platform vir nagraadse studente skep om die navorsingsbehoeftes van die bedryf aan te spreek en verskaf nuttige kontak tussen studente en hul toekomstige werkgewers.