Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eksplorasiegeologie is nie ’n 8 tot 5 werk nie. Maar dit kan jou na interessante plekke neem
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

​“Dis ongetwyfeld nie 'n 8 tot 5 werk nie. Ek is mal oor die buitelewe en veldwerk, veral geologiese kartering is definitief die lekkerste deel van my werk – selfs al kan dit soms fisiek baie uitdagend wees."– Dr Duncan Hall, PhD in Geologie (2016)

Dr Duncan Hall het in 2009 'n BSc in Aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal wat hy in 2010 opgevolg het met 'n HonsBSc in Geologie, en in 2016 het hy sy PhD in Geologie verwerf. Hy werk tans as senior eksplorasiegeoloog vir die internasionale goudmyn- en eksplorasiemaatskappy Centamin. Dr Hall werk vanuit hulle kantoor in sentraal-Londen, maar spandeer baie tyd aan projekte in Egipte met kort ongereelde besoeke aan die Ivoorkus in Wes-Afrika.

Net soos die ander veldgebaseerde wetenskappe behels minerale eksplorasie dieselfde binne-buite-tweeledigheid. Duncan is betrokke by die beplanning en ondersteuning van deurlopende veldwerk en maak gebruik van gespesialiseerde sagteware om die resultate daarvan te interpreteer ten einde toekomstige veldprogramme te beplan. “Ten spyte van al die moderne tegnologie wat beskikbaar is, het ek altyd 'n stel kleurpotlode by my sodat ek kaarte en geïnterpreteerde deursnitte kan teken. Dis heerlik om geologie met die hand te doen. Die kognitiewe betrokkenheid by die data wanneer jy potlood en papier gebruik, is dikwels nuttiger as eindeloos na 'n skerm te staar," sê hy.

In die veld behels sy werk geologiese kartering en steekproefneming, wat 'n goeie begrip van geologie en kartografie vereis. “'n Goeie geoloog gaan nooit sonder sy hamer, notaboek, basiskaart en kompas die veld in nie!" voeg hy by.

“Die verskeidenheid wat veldwerk bied, is ongetwyfeld die aspek van my werk wat ek die meeste geniet − waar dit beslis nie 'n 8 tot 5 werk is nie. Ek is mal oor die buitelewe en veldwerk is definitief die lekkerste deel van my werk – selfs al kan dit soms fisiek baie uitdagend wees. Iemand betaal my selfs om na allerhande “vreemde" plekke te reis wat baie min mense met dieselfde agtergrond ooit die voorreg sal hê om te besoek of te beleef."

Die een ding wat Duncan enige iemand sal aanbeveel wat belangstel om in sy beroepsvoetspore te volg, is om ander tale aan te leer. “Dis 'n gegewe dat jy in hierdie tipe werk baie sal moet reis," verduidelik hy. “Ek het by die Alliance Française in Stellenbosch ingeskryf vir 'n inleidende kursus in Frans en wens dat ek reeds veel vroeër die moeite gedoen het. Ek sal aanbeveel dat jy die mees gesproke tale kies van streke waar mineraaleksplorasie waarskynlik gekonsentreer sal wees. Dit is altyd nuttig om mense ten minste in hulle moedertaal te kan groet." 

Duncan Hall.JPG
Op die foto: Dr Duncan Hall. Foto verskaf

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.