Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekendstelling van nuwe Programkoördineerder: MIV en Seksualiteite
Outeur: Equality Unit
Gepubliseer: 29/06/2022
Wat omtrent jou posisie maak jou opgewonde?
Ek kan voorspraak maak vir die gemarginaliseerde en kwesbare gemeenskappe van die Universiteit Stellenbosch.

Het jy nog altyd in MIV en die bevordering van gelykwaardigheid vir alle seksualiteite en identiteite belang gestel?
Ek het nog altyd in MIV en voorspraak vir die LGBTQIA+-gemeenskap belang gestel. My belangstelling in MIV het op hoërskool begin, toe ek ʼn toename in aktiwiteit by my plaaslike begraafplaas opgemerk het. Die begraafplaas moes vergroot word, omdat so baie mense gesterf het. Ons het langs die begraafplaas gestaan en ek het vir my groep vriende gevra waarom daar elke dag ʼn begrafnis was. Een het geantwoord: “Dis hierdie nuwe siekte wat mense doodmaak.” Ek het later ontdek dat die mense aan Vigs gesterf het. Enkele jare later het ek as deel van my nagraadse studies vrywilligerwerk vir die organisasie sonder winsbejag, Home-Based Care, gedoen. Die organisasie werk direk met individue wat MIV-positief is of aan Vigs ly, of daardeur geraak word, en daar het ek nie net meer oor MIV geleer nie, maar ook oor seksualiteite en identiteite (hoofbevolkings). Ek leer nog steeds meer daaroor.  

Wat bring jy na die posisie van Programkoördineerder: MIV en Seksualiteite?
ʼn Luisterende oor en stories van hoop, wat deur MIV-positiewe individue vertel word. Ek wil graag fokus op ART-nakoming (antiretrovirale terapie) en die stigma rondom MIV/Vigs wat steeds bestaan. Vir die LGBTQIA+-gemeenskap is ek hopelik ʼn bondgenoot. Ek onthou ʼn student wat vroeër vanjaar vir my vertel het dat hulle kamermaat as transgender teenoor hulle ‘uitgekom’ het en by my wou weet of dit normaal is en of transgender mense bestaan. Dit het my laat wonder of hulle uit ʼn gemeenskap kom waar dit minder algemeen is en hoeveel dalk bang is om ‘uit te kom’ weens die stigma en negatiewe reaksies van die samelewing. Dit het my ook laat besef dat ons almal moet toelaat om hulleself te definieer. 

Hoe sal jy die steundienste en -aanbod aan personeel en studente versterk?
Ek hoop om ʼn meer persoonlike benadering te volg en nie net ʼn sambreelopsie te gebruik nie. Dit sal besprekings en interaksie met personeel en studente meebring, om te hoor wat gedoen moet word en hoe hulle ondersteun wil word. Een gebied wat na my mening aandag benodig, is die behoefte om duidelik tussen aangewese geslag, genderidentiteit en seksualiteit te onderskei. Hierdie terme word dikwels omruilbaar gebruik, wat wanopvattings oor LGBTQIA+-persone versterk.  

Wat wil jy die graagste in hierdie posisie takel?
Stigma en stereotipes met betrekking tot MIV-positiewe mense en LGBTQIA+-individue. Ek wil graag verken hoe gedragsverandering (teorieë) die stigma, vooroordeel en diskriminasie teenoor LGBTQIA+-persone op individuele en gemeenskapsvlak kan aanpak. Ek glo dat gedragsverandering moontlik is as die samelewing gewillig is om vooroordele af te leer, sodat ons ʼn veilige en inklusiewe omgewing vir almal kan skep.

Wat doen jy as jy nie werk nie?
Ek reis graag.