Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die dermmikrobioom help hou ons kerngesond
Outeur: Lauren Martin, Natasha Kitchin & Matsepo Ramaboli
Gepubliseer: 04/07/2022

Wêreldmikrobioomdag is onlangs (27 Junie) gevier. In 'n meningsartikel vir Health24, skryf Lauren Martin, Natasha Kitchin & Matsepo Ramaboli van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe dat die menslike dermmikrobioom – die mikro-organismes wat in ons ingewande leef – uiters noodsaaklik is vir ons fisiese welstand.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Lauren Martin, Natasha Kitchin & Matsepo Ramaboli*

Op Wêreldmikrobioomdag (27 Junie) het ons erkenning gegee aan ons ingeboude mikrobes en hulle dikwels miskende bydrae tot ons gesondheid, sowel as die rol wat mikro-organismes vervul om ekosisteme wêreldwyd in stand te hou. Die tema vir 2022, “Vier die mikrobiese wêreld", was dus heel gepas.

Mikroskopiese organismes soos bakterieë, swamme, virusse en archaea is oral. Hulle leef in en op water, grond, kos, plante, diere en mense. Trouens, vir elke menslike sel is daar ongeveer 1,3 bakteriese selle. Hierdie mikro-organismes kom oor ons hele lyf voor, onder andere ons vel, oë, geslagsdele, mond en ingewande. In elk van hierdie habitats vorm daar mikrobegemeenskappe wat as mikrobiome bekend is. Sommige bakterieë piekel net saam vir die pret, maar ander – die simbiotiese bakterieë – bied 'n wedersyds voordelige verhouding. Hierdie simbiotiese bakterieë, veral dié in die derm, vervul 'n kernrol in die ontwikkeling en instandhouding van die menslike liggaam.

Die menslike dermmikrobioom – die mikro-organismes wat in ons ingewande leef – is een van die interessante kenmerke van ons liggame. Dit is deurslaggewend vir menslike ontwikkeling van die vroeë kinderjare tot in volwassenheid en het 'n direkte invloed op die immuunstelsel, wat dit uiters belangrik maak vir gesondheid en siekte. Die dermmikrobioom het 'n metaboliese vermoë wat selfs die lewer s'n oortref, en bevat meer genetiese inligting as alle ander menslike selle saam.

Hoewel nuwe menings gereeld opduik, aanvaar die meeste navorsers dat die mens by geboorte sy eerste mikrobiota (mikro-organismes in of op die menslike liggaam) verkry. Hoe jy gebore word (vaginaal of met 'n keisersnee), het 'n groot invloed op jou dermmikrobioom as pasgeborene. Babas wat vaginaal gebore word, het 'n dermmikrobioom wat ten nouste met dié van die ma se vaginale mikrobioom ooreenstem, terwyl keisersneebabas se dermmikrobioom weer met die ma se velmikrobioom strook. Boonop beïnvloed dieetkeuse ná geboorte (bors- of formulemelk) die bakteriese kolonisasie van die pasgeborene se ingewande. Die dermmikrobioom van babas wat slegs borsmelk kry, word oorheers deur gespesialiseerde bakterieë wat die gesonde suikers in borsmelk afbreek. Wanneer die baba begin vaste kos inneem, word die dermmikrobioom geleidelik meer kompleks – 'n oorgang wat tot drie jaar kan duur.

Die kompleksiteit van die dermmikrobioom by volwassenes bereik 'n hoogtepunt met die vorming van 'n robuuste kernmikrobioom. Dié mikrobioom help beskerm ons teen infeksie, help verteer kos en medisyne, en produseer vitamiene en hormone wat ons nodig het om gesond te bly. Hoewel die dermmikrobioom sekere veranderinge kan absorbeer, kan dieetwysigings, bakteriese infeksie, antibiotika en spanning dit ook aansienlik beïnvloed.

