Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 20 Junie 2022)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 29/06/2022

(Cofa apha ukuze ufumane isiXhosa)​

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het op Maandag 20 Junie 2022 die tweede van sy vier geskeduleerde vergaderings vir die jaar gehou. Soos gebruiklik, het ons in hibridiese vorm vergader, met sommige lede aanlyn en ander op kampus.

Soos prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, in sy verslag gesê het, was die onbetwiste hoogtepunt van die kwartaal die inhuldiging van oudregter Edwin Cameron as ons 15de Kanselier op 18 Mei. Ons is gewis bevoorreg om so 'n sterk voorstander van menswaardigheid in hierdie belangrike amp te hê.

Ongelukkig is die viering egter oorskadu deur die vorige naweek se skokkende urineringsvoorval by Huis Marais, wat groot skande en pyn vir ons universiteit veroorsaak het. Ons was daardie selfde week ook diep ontsteld om van 'n beweerde verkragting by nog een van ons Stellenbosse koshuise te hore te kom.

Die Raad het hierdie kwessies indringend bespreek, met behoorlike inagneming van die integriteit van die regs- en dissiplinêre prosesse wat intussen ontvou het. Die bestuur is daarvoor geloof dat hulle 'n onafhanklike kommissie van ondersoek onder leiding van oudregter Sisi Khampepe aangestel het.

Die hoop is uitgespreek dat ons hierdie geleentheid sal gebruik om ons blindekolle bloot te lê sodat ons die Universiteitsgemeenskap se opregte sentiment ná die betreurenswaardige voorvalle – “Dít is nie wie ons is nie" – kan naleef.

Raadslede reken die Universiteit Stellenbosch is goed geposisioneer om die akademieskap van transformasie in die hoër onderwys uit te bou – nie net omdat die US 'n toonaangewende akademiese instelling is nie, maar ook as gevolg van ons spesifieke geskiedenis. Ons sal voortaan Raadsvergaderings begin deur oor die Universiteit se restitusieverklaring te besin.

Die Raad het ook die groen lig vir seremoniële weergawes van die nuwe Universiteit Stellenbosch-logo gegee, die finansiële state en geïntegreerde jaarverslag vir 2021 goedgekeur, 'n nuwe beleid oor konsultasiewerk deur personeel aanvaar, kennis geneem van die heraanstelling van twee dekane, en toestemming verleen vir die betaling van 'n eenmalige toegif aan personeellede.

Lees gerus verder vir meer besonderhede.

Vriendelike groete

Ainsley Moos
Voorsitter: Universiteit Stellenbosch Raad

 

Transformerende studente-ervaring

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het in sy bestuursverslag aan die Raad (klik hier vir die volledige dokument, en hier vir 'n PowerPoint-aanbieding) inligting gebied oor verskeie programme en inisiatiewe wat die Universiteit vir nuwelingstudente ingestel het om hulle by hul nuwe sosiale omgewing te help aanpas. Dít sluit in die Universiteit se uitgebreide en omvattende residensiële onderwys- (ResEd-)program genaamd Siyakhula (“Ons groei"). Die program behels interaktiewe werksessies wat geskep is om nuwelinge aan nuwe denkwyses bloot te stel en hulle die wêreld deur ander se oë te help sien. Dit strook met ons kern strategiese tema om 'n “transformerende studente-ervaring" te voorsien.

Die Raad het ook die bekendstelling van 'n Transformasiehandves deur ons Afdeling Studentesake verwelkom. Daarin onderneem ons om 'n opvoedkundige tuiste te voorsien waar “alle persone kan floreer en met respek en menslikheid behandel word".

Sosiale Impak, Transformasie en Personeel

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het sy jaarlikse verslagdoeningsbeurt gebruik om die Raad op hoogte te bring van vordering met transformasie as 'n dwarsliggende strategie vir die bestryding van rassisme en geslagsgebaseerde geweld by ons instelling. Hy het ook ander aspekte van sy portefeulje uitgelig. Klik hier vir sy volledige verslag, hier vir sy PowerPoint-aanbieding, en hier om 'n samevatting te lees.

