Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Waardevolle nagraadse vaardighede in wetenskap spoel oor na loopbaan in tekstielontwerp
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

​“Ek geniet dit regtig om bewustheid, bewondering en respek vir die Kaapse flora en fauna te skep deur middel van mooi en elegante funksionele kuns wat 'n groot gehoor kan bereik." – Dr Michelle Jooste, PhD in Plantkunde (2019)

Dr Michelle Jooste het haar PhD in Plantkunde in Januarie 2019 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy is die stigter en direkteur van CoralBloom Studio, waar sy werk as tekstiel- en produkontwerper, en ook die produksie- en besigheidskant bestuur. CoralBloom Studio spesialiseer in "fynbos-geïnspireerde funksionele kuns", wat die insluiting van oorspronklike kunswerke van inheemse flora en fauna in 'n reeks wat bestaan uit gehaltehuisware, -dekor en -bykomstighede behels – alles volhoubaar en ekovriendelik en gemaak van natuurlike tekstiele.

Michelle se werk is 'n balans van praktiese en rekenaargebaseerde werk: die ontwerp van produkte, die skakeling en ontmoeting met kliënte en winkeleienaars, die ontwikkeling van nuwe konsepte en reekse. “Ek gebruik 'n verskeidenheid gespesialiseerde digitale redigeringsagteware om produkontwerp te doen, die proefmodel te maak, en soomlose patroonontwerpe vir tekstiele te maak," verduidelik sy.

“Ons werk as familiespan. My ma en suster, beide selfopgeleide kunstenaars, dra die oorspronklike natuurskilderye by, 'n ineenvloeiing van tradisionele en modernistiese waterverfontwerpe. Dit is my rol om die oorspronklike kunswerke in produkontwerpe om te skakel, die druk en produksie van die tekstiel te fasiliteer en verkope te bestuur.

“Ons hoop en visie vir die CoralBloom Studio-reeks was nog altyd om 'n wye gehoor te trek en hulle verlief te maak op die natuurlike skoonheid van ons land!" sê Michelle. “Ek geniet dit regtig om bewustheid, bewondering en respek vir die Kaapse flora en fauna te skep deur middel van mooi en elegante funksionele kuns wat 'n groot gehoor kan bereik. Ons het onlangs met die Trust vir Bedreigde Natuurlewe saamgespan om 'n funksionele kunsreeks vir SANParke te maak. Ons is onder andere ook besig om saam met @home te werk aan 'n spesiale projek wat in September 2022 van stapel gestuur sal word."

Michelle gee die US die eer vir die aanleer van kritiese denkvaardighede, probleemoplossingsvaardighede, aandag aan detail en hoe om uitdagings aan te pak met 'n sistematiese benadering. Ten spyte daarvan dat sy wegbeweeg het van navorsingswetenskap, in 'n meer kreatiewe rigting, het die ondervinding wat sy gekry het met die aanbieding van haar navorsing, openbare redevoering, die skryf van artikels en die saamwerk met studieleiers en studentekollegas haar 'n goeie verskeidenheid oordraagbare vaardighede geleer.  

Michelle beveel studente aan om te poog om 'n loopbaan te vind wat hulle belangstellings en  natuurlike talente kombineer. Sy voeg by: “Ek het ook geleer om nie bang te wees vir radikale veranderings of om uit die boks te dink nie. Hierdie manier van dink het my op 'n baie opwindende en vervullende loopbaanpad geplaas!"

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.

Foto: Michelle Jooste. Foto verskaf