Veranderinge in die dermmikrobioom word die afgelope tyd al hoe meer met vatbaarheid vir siekte verbind. Die verskillende bakterieë waaruit die dermmikrobioom bestaan, werk saam om die gesondheid en funksie van die menslike liggaam te handhaaf en siekte te keer. 'n Versteuring van die samestelling van die dermmikrobioom (oftewel 'disbiose') bevorder inflammasie en siekte. Disbiose vind plaas as gevolg van 'n ongesonde dieet en oormatige antibiotikagebruik, en lei tot 'n vermindering in mikrobiese diversiteit. 'n Afname in mikrobiese diversiteit by volwassenes hou trouens met meer as 100 siektes verband, waaronder obesiteit, tipe 1- en tipe 2-diabetes, allergiese toestande soos asma, verskeie vorme van kanker sowel as neuropsigiatriese toestande soos depressie, angs en skisofrenie.

Die dermmikrobioom vervul 'n kernrol om ingewandsiektes soos kolonkanker en inflammatoriese dermkanaalsiekte te voorkom. Die menslike liggaam kan nie die dieetvesel in volgraanprodukte, vrugte, groente, bone, ertjies en ander peulgewasse sowel as neute en sade verteer nie. Gelukkig omskep die dermmikrobioom dié vesel deur middel van fermentasie in maklik bruikbare kortkettingvetsure, waaronder butiraat. Butiraat wysig die immuunstelsel en bied beskerming teen kolonkanker. 'n Veselarm dieet dra by tot disbiose en inflammasie, wat op sy beurt die ontwikkeling van sekere siektes aanhelp. Wanneer ons vetterige kos eet, verteer die lewer die vet tot primêre galsure, waarna die dermmikrobioom dit verder tot sekondêre galsure verteer. Een van hierdie sekondêre galsure – deoksicholaat – bevorder kolonkanker.

Daar is onlangs ook bevind dat die ingewande en die brein indirek op mekaar inwerk deur die sogenaamde mikrobiota-derm-brein-as. Die dermmikrobioom is 'n kernbydraer tot breinontwikkeling. In kritiese neuro-ontwikkelingsfases soos die eerste lewensjare het disbiose 'n negatiewe uitwerking op neuro-ontwikkeling, wat in later jare tot neurologiese en neuropsigiatriese steurings kan lei.

In teenstelling met ons DNS, is die mikrobioom dinamies, en kan ons dit dus aanpas om gesondheid en welstand te verbeter. Dieetaanvulling met prebiotika (nieverteerbare voedsel vir bakteriese vertering), probiotika (lewende voordelige bakterieë) of sinbiotika ('n kombinasie van pro- en prebiotika) kan mikrobioomveranderinge wat met siekte verbind word, beperk deur die hoeveelheid goeie mikrobes in die derm te verhoog en sodoende jou kans op positiewe gesondheidsuitkomste te verbeter. Selfs al word jy nie met 'n siekte gediagnoseer nie, kan die insluiting van pre- en probiotika by jou daaglikse lewe deur sowel 'n gesonde dieet as aanvullings die goeie bakterieë in jou derm help voed en jou immuunstelsel versterk. 

​Soos dr Will Bulsiewicz, 'n erkende Amerikaanse gastroënteroloog en lid van die wetenskaplike adviesraad van ZOE, sê: “Straks die belangrikste ding vir die mens se gesondheid is nie eens menslik nie!" Die dermmikrobioom is ongetwyfeld noodsaaklik vir ons fisiese welstand. Kom ons raak dus mikrobioomgeletterd en skep groter openbare bewustheid van die belang van die mikro-organismes in ons lewens.

  • Foto deur Amanda Mills, USCDCP by Pixnio.

*Studente Lauren Martin en Natasha Kitchin is deel van die navorsingsgroep oor neuropsigiatriese genetika in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch. Dr Matsepo Ramaboli is 'n nadoktorale navorsingsgenoot in die FGGW se Afrika-mikrobioominstituut.