Geïntegreerde jaarverslag en finansiële state vir 2021

Die Raad het op aanbeveling van sy Oudit- en Risikokomitee die US se geïntegreerde jaarverslag vir 2021, met inbegrip van die Universiteit se gekonsolideerde finansiële jaarstate, goedgekeur.

Daar is kennis geneem dat die Universiteit 'n ongekwalifiseerde eksterne ouditverslag oor sy finansiële state vir die jaar geëindig 31 Desember 2021 ontvang het. Die Oudit- en Risikokomitee het ook bevestig dat daar voldoende interne finansiële beheerstelsels bestaan, en dat daar nie gedurende die jaar enige wesenlike tekortkominge in die funksionering van hierdie stelsels was nie.

Die Raad het die US se status as lopende saak goedgekeur en die mening uitgespreek dat die Universiteit in 'n gunstige finansiële posisie is, met genoeg hulpbronne om sy werksaamhede vir die volgende 12 maande voort te sit.

Geringe inhoudelike veranderinge aan die jaarverslag is aangevra. Dit sal aangebring word voordat die verslag en state teen die voorgeskrewe sperdatum van 30 Junie aan die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie voorgelê word.

Selfevalueringsverslag vir institusionele oudit

Die Raad het die selfevalueringsverslag goedgekeur wat opgestel is om die Universiteit se institusionele oudit deur die Raad op Hoër Onderwys (RHO) aan te voor. Die RHO se nuwe gehalteversekeringsiklus vereis dat alle hoëronderwysinstellings in 2022 'n institusionele oudit ondergaan.

'n Institusionele oudit is 'n eksterne gehalteversekeringsmeganisme. Die doel is om te bepaal hoe samehangend en doeltreffend 'n instelling se interne gehalteversekeringstelsel is om studentesukses moontlik te maak en die kernwerksaamhede van leer en onderrig, navorsing en gemeenskapskakeling (sosiale impak) te verbeter.

Ons selfevaluering handel oor die tydperk 2018 tot 2021. Vir bykomende konteks is sekere inligting uit 2014 en 2022 ook bygewerk.

Die selfevalueringsverslag en gepaardgaande bewysportefeulje sal volgens voorskrif teen 30 Junie by die RHO ingedien word. Die Universiteit sal dan later vanjaar 'n portuurbeoordelingsterreinbesoek ontvang.

Toegif vir personeel

Soos ons al een keer vantevore gedoen het (ten opsigte van 2020), het die Raad goedkeuring verleen vir 'n eenmalige betaling aan personeellede om dankie te sê vir hul harde werk in moeilike omstandighede vanweë die koronaviruspandemie in 2021. Die toegif, wat gelykstaande is aan 1% van personeellede se totale koste van indiensname, is as deel van die Junie 2022-salarissiklus uitbetaal. Klik hier vir verdere inligting.

Beleid oor konsultasiewerk

Die Raad het 'n nuwe institusionele beleid aanvaar oor konsultasiewerk wat US-werknemers vir eksterne kliënte verrig. Konsultasiewerk word toegelaat, maar sal ooreenkomstig personeel se prestasiebeoordelings en die bestaande proses vir die bestuur van navorsingskontrakte hanteer word. Die nuwe beleid sal ook sorg dat konsultasiefooie wat aan werknemers betaal word aan alle tersaaklike US-beleide en die regulasies van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens voldoen. Die beleidseienaar is die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, terwyl die direkteur van Navorsingskontrakte in die Afdeling Navorsingsontwikkeling as beleidskurator dien. Die dokument sal so gou moontlik in ons beleidsbewaarplek geplaas word, en tree op 1 Augustus in werking.

Nuwe embleem en seël

Die Raad het eenparig goedkeuring verleen vir 'n nuwe embleem en seël vir die Universiteit ter aanvulling van die nuwe logo wat ons in April 2021 aanvaar het. Die embleem en seël is seremoniële weergawes van die logo.

​​

Van links, die US se korporatiewe logo vir gewone gebruik, en die nuwe embleem en seël vir gebruik op kwalifikasiesertifikate. 

Hiermee verseker ons belyning met die eenvormige, samehangende handelsmerkargitektuur en -posisionering van ons korporatiewe handelsmerkidentiteit. Vir navrae, kontak gerus die Handelsmerkspan van Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking by branding@sun.ac.za.

