Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kernvaardighede in fisika lei tot kwantitatiewe ontleding in die bankwese
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

​“Wat ek die meeste van ontledings hou, is die geleenthede wat dit bied vir kreatiewe probleemoplossing: 'n uitdaging kan baie dikwels vanuit een (of 'n kombinasie) van verskeie perspektiewe benader word." – Dr Gys van der Westhuizen, MSc in Fisika (2007)

Dr Gys van der Westhuizen het in 2004 'n BSc in Fisika aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Hy het dit in 2005 opgevolg met 'n HonsBSc en in 2007 'n MSc in Fisika verwerf. Hierna het hy na Engeland verhuis waar hy in 2013 sy PhD in Toegepaste Fisika (Opto-elektronika) aan die Universiteit van Southhampton verwerf het. Vir die afgelope sewe jaar werk hy vir FNB, eers as kwantitatiewe ontleder en tans as hoof van die span ontleders.   

“Ek en my span het die taak om datagedrewe besluitneming moontlik te maak," sê Gys. “Ons ontleed groot hoeveelhede interne en eksterne data om insigte te verskaf, of om statistiese of masjienleermodelle te bou wat ons kan inlig hoe om kliënte beter tot diens te wees."

''n Tipiese dag vir hom sal 'n vergadering met sy span behels om projekprioriteite en potensiële struikelblokke te bespreek en vergaderings met belanghebbers om vereistes in te win en ontledingsinsette te gee. Hy moet ook projekoplossings en -aanbevelings evalueer en hersien,  ontledingsuitsette “vertaal" sodat dit vir sakebelanghebbers aangebied kan word én ontmoetings met eweknieë  peers om in lyn te kom met gedeelde databates en verwante projekte.

Gys voeg by: “Rekenaars is ons brood en botter en ons spandeer baie tyd aan kodering in onder andere die volgende tale: SAS, SQL, R, Python en MS Excel. Wat ek die meeste van ontledings hou, is die geleenthede wat dit bied vir kreatiewe probleemoplossing: 'n uitdaging kan baie dikwels vanuit een (of 'n kombinasie) van verskeie perspektiewe benader word. Verder is die kernvaardighede relatief oordraagbaar van die een domein na 'n ander – met ander woorde: van fisiese wetenskappe na die bankwese."

Dr van der Westhuizen verklaar dat hy gedurende sy studiejare op Stellenbosch twee belangrike dinge geleer het wat hom in sy loopbaan tot nou van hulp was. Die eerste was 'n stewige grondslag in suiwer en toegepaste wiskunde en programmering. Die tweede was hoe om jou bevindings effektief te kommunikeer, iets wat veral belangrik is in 'n multidissiplinêre omgewing soos die bankwese.

Vir diegene wat 'n loopbaan in hierdie veld oorweeg, het Gys die volgende raad: 'n Goeie begrip van wiskundige en statistiese konsepte is die hoofsaak. Dit is ook nuttig om so gou as moontlik vertroud te raak met programmering en algoritmes. Daarom is 'n agtergrond in die fisiese wetenskappe of ingenieurswese 'n goeie wegspringplek!

Op die foto: Dr Gys van der Westhuizen. Foto verskaf

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.