Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US open e-aansoeke vir 2023 voorgraadse finansiële hulp
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 01/07/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings (SVBL) het bekend gemaak dat voornemende voorgraadse studente nou vir befondsing kan aansoek doen nadat die aansoekproses op Vrydag, 1 Julie 2022 geopen het. Studente kan tot 30 September 2022 aansoek doen vir befondsing.

 SVBL vorm deel van die US se afdeling Finansies. 'n Span kundige finansiële hulppraktisyns gee leiding aan voornemende en huidige voorgraadse studente wat finansiële hulp nodig het deur beurse toe te staan en te administreer op 'n volhoubare wyse.

 “Finansiële tekorte behoort nie 'n voornemende student daarvan te weerhou om by die US in te skryf nie," sê Bianca Andrews, SVBL-beursbeampte. "Sodra 'n voornemende student voorlopige toelating tot 'n program gekry het en 'n studentenommer ontvang het, kan die student die befondsingsopsies wat op ons nuwe webwerf hier beskikbaar is, ondersoek."

 Andrews sê die US ken nie net beurse toe op grond van finansiële behoeftes nie, maar ook vir akademiese meriete. Sy het studente aangemoedig om die webwerf te besoek. “Ons het baie eksterne skenkerbeurse beskikbaar, en studente moet kyk of hulle daarvoor kwalifiseer. Ons moedig ook huidige voorgraadse studente aan wie se gesin se finansiële situasie die afgelope jaar verander het, of wat 'n tweede en/of derde broer of suster by die Universiteit wil inskryf vir die komende akademiese jaar, om die beskikbare befondsingsopsies te hersien en aansoek vir finansiële hulp te doen."

 Studente wat vir befondsing wil aansoek doen, moet dit via die my.sun.ac.za-portaalskakel doen. Onthou om die SVBL-webwerf te besoek vir meer inligting oor die beskikbare befondsingsopsies. Neem asseblief kennis dat slegs laat-toelatings 'n verlenging van twintig (20) dae toegestaan sal word tot en met 30 November 2022. Vir navrae, kontak asseblief ons studentekliëntekontaksentrum by 021 808 9111.

 

Media navrae:

Petro Mostert

petromostert@sun.ac.za

0823346193​