Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Praktiese veldvaardighede kardinaal vir interpretasie van komplekse geologiese terreine
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

​“Om as raadgewende geowetenskaplike te werk, kan jy die beste van twee wêrelde hê.  Daar is tye wat ek na vreemde lande gevlieg word om plekke te besoek wat ek andersins nooit sou gesien het nie. Ek beleef die plaaslike kultuur en ontdek besonderse plekke."  – Heike Fourie, HonsBSc in Aardwetenskap (2019)

Heike Fourie 2.jpg

Heike Fourie het in 2018 'n BSc-graad in Aardwetenskap verwerf wat sy in 2019 opgevolg het met 'n HonsBSc in Aardwetenskap. Sy werk tans by Tect Geological Consulting as raadgewende geowetenskaplike.

“As raadgewende geowetenskaplike kan my daaglikse take wissel van veldkartering in 'n vreemde land, tot die interpretering van data en 3D-modellering van struktureel komplekse mineraalafsettings en geologiese terreine," sê Heike.

“Bykomend hiertoe, moet jy soms satelliet- en hommeltuig-afstandwaarnemingsdata en geofisiese datastelle interpreteer ten einde op eksplorasiepogings te fokus. Afhangend van die projek, kan my werk vereis dat ek onafhanklik of as deel van 'n span werk. Laasgenoemde kan varieer van twee tot vier interne geowetenskaplikes tot multimaatskappy samewerkingspanne van tot tien geowetenskaplikes en geoloë. Wat tegnieke betref, is strukturele kartering en dokumentering van geologiese kern monsters die goue standaard van datavaslegging. En die interpretasie en integrasie daarvan met ander datastelle soos litologiese, geochemiese en essaidata, is van kardinale belang om te verstaan hoe 'n mineraalafsetting gevorm is en wat die bepalende geometrie is. Ek gebruik meestal die sagtewarepakkette Leapfrog en Micromine vir 3D-modellering, en QGIS en ArcMap vir ruimtelike analise en navrae."

Heike vind dat haar werk as raadgewende geowetenskaplike haar die beste van twee wêrelde bied. “Daar is tye wat ek na vreemde lande gevlieg word om plekke te besoek wat ek andersins nooit sou gesien het nie. Ek beleef die plaaslike kultuur en ontdek besonderse," verduidelik sy. 

Een van die belangrikste dinge wat Heike by die Universiteit Stellenbosch (US) geleer het, was praktiese ervaring in die veld. “Een van die vakke wat ek geneem het toe ek geologie aan die US studeer het, is Aardwetenskapveldvaardighede wat jy vanaf eerste tot derde jaar neem," sê sy. “Dit behels dat jy 'n paar dae tot 'n week in die veld spandeer, waar jy die geleentheid kry om dit wat jy in die klas geleer het, op voorbeelde in die veld toe te pas. Hierdie praktiese ondervinding gee jou selfvertroue 'n hupstoot met die identifisering van geologiese kenmerke en rotstipes, wat help met die interpretasie van die meer komplekse geologiese terreine. Een van ons dosente het altyd vir ons gesê: 'Dit wat jy ken, is al wat jy raaksien.' Dit het my deur die jare bygebly. Dit is dus belangrik om uit te gaan en na 'n paar rotse te kyk! Ek het ook tydens my graadstudies Geografiese Inligtingstegnologie geneem en hierdie kennis kom handig te pas in my daaglikse werk."

Op die foto, Heike Fourie. Foto verskaf

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.