Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Om jou chemievaardighede in die landbousektor aan te wend
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

​“Wees altyd ontvanklik vir leer, nie net van diegene met meer akademiese kennis as jy nie, maar ook van mense met kennis van die praktyk." - Suleiman Sungay, BSc Molekulêre Biologie en Biotegnologie (2018)

Suleiman Sungay het in 2018 sy BSc in Molekulêre Biologie en Biotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy het 'n Verlengde Graadprogram gedoen. Suleiman is tans 'n opsiener en SANAS-geakkrediteerde tegniese ondertekenaar vir die Departement Landbou by Bemlab, 'n onafhanklike analitiese laboratorium waar hulle kwalitatiewe bepalings van elemente in grond, blare, vrugte, kompos en water doen.  

Sy hoof verantwoordelikheid as opsiener in die departement, is om verslag te doen aan kliënte van ontledingsresultate. Monsters word onderwerp aan 'n verskeidenheid van ekstraksiemetodes en elke element word vervolgens gekwantifiseer deur gebruik te maak van gespesialiseerde instrumentasie soos induktief gekoppelde plasma optiese-emissiespektrometrie (IKP-OES). Afhangend van wat geanaliseer word, word verskillende metodes gebruik − soms titrasies en soms  potensiometriese metodes. Die resultate van hierdie eksperimente word dan in 'n verslag saamgevat. In sy huidige pos tree hy individueel op, maar werk ook as lid van 'n span. 

“Ek geniet beslis die chemie-deel van my werk die meeste!" sê Suleiman. “As die teoretiese en praktiese aspekte ooreenstem en alles perfek uitwerk, is dit die mees bevredigende gevoel.  Dit is nogal interessant hoe al die elemente waarvoor ons toets 'n invloed op die hele boerderysektor het, en wat gedoen kan word om die oesproduksie te optimaliseer. Nog 'n boeiende aspek van my werk is navorsing en ontwikkeling. Die opstel van nuwe metodes ten einde elemente van belang vir 'n spesifieke sektor te kwantifiseer, is nogal interessant.

Volgens Suleiman is die basiese konsepte wat hy in vakke soos Biochemie en Mikrobiologie geleer het, van toepassing in sy sektor. “Al die literatuuroorsigte, statistiek en wetenskaplike verslae wat ek moes skryf op universiteit het my gehelp om die wetenskapswêreld hier buite te betree." Hy voeg by dat statistiek 'n fundamentele vak is wat in die wetenskapswêreld benodig word – “in die laboratorium word MS Excel jou beste vriend."

“My raad aan studente is om so veel as moontlik te leer. Wees altyd ontvanklik vir leer, nie net van diegene met meer akademiese kennis as jy nie, maar ook van mense met kennis van die praktyk. Leer moet nooit ophou nie," sê Suleiman.

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.
Op die foto: Suleiman Sungay. Foto verskaf