Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“My wetenskapsopleiding bepaal die manier waarop ek my werk by Ceres Fruit Growers benader”
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

“By die Universiteit Stellenbosch word jy gedruk om groot volumes werk baas te raak en op 'n sinvolle wyse weer te gee. Dit sal in jou guns tel, ongeag die beroep wat jy volg." – Elani van As, BSc Molekulêre Biologie en Biotegnologie (2009) en LLB (2012).

Elani van As werk tans vir Ceres Fruit Growers as inligtingsbeampte in die Departement Produsentedienste. Sy het in 2009 'n BSc-graad in Molekulêre Biologie en Biotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal wat sy in 2012 met 'n LLB (ook aan die US) opgevolg het.

“Ceres Fruit Growers is 'n maatskappy wat deur produsente besit word en waar produsente appels en pere (pitvrugte) lewer om verpak te word. Ons het vier pakhuise op die perseel en bedien ongeveer 30 boerdery-eenhede van ons eie. Die pitvrugtee word deur Tru-Cape Fruit Marketing (Pty) Ltd bemark. Ons verpak ook vrugte van bemarkers soos CORE en The Fruit Route," verduidelik Elani.

“Ek werk in die Departement Produsentedienste waar ons direk met die produsente werk. My bestuurder is 'n landbou-ekonoom en ek verskaf administratiewe steun aan hom. My werk behels baie data-insameling en -verwerking. Ek is ook die skakel tussen die produsente aan die een kant, en die pakhuis en bemarker aan die ander kant, aangesien die produsente moet voldoen aan oudits en vereistes ten einde hulle vrugte na sekere markte te kan uitvoer."

Elani sê sy geniet dit om met data te werk, aangesien sy daarvan hou om binne 'n struktuur te werk en baie detailgeoriënteerd is. Dis vir haar ook baie bevredigend  om produsente en derde partye vining te kan bystaan met inligting en ondersteuning te kan bied, veral gedurende die plukseisoen (Januarie tot Mei) wanneer produsente baie besig is. 

In haar huidige pos gebrui Elani nie haar grade direk op 'n daaglikse basis nie, maar haar wetenskapsopleiding bepaal die manier waarop sy haar werk benader en het haar die onderliggende vaardighede gegee om suksesvol te wees in wat sy doen. “Ek dink alles wat jy aan die Universiteit Stellenbosch studeer, is tot voordeel vir jou toekoms. In my ervaring word 'n mens gevorm deur denkwyses aan te leer en te leer hoe om moeilike onderwerpe, vakke en scenario's te benader. Jy word gedruk om groot volumes werk baas te raak en op 'n sinvolle wyse weer te gee. En dit sal in jou guns tel, ongeag die beroep wat jy volg. Ek sal voornemende studente met 'n belangstelling in die natuurwetenskappe aanbeveel om behoorlik navorsing te doen oor al die verksillende velde wat jy kan betree alvorens jy inskryf – daar is soveel opsies beskikbaar."

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.

Foto: Elani van As. Foto verskaf