Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van wiskunde tot die bou van modelle vir die voorspelling van oseaangolwe in Nieu-Seeland
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

“Wees 'n kritiese denker! Moenie net dinge as waar aanvaar nie. Soek die bewyse en leer hoe om logiese argumente te bou en afleidings te maak." – Dr Christo Rautenbach, MSc in toegepaste wiskunde (2009) van die Universiteit Stellenbosch en twee doktorsgrade: een van die Telemark Universiteitskollege in Noorweë en een van die Universiteit van Waikato in Nieu-Seeland. Hy is ook 'n voormalige lid van die Natuurwetenskappe se studentekomitee  (NSK) by die US.

Dr Christo Rautenbach is 'n wetenskaplike wat werk met die fisiese prosesse by die kus en riviermondings by die Nasionale Instituut vir Water en Atmosferiese Navorsing (NIWA) in Nieu-Seeland. In 2005 verwerf hy sy BSc-graad in Wiskundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). In 2007 voltooi hy ook sy HonsBSc in Toegepaste Wiskunde en hierna sy MSc in Toegepaste Wiskunde (2009) aan die US. Christo het toe na Noorweë verhuis waar hy sy eerste PhD by die Telemark Universiteitkollege in Proses-, Energie- en Omgewingsingenieurswese verwerf het. Hierna het hy 'n tweede PhD in Aardwetenskappe (Fisiese Oseanografie) aan die Universiteit van Waikato in Nieu-Seeland verwerf.

Sy huidige pos by NIWA behels primêr die bou van voorspellingsmodelle vir oseaangolwe en -strome. Hierdie werk is gebaseer op sy ondervinding in toegepaste wiskunde. Hy dra by tot interdissiplinêre navorsing op die gebied van kushidrodinamika, sedimentvervoer en waterkwaliteit as deel van'n groter groep modelleerders in NIWA.  “Ek loop hierdie simulasies op superrekenaars en dus moet ek ook vlot in programmeertale wees," sê Dr Rautenbach.

Hy doen ook baie werk om wetenskap aan beleidsmakers te kommunikeer: “Ek werk met ekoloë en antropoloë. Uiteindelik kan my werk wette verander  – veral dié wat met klimaatsverandering te make het."

Die aspek van sy werk wat Christo die meeste geniet, is dat dit nooit vervelig is nie en dat geen twee dae of projekte dieselfde is nie. Hy is ook trots daarop dat sy werk 'n tasbare verskil in kusgemeenskappe maak.   

Dr Rautenbach sê dat sy studies aan die Universiteit Stellenbosch hom gehelp het om krities te leer dink: “Die Universiteit Stellenbosch se wiskunde en toegepaste wiskunde was hiperuitdagend maar het die grondslag gelê vir my loopbaan. Nou, as senior wetenskaplike staan ek uit bo die res as gevolg van my stewige grondslag," sê hy.

Dr Rautenbach se raad aan voornemende studente wat in hierdie veld belangstel, is: “Wees 'n kritiese denker! Moenie net dinge as waar aanvaar nie. Soek die bewyse en leer hoe om logiese argumente te bou en afleidings te maak. Dit gesê, sal dit jou baie help om pragmaties en resultaat-gefokus te wees, in plaas daarvan om in onnodige beesonderhede te verdwaal. Laasgenoemde kom neer op wysheid en leer uit ervaring."

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.

Op die foto, Dr Christo Rautenbach. Foto verskaf