Twee dekane weer aangestel

Die Raad het kennis geneem van die heraanstelling van proff Reggie Nel en Tony Leysens as dekane van onderskeidelik Teologie en Lettere & Sosiale Wetenskappe wanneer hul eerste termyne op 31 Oktober en 31 Desember 2022 verstryk. Die voorsitter van die Senior Aanstellingskomitee het die twee dekane se heraanstelling goedgekeur nadat die onderskeie fakulteitsrade se steun ook bekom is. Prof Nel sal vir 'n verdere vyf jaar dien, en prof Leysens vir twee.

Personalia

Eerste vergadering

Dr Nicky Newton-King, wat vir die termyn 2 April 2022 tot 1 April 2026 deur die US se skenkers verkies is, het haar eerste Raadsvergadering bygewoon.

Laaste vergadering

Prof Eugene Cloete se termyn as Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie eindig op 31 Julie 2022. Raadpleeg die vorige Kommunikasie uit die Raad vir die mosie wat aanvaar is om prof Cloete met sy twee suksesvolle termyne geluk te wens en hom vir sy werk te bedank.

Me Lazelle Bonthuys, Adjunkregistrateur: Sentrum vir Oorsigfunksie-ondersteuning, tree teen die einde van die jaar af, maar sal die volgende twee Raadsvergaderings misloop as gevolg van verlof. Die voorsitter van die Raad het haar werksetiek geloof en haar vir haar 36 jaar toegewyde en getroue diens bedank.

Mnr Desmond Thompson, Senior Kommunikasiespesialis: Uitvoerende Bestuur, verlaat die Universiteit teen die einde van Junie 2022 om 'n pos elders te aanvaar. Die Rektor het hom vir sy 12 jaar getroue diens bedank.

Lede wie se termyne voor die volgende vergadering sal verstryk

Die termyn van prof Aslam Fataar, wat uit eie geledere deur die Senaat verkies is, eindig op 30 Junie 2022. Prof Leslie le Grange is op 3 Junie deur die Senaat verkies om hierdie vakature in die Raad te vul.

Nóg 'n Raadslid wie se termyn op 30 Junie eindig, is dr Lihle Qulu, wat verkies is uit die geledere van permanente akademiese personeellede wat nié in die Senaat dien nie.

Komitees

Die volgende lede is in die aangeduide Raadskomitees aangestel:

  • Eregradekomitee: Dr Therese Fish
  • Eregradebenoemingskomitee: Dr Leon Schreiber
  • Taalkomitee: Prof Nicola Smit (as Senaatsverkose Raadslid) en mnr Willie Liebenberg (as Konvokasieverkose Raadslid)
  • Voorsitter van die Taalkomitee: Me Nadine Moodie
  • Sosiale en Besigheidsetiekkomitee: Dr Nicky Newton-King as bykomende lid
  • Voorsitter van die Sosiale en Besigheidsetiekkomitee: Me Gwen Ngwenya

Gelukwensing

  • Dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het op 11 Junie die graad Doktor in Bedryfsadministrasie (DBA) in Hoëronderwysbestuur aan die Universiteit van Bath, Verenigde Koninkryk, verwerf. Sy beskik ook oor 'n MBChB van die Universiteit van Kaapstad en 'n MBA van die Stellenbosch Bestuurskool.
  • Me Ziyanda Stuurman, 'n voormalige US-studenteleier en nou 'n Raadslid wat deur die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie aangestel is, het die graad Magister in die Wysbegeerte aan Brandeis-universiteit in die Verenigde State verwerf. Sy het reeds 'n magistergraad van die Universiteit van Sussex, Verenigde Koninkryk, en twee grade van die US – 'n BA Internasionale Studie en 'n BA-honneurs in Politieke Wetenskap.
  • Dr Lihle Qulu, 'n senior dosent in die US se Afdeling Geneeskundige Fisiologie, het onlangs 'n toekenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se nuwelingnavorsersprogram ontvang. Qulu, wat oor 'n PhD in Neurowetenskap van die Universiteit van KwaZulu-Natal beskik, doen navorsing oor faktore wat seksuele aggressie by mans beïnvloed.

Volgende vergadering

Die Raad se volgende vergadering vind op 26 September 2022 plaas.